Gebore
30 Okt. 1892
OORLEDE
22 Nov. 1980
UNIVERSITEIT
BA (Grey); US
GELEGITImeer
1917
ORDEN
1918
STANDPLASe
1918 Ermelo (Hpr.)
1919 Ermelo
1920 Lichtenburg
1931 Armesorgsekr., Transvaalse Kerk
1935 Kommissaris Volkswelsyn
1938 Kaapstad
1943 Armesorgsekr., Kaapse Kerk en Alg. Sekr. Barmhartigheid, Kaapse Kerk
EMIRITEER
1970
Dr Pieter Du Toit (30.10.1892 – 22 Nov. 1980); een van die vernaamste baanbrekers op die gebied van ons Kerk en volk se barmhartigheids- en welsynsdienste, is op die hoë leeftyd van 88 jaar aan sy woning in Milnerton by Kaapstad oorlede. Nagenoeg sy hele lewe was aan die opheffing van sy minderbevoorregte geloofs- en volksgenote gewy en tereg kon sy vriend, oud-Staatspresident C R Swart, hom een van die Gideonsbende van jonger manne en vroue noem wat die strewe en stryd vir die herrysenis en heropbou van ons volk met oortuiging, idealisme, ywer, geloof en moed ‘aangedurf het. Hy is op Philipstown gebore waar sy vader, ook Pieter du Toit, toe predikant was, maar hy word op Edenburg groot waarheen die gesin 1894 verhuis het. Na sy skooljare op Edenburg en Boshof gaan hy na die destydse Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein waar hy die BA-graad verwerf. Van 1913 tot 1917 is hy vir sy teologiese opleiding op Stellenbosch. Terwyl hy beide in Bloemfontein en op Stellenbosch ook ‘n leidende rol in die studentelewe speel, is hy daar, soos reeds in sy skooljare, ‘n kranige sowel as ‘n veelsydige sportman. Na sy legitimasie einde 1917 word hy 13 Apr. 1918 as hulpprediker van Ermelo bevestig en iets meer as ‘n jaar daarna word hy die gemeente se vaste leraar. In 1920 aanvaar hy ‘n beroep na Lichtenburg, waar hy as jong predikant heel gou te kampe kry met die probleme wat die geweldige toestroming van mense na die diamantdelwerye meebring. Hier word hy dan ook deur sy persoonlike kennismaking met die nood en ellende van medemense geskool vir die barmhartigheidsdiens wat later sy lewenstaak word. Begin 1931 aanvaar hy sy pligte as die Transvaalse Kerk se armesorgsekretaris. As sekretaris van die Armesorgraad van die Gefedereerde NG Kerke van wie die inisiatief vir die hou van die eerste volkskongres oor die armblankevraagstuk vroeg Oktober 1934 op Kimberley uitgegaan het, speel hy saam met wyle dr H F Verwoerd ‘n sleutelrol in die beplanning en organisasie van die histories belangrike byeenkoms. Hy tree as sekretaris van die kongres op en van die voortsettingskomitee van 28 lede wat die besluite wat daar geneem is, moet uitvoer, is hy die voorsitter en dr Verword die ondervoorsitter. Een van die uitvloeisels sal die beraadslagings was die oprigting van ‘n afdeling Volkswelsyn binne die destydse Departement van Arbeid. Daarvan word ds Du Toit 1935 die eerste kommissaris en in die hoedanigheid doen hy nie alleen baie vir die grondlegging en uitvoering van die Staat se welsynsdienste nie , maar lewer hy ook ‘n belangrike bydrae tot die totstandkoming van ‘n volwaardige Departement van Volkswelsyn. In 1938 keer hy egter na die gemeentelike bediening terug toe hy ‘n tweede beroep na Kaapstad, met die Seepuntwyk as sy besondere werkkring, aanvaar. Van begin Oktober 1943 tot sy uittrede 30 Mrt. 1970 op 77-jarige leeftyd, verrig hy as armesorgsekretaris (sedert 1960 sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid) ‘n reusetaak. In die tyd word die Kerk se maatskaplike sorg in verskeie opsigte aanmerklike uitgebou, terwyl die aantal kerklike inrigtings ook vinnig vermeerder. Onder andere het hy die grootste aandeel aan die stigting van Christelik-maatskaplike rade, asook van die ondersoek na die verstedeliking van die Afrikaner en veral aan die totstandkoming van die Hugenote-Kollege op Wellington vir die opleiding van kerklike maatskaplike werksters. Van die begin af is hy voorsitter van die kollegeraad en later word die betrekking van rektor hom aangebied, maar hy wys dit van die hand. Verder kom die Goeie Hoop-Behuisingsmaatskappy onder sy leiding tot stand, terwyl hy ook as voorsitter van die bestuursrade van talle kerklike inrigtings en ondernemings soos die Jan Kriel-Skool, Ramot, die ou Kakamasnedersetting, die Volkshospitaal en die Alta du Toit-Sentrum dien. Tot op gevorderde leeftyd behou hy sy liggaamlike en verstandelike vermoëns in so ‘n mate dat hy sy taak steeds met ‘n bewonderenswaardige frisheid van gees en helderheid van insig benader. Kort voor sy uittrede ken die jong Universiteit van Port Elizabeth aan hom ‘n eredoktorsgraad ter erkenning van sy groot werk op verskillende terreine toe. Sy gedagtes kon hy altyd in keurige taal uitdruk en daarby was hy besonder vaardig met die pen. Van sy hand verskyn daar dan ook ‘n halfdosyn of meer belangrike werke wat lig op die kerklike barmhartigheidswerk en op sy aandeel daarop werp. is1 sy aftrede word sy baie lesenswaardige lewensverhaal met die welwillende ondersteuning van die Kaapse Kerk se SKDB onder die titel “Die Salf van eie Gom” uitgegee. Hy was voorwaar ‘n sterk leier, ‘n stewige volksman, ‘n man met vergesigte en ‘n kerkman uit een stuk. Ds Pieter du Toit (Drieankerbaai) was sy oudste seun en dit was, sover ons weet, die eerste keer drie geslagte met dieselfde voornaam in ons Kerk in die bediening gestaan het. (Jaarboek 1982/256).