Du Toit, Nicolaas Johannes

 

Gebore

09 Jun. 1925

OORLEDE

19 Jul. 2005

UNIVERSITEIT

Sendin Inst. BA (HUK)

GELEGITImeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASe

1958 NGSK Garies/ Kamieskroon

1961 NGSK Pofadder

1965 NGSK Napier

1968 NGSK Nuwerus

1972 NGSK Loerisefontein

1977 NGSK Porterville

EMIRITEER

30 Junie 1985

Ds Nicol Du Toit (BA) (09 Jun. 1925 – 19 Jul. 2005)

Nicolaas Du Toit is op 9 Junie 1925 op Nachtwacht in die distrik Bredasdorp gebore. Sy ouers was Francois Jacobusdu Toit en Anna Margaretha van Noordwyk, wat op 3 Augustus1925 hulle seuntjie in die geskiedkundige kerkgebou op Bredasdorp laat doop het. Enkele maande later sterf sy moeder onverwags op 25 Februarie 1926 aan maagkoors, ‘n groot skok vir die gesin. Klein Nicol kom onder die sorg van Gabriël Francois Human en sy vrou Jacoba Margaretha, wat hom as eie kind grootmaak en met liefde versorg. Nicol is van sy tweede jaar af sieklik en ‘n epileptiese lyer.

Nicol ontvang vanaf 1931 sy eerste skoolopleiding op Wydgelegen (Ouplaas) en ervaar as plaasseun die gasvryheid en liefde van die mense in die Rhens. Van 1940 tot 1944 is hy skolier aan die Hoërskool Bredasdorp, waar hy in die skoolkoshuis op 27 Mei 1942 ‘n keuse vir die Here maak. Na matriek gaan werk Nicol by Boland Bank op Bredasdorp maar is verplig om weens hewige epileptiese aanvalle sy werk te staak. Hierna werk hy in ‘n winkel op Ouplaas wat ook dien as agentskap vir die poskantoor en telefoonsentrale. In die lente van 1945 is die roeping om sendeling te word oorweldigend en hy deel dit met sy ouers, wat hom afraai om predikant te word agv. sy siekte. Hy volhard in sy roeping en begin in 1947 as student aan die Sending-Instituut op Wellington, waar hy die BA-graad by die Hugenote-Universiteitskollege behaal. Sy vrou skryf dat die Here op Wellington vir Nicol volkome genees en dat hy tot met sy dood nooit weer ‘n epileptiese aanval gekry het nie. Dit was vir die familie ‘n wonderlike oomblik toe Nicol aan die einde van 1952 as sendeling in die Moederkerk op Wellington gelegitimeer word.

Eerw Nicol du Toit word vroeg in 1953 as sendeling in die NGSK Garies-Kamieskroon bevestig, ‘n wonderlike begin in Namakwaland met sy kosbare mense. In die winter van 1961 word hy sendeling op Pofadder in die Boesmanland, waar hy uitstekende werk lewer en onthou word as iemand met ‘n luisterende oor en ‘n hart wat verstaan. In die tyd besluit die NG Sinode om na die sluiting van die Sending-Instituut die titel van “eerwaarde” te verander na “dominee”, ‘n besondere oomblik in die kerk van die Here. In 1965 word hy leraar in die NGSK Napier, die wêreld waar hy opgegroei en mens geword het. Mense vertel vandag nog dat hy op ‘n dag by ‘n plaasbasaar op Napier met ‘n koffer opgedaag het en vyf groot versierde koeke gekoop het. Hy het dit rustig in sy koffer gepak en weggestap asof dit ‘n koffer vol klere was, mense het lank na die basaar nog gepraat van die sendeling wat op ‘n eienaardige manier koek vervoer het.

Aan die begin van 1968 is die roepstem en verlange na Namakwaland so groot dat hy ‘n beroep as leraar na die NGSK Nuwerus aanvaar. Ds Nico vertrek in 1972 na die NGSK Loeriesfontein, waar die egpaar met groot vreugde werk. Tydens huisbesoek op plase het hy ook vir die sendingdankfees gekollekteer. ‘n Mooi onderlinge verhouding is met die boere opgebou. In 1977 aanvaar hy ‘n beroep na die NGSK Porterville in die Swartland, waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 30 Junie 1985. In byna elke gemeente wat hy bedien, word skole gebou en op Porterville beywer hy hom vir die bou van ‘n nuwe kerkgebou.

Nicol is op 25 Februarie 1956 getroud met mej Nettie van Wyk, ‘n boorling van Kamieskroon wat as maatskaplike werker aan die Hugenote-Kollege op Wellington studeer, waarna sy by die CMR-kantoor, Parow, werksaam is. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Elria, Francois, Retha en Johannes.

Na sy aftrede vestig die egpaar hulle op Hartenbos waar ds Nicol met vreugde sy stokperdjie, hengel, beoefen. Hulle verhuis op 25 Februarie 2003 na die Serenitas-afteeoord in die Strand. Ds Nicol sterf op 19 Julie 2005 en ‘n gedenkdiens word deur ds Awie Brand gelei met 1 Kor. 2:2 as teksvers. Nettie skryf “Vir my was dit ‘n voorreg uit die hand van die Vader om saam met Nicol in sy diens te kon wees. Ek glo God het dit buitengewoon geseën, maar ek glo nie dat ek bevoeg is om daaroor uitspraak te gee nie. Dit was Koninkryksewigheidswerk waaroor God alleen uitspraak kan gee.”