Du Toit, Matthys Michiel * 1941

 

Gebore

2 Maart 1941

OORLEDE

3 September 2014

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1966

ORDEN

1967

STANDPLASe

1967 Benoni-Wes

1970 Fouriesburg

1977 Waterbron

1985 Tafelberg

EMIRITEER

2005

Matthys Michiel du Toit is op 2 Maart 1941 in Kaapstad gebore. Hy is die seun van Pieter en Annie du Toit. Thys begin in 1947 sy eerste skooljaar aan die Laerskool Tiervlei, met sy pa as die skool se onderhoof. Sy moeder was ‘n geesdriftige politieke organiseerder. Later word Pieter onderwyser op Norvalspont as hoof by die Laerskool Bucklands in die Douglas-distrik. Die Du Toits neem ‘n Duitse wesie, Ryno, aan. Maar die gesin word in rou gedompel toe Ryno verdrink.

Thys matrikuleer aan die Hoërskool Douglas. Ds. Johan Botes skryf hieroor: “Van sy medeleerlinge op Douglas onthou hom as ‘n uiters skrander leerling. Stil, teruggetrokke en denkend.”

Die jong Thys voel geroepe om predikant te word en hy begin sy studie aan die destydse UOVS, waar hy in 1961 ‘n BA (Admissie)-graad verwerf. In 1962 neem hy nog twee jaarkursusse in Hebreeus en Grieks en hy begin in 1963 met sy studie aan die Universiteit Pretoria se Fakulteit Teologie (Afd B). Hier word hy aan die einde van 1967 as proponent gelegitimeer. Tydens sy studiejare in Bloemfontein ontmoet hy Hendrina Francina (Hennie) Burger, met wie hy in 1966 trou. Uit die huwelik is daar drie kinders gebore: Marie, Pieter en Annelise.

Dr Dolf de Beer en prof Daan Pienaar, Thys se jare lange vriende, skryf: “Thys was ernstige student wat baie en wyd gelees het. Hy was ‘n ernstige persoon, maar iemand wat met verrassende humor vorendag gekom het. Hy het gepoog om elke probleem en voorgestelde oplossing goed te deurdink, en hy was bedag op die moontlike gevolge van ‘n bepaalde besluit. So het hy tydens sy teologiese opleiding op ‘n keer sy studies gestaak. Hy het gaan dink’ . Tydens ‘n erediens wat deur dr Murray Janson gelei is, het die Here die lig vir hom laat deurbreek dat hy ‘n roeping het om na te streef.”

Prop MM du Toit word in 1967 met handoplegging in die NG Gemeente Benoni-Wes bevestig. Toe reeds was dit duidelik dat hy ‘n talentvolle prediker, ‘n pligsgetroue pastor, ‘n ywerige student en ‘n pleitbesorger vir waarheid en geregtigheid was.

Op 20 Junie 1970 word hy herder en leraar in die NG Gemeente Fouriesburg. In die Oos-Vrystaat ervaar die gesin baie liefde. Op 28 Mei 1977 word hy as leraar in die NG Gemeente Waterbron buite Bloemfontein bevestig — maar nog voor sy bevestiging beroep Fouriesburg hom weer. Hy bedank egter die beroep.

Tydens sy bediening in Waterbron begin sekere dinge in die kerk hom pla en hy laat sykritiese stem hoor. Hieroor skryf sy vriend, ds. Johan Botes: “In 1981 bedank hy as predikant van die NG Kerk. Dit het gebeur ra ernstige meningsverskil tydens die Vrystaatse sinodesitting en ook daarna. Enersyds was dit vir hom ‘n pynlike besluit, maar andersyds was dit vir hom ‘n groeityd … Maar steeds was daar ‘n intense hunkering na die predikantsbediening.”

