Du Toit, Paul Albertus

 

Gebore

26 Sept. 1927

OORLEDE

26 Okt. 2009

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1951

ORDEN

1953

STANDPLASe

Aranos

1957 Otavi

1961 Windhoek-Eros

EMIRITEER

4 Des. 1988

Ds Paul Du Toit (BA) 26 Sept. 1927 – 26 Okt. 2009

Paul Albertus du Toit is in ‘n wa gebore naby Kuruman terwyl sy ouers op trek was met hulle vee op soek na beter weiding. Hy het altyd geterg dat sy geboorteplek die rede is vir sy liefde vir reis. Sy vader was Paul Albertus du Toit, ‘n boer, en sy ma Christina Susanna Mans, ‘n onderwyseres wat ‘n plaasskool op hulle plaas, Beeswagter, geopen het.

Ds Paul se seun en naamgenoot skryf oor sy pa se kinderjare: “Hy het dikwels gepraat oor die moeilike Depressiejare en hoe sy ouers gelowig afhanklik van die Here hulle taak verrig het. Sy ma moes ook die skool van kos voorsien en toe die voorrade eendag opraak, het sy gebid en ‘n wonderwerk gevra. Toe sy van haar knieë opstaan, stop die wa van ‘n Joodse handelaar op die dorp met voorraad wat hy wou weggee.” Later was Paul ‘n leerling aan die Hoërskool Fraserburg, waar hy in 1944 gematrikuleer en uitgeblink het as ‘n kranige rugbyspeler en atleet.

Tydens ‘n erediens op Fraserburg het Paul die roeping gekry om predikant te word, maar daar was nie geld om te studeer nie. Na kinderlike vertroue en gebed het die Here voorsien sodat hy aan die Universiteit van Stellenbosch kon studeer, en einde 1951 is hy as proponent gelegitimeer. Op Stellenbosch was hy lid van prof Gawie Cillie se Kweekskool koor. Aan die begin van 1952 is proponent PA du Toit as hulpleraar in Retreat in die omtrek van Muizenberg aangestel.

Sy eerste beroep was na die NG Gemeente Aranos in die voormalige Suidwes, en op 22 Junie 1957 is hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Otavi, waar hy met die geboorte van sy eerste seun ‘n laning bome geplant het. Vyf-en-twintig jaar later, met die gemeente se kwart eeufeesviering, het ds Paul as aktuariusvan die NG Kerk in Suidwes-Afrika ‘n funksie onder dieselfde bome bygewoon. Op 30 September 1961 het hy leraar van die NG Gemeente Windhoek-Eros geword, waar hy gewerk het totdat hy op 31 Maart 1967 as leraar van die NG Gemeente Robertson in die Boland bevestig is. Tydens sy bediening in die gemeente het hy die aardbewing by Tulbagh, Wolseley en Ceres beleef, en self vanuit sy woonwa in die gebied gaan hulp verleen.

Na slegs drie jaar in die Republiek het hy na Suidwes-Afrika teruggekeer en op 10 Oktober 1970 leraar van die NG Gemeente Windhoek geword. Hier was hy lid van die Kollegeraad van die Onderwyskollege in Windhoek en het hy in die kuratorium van die Fakulteite Teologie op Stellenbosch en Pretoria gedien.

Ds PA du Toit het op 4 Desember 1988 sy emeritaat aanvaar, maar steeds gereeld gepreek en afgelos waar hy die geleentheid kon kry. Na die aftrede het hy en sy vrou, Huibrecht, hulle op Glentana gevestig, en in 2001 na Somerset-Wes verhuis voordat hulle in 2005 finaal na die Strand getrek het. Paul is op 26 Oktober 2009 oorlede en onder blyk van groot belangstelling begrawe.

Ds Paul is op 2 Mei 1953 met Huibrecht Catharina Badenhorst, ‘n musiekonderwyseres, getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Renda, Paula, Paul, en Eunic. Paul skryf oor sy pa: “Vir hom was Skrif getroue prediking en toegewyde pastoraat die kern van sy roeping.”

Die Sinode van Namibië skryf in hulle nuusbrief oor hom: “Paul du Toit het ook sy voetspore in die kerkverband nagelaat. Van 1977 tot 1987 het hy as moderator van die destydse Suidwes Sinode gedien. Sy passie was veral by die sending. By beide die ring en sinode het hy insette op Sending terrein gelewer wat ‘n verskil gemaak het. Oom Paul het ‘n formidabele versameling musiek besit. Hy het graag vertel dat hy deur sy hele bediening die geldjie wat hy gekry het vir troues, aan plate bestee het. Toe hulle eerste aftreehuis in die Suid-Kaap ‘n hele klompie jare gelede deur ‘n brand in puin gelê is, het vele van oom Paul se plate in die slag gebly.”

Dr Pietie le Roux getuig in ‘n huldeblyk: “Hy was lief vir woorde, maar veral vir die Woord. Dit het sy denke gerig en hy het hom gemaklik laat meesleur deur die stroom van God se Woord-inspirasie. Sy prediking was poëties en sensitief, met ‘n daadkrag wat die hoorder diep aanspreek. Sy leierskap was nooit outoritêr nie. Hy was eerder die verwonde leier wat, soos

Christus, soms ‘n doringkroon moes trotseer. Hy het geweet wat dit beteken om met trane te saai en het ook soms, vooruitskouend op die beloftes van God, die gerwe met blydskap en verwondering kon inbring.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM.