Gebore
10 Okt. 1924
OORLEDE
12 Sept. 2005
UNIVERSITEIT
BA (UP)
GELEGITImeer
1949
ORDEN
1950
STANDPLASe
1954 Klipriviersberg
1956 Rustenburg-Oos
1962 Worcester
1968 Springs-Oos
1972 Selcourt
1977 Rietfontein-Noord
1983 Sundra
EMIRITEER
1987
Ds Pieter Du Toit (BA) (10 Okt. 1924 – 12 Sept. 2005)
Petrus Jacobus Du Toit is op 10 Oktober 1924 op Libertas in die distrik Senekal in die Vrystaat gebore. Sy grootouers aan vaderskant, Petrus en Cornelia du Toit, boer aanvanklik in die distrik Graaff-Reinet en later op Cornelia in die Noord-Vrystaat. Sy grootouers aan moederskant is Antonie en Rachie Heyns, wat op die plaas De Hoop in die distrik Senekal boer. Hy was besonder geheg aan hierdie oupa en ouma, hulle nabyheid en invloed beteken vir hom baie in sy vormingsjare. Pieter se ouers is Petrus Jacobus du Toit en Gesina Heyns. Albei dien die Here in die onderwys, eers op Libertas en later op Senekal en Kroonstad.
Pieter begin sy skoolopleiding op hulle plaas Libertas en matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Senekal. Hy vertrek na die Universiteit van Pretoria waar hy hom bekwaam vir die onderwys en behaal die BA-graad, maar voel toe reeds sterk geroepe om predikant te word. Hy studeer verder en bekom kwalifikasies in Grieks en Hebreeus en kry toegang tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Na vier jaar van studie word hy aan die einde van 1949 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Proponent Pieter du Toit aanvaar ‘n beroep na die NG Gemeente Vosburg in die Groot Karoo, waar hy op 29 April 1950 met handoplegging ontvang en bevestig word. Die rede by die geleentheid word gelewer deur sy oom, ds Dawie Lubbe. Hy lewer sy intreepreek uit Mark 16:15 en 20. In die jare was die Groot Karoo nog dig bevolk en die pragtige groot kerkgebou in die middel van die dorpie ‘n ware sieraad vir almal, dit was gepak met dankbare lidmate. In sy dienstyd is hy ook betrokke by die sending en ‘n nuwe sendingpastorie word op Vosburg gebou.
Na vier geseënde jare roep hy die wye vlaktes van die Karoo vaarwel en word op 6 Februarie 1954 leraar van die NG Gemeente Klipriviersberg in Johannesburg. Op 1 September 1956 word hy leraar van die NG Gemeente Rustenburg-Oos, waar hy hom beywer vir die bou van ‘n nuwe kerksaal. Na vier jaar word hy in 1962 herder en leraar van die NG Gemeente Worcester in die hart van die Boland. Hier is hy aktief betrokke en is ‘n aanwins vir sy kollegas in die ringsgebied. In 1968 neem hy ‘n beroep aan na die NG Gemeente Springs-Oos, waar hy betrokke is by die restourasie van die kerkgebou en die bou van ‘n nuwe kerksaal. In 1972 neem hy ‘n beroep aan na Selcourt, waar hy betrokke is by bouwerk en die oprigting van ‘n kerksaal.
In 1977 neem hy ‘n beroep aan na die NG Gemeente Rietfontein-Noord in Pretoria, waar hy werk tot in 1983 toe hy in sy laaste gemeente Sundra bevestig word. Dwarsdeur sy bediening was hy betrokke by sinodale en ringskommissies, waar hy sy belangstelling in die sending en jeug kon uitleef. Ds Pieter du Toit was lief vir huisbesoek en leef na aan sy mense. Na ‘n ernstige motorongeluk herstel hy nooit volkome nie en aanvaar op 22 September 1987 sy emeritaat.
Ds Pieter du Toit is op 5 April 1950 met Lenie du Toit op Worcester getroud, haar ouers was boere by De Doorns. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Petrusis getroud met Elma du Toit. Hy was senior lektor in Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en is tans hoof van ‘n onderwyskollege in Zambië. Magdel is getroud met David Schroeder. Albei doen beskutte arbeid by ‘n epilepsie-inrigting in Springs. Danie is ‘n bedryfsielkundige in Randburg en is getroud met Elsa Peens. Anton is getroud met Marietjie Snyman en is ‘n sersant-majoor in die SA Lugmag in Centurion.
Na ‘n ernstige beroerte word ds Pieter du Toit in die hospitaal opgeneem, sterf op 12 September 2005 en word twee dae later vanuit die NG Gemeente Presidentsoord in Springs begrawe. Ds Jan Lourens bedien die Woord uit Psalm 27, ds Wim Muller doen die bedankings en Petrus du Toit lewer namens die gesin ‘n huldeblyk. Sy vrou Lenie skryf: “Hy was ‘n baie liefdevolle mens met ‘n fyn humorsin. Hy was ‘n toegewyde werker in diens van sy Meester, nederig en plat op die aarde en geliefd in elke gemeente. Vir sy kinders en kleinkinders was hy ‘n wonderlike pa en oupa. Al die lof en eer aan ons Heer vir sy genade onbeskryflik groot”. (Jaarboek ).