Sy vrou, Hennie, gee ‘n breër perspektief: “Thys wou hom ‘n ruk lank buite die aktiewe bediening stel. Hy wend hom tot die finansiële wêreld en aanvaar ‘n bestuurspos by Liberty Life. Hier doen hy kosbare finansiële ervaring op, en toe hy na die bediening terugkeer, kon hy sy waardevolle insigte vrugbaar in die kerk terugploeg.”

Prof Dawid de Villiers van die Kweekskool op Stellenbosch moedig hom aan om terug te keer na die amptelike gemeentebediening. Hy doen toe ‘n colloqium doctum en word in 1985 na die NG Gemeente Tafelberg in Kaapstad beroep. Sy bediening in hierdie gemeente, tot met sy aftrede in 2005, dra ‘n sterk pastorale inslag. Oor die tyd word daar onder meer gesê: “‘n Wonderlike tydperk breek vir die gemeente en die mense van Kaapstad aan. Die gemeente Tafelberg sal Thys altyd dankbaar bly vir sy visie om ‘n parkeergarage te bou ten einde die sukkelende gemeente se finansiële toekoms te verseker.”

Hennie skryf: “Thys het huisbesoek as baie belangrik beskou. Hy het geglo dit bring interaksie tussen jou en die lidmate. Hy het gevra: Hoe kan jy preek as jy nie na die lidmate luister om hulle behoeftes te wete te kom nie? Hy het ook ‘n spreekkamer ingerig waar lidmate kon besoek aflê. Talle mense uit die stad het daarvan gebruik gemaak.”

Dr Dolf de Beer skryf: “Thys was uitgesproke oor sake wat na sy mening verkeerd gehanteer word. `Ek is bekommerd oor die kerk en dit laat my vreemd voel,’ het hy soms gesê. En: `Ek voel my egter tuis in die kerk in God se hart.’ Hy was besorg oor leraars wat, dikwels om redes buite hulle beheer, finansieel swaar gekry het. Hy het dit meer as een keer as oortuiging uitgespreek dat die kerk ‘n barmhartigheids roeping het om lidmate en leraars wat nie die mas opkom nie finansieel by te staan.”

Ds. Johan Botes, wat as leraar by die NG Groote Kerk in Kaapstad nou met hom saamgewerk het, skryf: “Thys was ‘n wakker en ‘n skerp teoloog. Hy het baie gelees en baie gereis. Hy kon op ‘n toepaslike wyse verskeie teologiese denkers aanhaal om sy argument te staaf. Hy het homself beskou as ‘n soort brugbouer, veral in die tyd van hewige debatte rondom apartheid. Tog het juis dit tot baie spanning by hom gelei. Hy het ook later baie ernstige kritiek gelewer op die verwringing van die demokrasie deur ‘n nuwe elite. Thys het altyd sterk in die verband van sy kerk meegeleef, in ring en sinode. Sy vaardigheid met die pen was een van sy sterkpunte. Hy het altyd getroue eksegese gedoen met die oog op sy prediking. Daarom het sy preke altyd ‘n besondere diepte gehad.”

Thys aanvaar in 2005 sy emeritaat en die egpaar vestig hulle in Durbanville. Hulle word lidmate van die NG Gemeente Welgemoed. Hy word siek en ly drie jaar lank aan kanker. Hy sterf op 3 September 2014 en ‘n begrafnisdiens word in die NG Gemeente Welgemoed deur ds. Nelis Janse van Rensburg waargeneem.

Op 3 September 2014, tydens die sitting van die Ring van Kaap die Goeie Hoop, word ‘n onbestrede mosie aanvaar wat deels so lui: “Hierdie begaafde

seun van die kerk het met groot seën vanaf 1985 tot met sy aftrede in 2005 in die Ring van Kaap die Goeie Hoop gewerk. Op finansiële gebied het hy ‘n reusebydrae gelewer. Hy was bekend daarvoor dat hy met groot pastorale bewoënheid geywer het om predikante en gemeentes te help wanneer daar geldelike nood was.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).