Du Toit, Hendrik Matthys Louis

Ds HML du Toit

Gebore

07 Mei. 1922

OORLEDE

29 Aug. 2007

UNIVERSITEIT

BA; SOD

GELEGITImeer

1945

ORDEN

1946

STANDPLASe

1946 Njassaland

1954 Bulawayo

1961 Wynberg

1965 Moederkerk: Die Strand

1971 Rusape

1977 Karoi

EMIRITEER

31 Jan. 1982

Hendrik Matthys Louis Du Toit is op 7 Mei 1922 op Humansdorp gebore. Louis was die tweede oudste seun van Willem Johannes du Toit en Maria Catharina Leonora van Schalkwyk. Willie was skoolhoof van die Laerskool Patensie, waar Louis van 1928 tot 1934 ‘n leerling was. Louis het in 1938 aan die Hoërskool Humansdorp gematrikuleer.

Sedert 1939 was Louis ‘n Matie, waar hy in rugby en tennis uitgeblink het. Nadat hy BA-graad behaal het, het hy geroepe gevoel om sendeling te word, en in 1943 het hy aan die Sending-instituut op Wellington begin studeer. Louis is aan die einde van 1945 as sendeling gelegitimeer.

In 1944 het hy op Wellington sy latere lewensmaat, Barendina Hough van Ceres, onderwyseres, ontmoet. Bennette het op Prins Alfred Hamlet begin onderwys gee en na Louis se legitimasie, het hy tydelik in die Ysterplaat-gemeente uitgehelp, waar sy aangetroude neef, ds Hannes Koomhof, in die bediening gestaan het. Op 30 Maart 1946 is Louis met handoplegging afgesonder vir die sendingtaak in Njassaland (Malawi); soos gebruiklik in die kandidaat se tuisgemeente, die NG Gemeente Humansdorp. Op 15 April 1946 het hy alleen vanaf Prins Albert per trein na sy toekomstige werkkring in Njassaland vertrek.

‘n Jaar later is hy op 26 April 1947 met Bennette op Ceres getroud, en hulle het direk na die troue na Njassaland vertrek. Hulle sendingwerkkring was op Malingundi, Chinthembe en Kongwe. Hulle twee seuns is in die sendinghospitaal op Nkhoma gebore: Willem Johannes (Wilkie) du Toit op 11 September 1948, en Barend Jacobus (Ben) du Toit op 4 September 1950. Ben het later in sy pa se voetspore gevolg en predikant geword. (Dr Ben du Toit is tans Direkteur: Kommunikasie van Wes-Kaap, en doen ook diens as Parlementere verteenwoordiger van die Algemene Sinode van die NG Kerk.)

In 1954 het Louis en Bennette na Bulawayo verhuis, waarhy sy werk in die Njassa-sending in ‘n nuutgestigte gemeente van die CCAP (Kerk van Midde-Afrika Presbiteriaans) voort- gesit het, steeds onder die Sinode van Nkhoma. Weens probleme met chroniese malaria was ds Louis en sy gesin begin 1961 verplig om die werksaamhede in die Noorde vaarwel te roep en terug te keer Kaap toe. Hy het verder op VVellington gestudeer vir die Senior Onderwys-diploma. Ds Louis het einde 1961 leraar in die NG Sendinggemeente Wynberg geword.

Op 26 September 1965 het ds Louis en Bennette du Toit die nuwe leraarspaar van die NG Moedergemeente Strand geword, en in 1971 het ds Louis ‘n beroep na die NG Gemeente Rusape in die destydse Suid-Rhodesie ontvang. Voor sy bevestiging op 23 Oktober 1971 het die gesin egter deur diep waters gegaan. Benette het in ‘n motorongeluk gesterf en ds Louis is ernstig beseer. Hy het eers teruggekeer Strand toe, en na sy hospitalisasie gereed gemaak vir die verhuising na Rusape. Hy is vergesel deur sy moeder, Ria, wat by hom gewoon het.

Op 23 Desember 1972 het ds Louis in die huwelik getree met Julia Nepgen. Uit hierdie huwelik is ‘n seun, Louis Cornel Nepgen du Toit, op 3 Julie 1975 gebore. Ds Louis du Toit het in 1975 assessor van die Sinode van Midde-Afrika geword en was later moderator, waar hy in ‘n krisistyd leiding geneem het. Dit was tydens die Bos-oorlog, toe hy verskeie lidmate wat in die stryd gesneuwel het, moes begrawe.

In die lente van 1977 het ds Louis leraar van die NG gemeente Karoi geword, waar hy op 31 Januarie 1982 sy emeritaat aanvaar het weens swak gesondheid. Sy dienstyd i die here se Koninkryk is ‘n mooi verhaal wat getuig van oorgawe, volharding en toewyding aan God se roeping. Tydens sy verblyf in die Strand het hy die eerste van twee hartomleidingsoperasies ontvang. Hy het sodanig herstel dat hy daarna afloswerk in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike, NG Moedergemeente op Somerset-Wes en die NG Gemeente Lourensrivier in die Strand gedoen het. Ds Louis het op 29 Augustus 2007 in die Strand gesterf, waar met deernis afskeid geneem is van ‘n besondere dienskneg wat elke oomblik aangegryp het om die Woord van God te verkondig. (Jaarboek 2009).