Gebore
07 Febr. 1907
OORLEDE
20 Jul. 2002
UNIVERSITEIT
BA (UOVS), MA Sos, LL.B.
GELEGITImeer
1931
ORDEN
1932
STANDPLASe
1932 Verkeerdevlei
1937 Prins Albert
1943 Springfontein
1945 Steynsrus
1947 Reitz
1959 Gordonsbaai
1962 Petrusburg
EMIRITEER
–
Ds Lourens ErasmusDu Toit (BA, MA SOS, LL.B.) 07 Febr. 1907 – 20 Jul. 2002
Louwtjie du Toit is op 7 Februarie 1907 in die Oorlogsweeshuis op Brandfort gebore. Sy vader, ‘n boer, se naam was ook Lourens Erasmus du Toit, en sy moeder was Cornelia Margaretha le Roux, in daardie stadium onderwyseres en huismoeder van die weeshuis op Brandfort. Die weeshuis is vernoem na “Moeder Du Toit”.
Louwtjie het die laerskole Greylingsrust op Bultfontein (1914); Wilgerfontein op Brandfort (1915 tot 1917) en Brandfort (1918 tot 1919) bygewoon. Sy hoërskoolopleiding was aan Brandfort (1920 tot 1921) en Winburg (1922 tot 1923); Hy het as 16-jarige matriek in die eersteklas geslaag en die Thomas Robertson-beurs (£100 per jaar) is aan hom toegeken om by die Universiteitskollege in Bloemfontein te studeer.
In Bloemfontein het ds Du Toit ‘n BA-graad in Klassieke Tale verwerf. Daarna het hy na die Kweekskool op Stellenbosch (1928 tot 1931) gegaan en is hy in Desember 1931 gelegitimeer. Na sy studies het hy in die huwelik getree met Johanna Margaretha Maartins. Hulle is geseën met vyf kinders, Anna (wat op 18-jarige ouderdom oorlede is, en ‘n groot invloed op sy bediening gehad het); Lourens Ebenhaeser, Cornelia Margaretha, Elsa en Paul Jacobus. In 1997 was daar reeds 12 kleinkinders en het dit vir hom groot smart veroorsaak dat een van hulle, Liese van Zyl, op pad na Upington waar sy haar onderwysloopbaan sou begin in ‘n motorongeluk gesterf het.
Hy was ‘n streng vader wat baie omgegee het vir sy kinders en uiters sorgsaam teenoor hulle was. Die hele huisgesin moes egter inval by sy bediening en nooit is sake wat gemeentelede raak, aan tafel bespreek nie.
Ds Du Toit het eers ‘n jaar lank skoolgehou op Jagersfontein (1927) en het dwarsdeur sy loopbaan hom vir die belange van kinders beywer. Hy het later in die hoofbestuur van die Nasionale Raad vir Kindersorg gedien en was voorsitter daarvan van 1958 tot 1959. Hy het ook in die Vrystaatse Welsynsraad gedien.
Na sy legitimasie was hy eers hulpprediker op Ladismith in die Kaap. In 1932 het hy ‘n beroep na Verkeerdevlei aanvaar waar hy georden en bevestig is. Vyf jaar later het hulle na Prins Albert verhuis waar hy in 1937 bevestig is. Na ses jaar het hy ‘n beroep na Springfontein aanvaar. Daarna het Steynsrust (1945); Reitz (1947); Gordonsbaai (1959) en uiteindelik Petrusburg (1962) gevolg. In 1968 het ds Du Toit weens swak gesondheid aftree.
Hy en sy vrou het hulle eers op Bloemfontein gevestig en later na Laingsburg en Parys verhuis. Sedert 1990 was hy in Ons Tuiste in Bloemfontein. Ds Du Toit het hom steeds besig gehou met sy seëlversameling, genealogiese studies en het as 90-jarige die rekenaar bemeester en begin gebruik. Hy het ook graag rolbal gespeel. Sy vrou is in 1988 na siekte oorlede.
Hy het diens gelewer op verskeie terreine en in talle kommissies gedien. Van 1952 tot 1959 was hy aktuarius van die Vrystaatse Sinode. Hy het ook later in die Moderatuur en in die Sinodale Kommissie, sowel as in die Federale Raad van die NG Kerkfamilie gedien.
Op 20 Julie 2002 is ds Du Toit oorlede. Hy het orgaanversaking gehad.
(Dirk Viljoen aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 12 Mrt. 1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy seun Louwtjie.) (Jaarboek ).