Gebore
01 Jan. 1935
OORLEDE
23 Apr. 2004
UNIVERSITEIT
B.A., Th.D.
GELEGITImeer
1963
ORDEN
1964
STANDPLASe
1964 Nsatzu in Zambië
1965 Kampongsending Virginia
1970 NGSK Merafong
1976 NG Kerk Pastorale spreekkamer
1986 PSD: Kliniese Pastoraat
1989 Asst-Dir: Psigopastorale Diens, Universiteit van Stellenbosch
EMIRITEER
1999
Hendrik Daniël du Toit is op 1 Januarie 1935 in Pretoria gebore, die enigste seun en tweede van vyf kinders. Sy vader was Willem Johannes du Toit en sy moeder Isabella Maria (gebore Du Toit); Hy het sy eerste skoolopleiding aan die Laerskool Hermanstad ontvang en in 1952 aan die Hoërskool Hermanstad in Pretoria-Wes gematrikuleer. Hierna het hy by ‘n maatskappy gewerk wat versekering verkoop het terwyl hy buitemuurs vir die B Comm-graad aan Wits in Johannesburg gestudeer het. In 1956 het hy die roeping ontvang om predikant te word en in 1957 het hy na die Universiteit van Stellenbosch vertrek, waar hy besondere aanleg in Grieks en Hebreeus getoon het. Hennie was iemand met ‘n aanleg vir tale en woorde wat met gemak sewe tale bemeester het. Hy het graag die Griekse Nuwe Testament gebruik vir sy stiltetyd en Bybelstudie, ‘n fees vir die ingewyde in die grondtaal waarin die Bybel geskryf is.
Aan die einde van 1963, die jaar waarin die Kweekskool ‘n volwaardige Teologiese Fakulteit op Stellenbosch geword het, is Hennie as proponent gelegitimeer na die verkryging van sy lisensiaat in teologie. Hy het hom nooit van sy 1963-klasmaats losgemaak nie, jaarliks het hy gesorg dat sy klasmaats wat in die omgewing van Kaapstad woon, gesellig saam verkeer. Nie lank voor sy dood in 2003 nie, is ‘n gesellige 40-jarige klasreunie gehou. Hennie het in sy derde jaar op Kweekskool, op 30 Junie 1962, met Quarta Odendaal getrou. Quarta was ‘n spanmaat, ‘n geesgenoot wat sy passie vir dienslewering aan mense in nood gedeel het. Albei het ‘n passie vir studie gehad en lewenslank gestudeer, en saam het dr Hennie en dr Quarta diep spore as sielkundiges getrap, ‘n voorbeeld vir almal wat bevoorreg was om hulle te ken. Later is Quarta as hoofsielkundige by die Groote Schuur-hospitaal aangestel terwyl sy ook as senior lektor in Psigiatrie aan die Universiteit van Kaapstad gewerk het. Na die 1994-verkiesing het sy parlementslid van Wes-Kaap geword en in 2000 raadslid van die Kaapse Unistad. Die begenadigde egpaar het vier kinders: Hanlie (onkoloog in Kaapstad); Willem (ingenieur op George); Ismarie (sakevrou) en Adriaan (geoloog); Elkeen is net soos hulle ouers harde werkers wat oral diep spore trap.
Prop Hennie het hom na sy legitimasie geroepe gevoel vir die sendingtaak. ‘n Beroep in 1964 as sendeling na die gemeente Nsatzu in Zambië het vir hierdie dienskneg van die Here nuwe horisonne geopen. Hy het binne drie maande die inheemse taal goed leer praat en kon in Chinaja preek, terwyl sy vrou Quarta in die sendinghospitaal gewerk het. Na slegs agtien maande in Midde-Afrika het hulle dogtertjie Hanlie ernstig siek geword en het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Die Here het ‘n nuwe deur oopgemaak, hierdie keer as sendeling na die Kampongsending by Virginia op die Vrystaatse goudveld. Hennie kon die mynwerkers uit Malawi se taal goed praat, iets wat wonderlike deure vir die evangelie geopen het. In die tyd het ds. Hennie en Quarta as vrywilligers by FAMSA begin werk. Dit was die begin van ‘n sielsvervullende pad wat uitgeloop het op ‘n lewensroeping in pastorale spreekkamers.
In 1970 het ds. Hennie ‘n beroep na die sendinggemeente Merafong in Garankuwa aanvaar. Dit het die egpaar in staat gestel om elkeen ‘n honneurs-graad in Sielkunde te verwerf. Hierna het die meestersgraad in Sielkunde gevolg. Hennie het sy internskap by Tara-hospitaal in Johannesburg gedoen en Quarta by Weskoppies in Johannesburg. Ds. Hennie was hierna deeltyds betrokke by die pastorale spreekkamer in Johannesburg saam met sy gemeentebediening. Einde 1976 is hy beroep na die NG Kerk se pastorale spreekkamer in Kaapstad waar hy toegewyde werk gedoen het. Intussen het hy die D Phil-graad in Sielkunde behaal. Sedert 1978 het hy en sy vrou landwyd en in Namibië kursusse oor huweliks- en gesinsverryking aangebied, asook jeug- en leierskapskursusse. Dr Hennie het sy eie model ontwikkel wat in sy doktorale proefskrif beskryf word, en later het hy teologiese studente en predikante in die besondere metode opgelei. Hierdie werkswyse en sy skriftelike nalatenskap is een van sy grootse bydraes tot die kerk wat hy liefhet.
In 1986 het hy predikant in spesiale ampsdiens geword met die opdrag: Kliniese Pastoraat aan die Teologiese Fakulteit Teologie op Stellenbosch en in Ringsgemeentes. As pastorale sielkundige was hy betrokke by die keuring en begeleiding van studente en predikante. In 1989 is hy deur die Universiteit van Stellenbosch aangestel as assistentdirekteur Psigopastorale Diens, eenheid vir studentevoorligting. Hier het hy diep en onvergeetlike spore in die lewens van veral jongmense getrap en het hy hom uitgeleef tot in 1999 met sy emeritaat. Na sy aftrede het hy steeds ‘n spreekkamer by sy huis behartig, selfs tot vyf weke voor sy dood. Dienslewering aan mense was vir hom sinoniem met leef.
Oor sy dood skryf sy vrou dr Quarta: “In 2003 het Hennie aan ons gesê dat sy werk afgehandel is en dat hy ‘n kort siekbed sou hê. Ons het met hom hieroor gestry, want hy was blakend gesond en fiks, het drie keer per week gholf gespeel, elke oggend gehardloop en reg geëet. In Januarie 2004 het hy vir ‘n roetine-ondersoek gegaan en na ‘n murgbiopsie is hipoplastieleukemie by hom gediagnoseer, daarvoor is geen behandeling beskikbaar nie. Tot vyf weke voor sy dood op 23 April 2004 was hy gesond, daarna was hy ‘n maand lank ernstig siek.” In ‘n huldeblyk skryf ds. Christo Albertyn, ‘n vriend en tot met sy aftrede predikant op Kimberley: “Hennie sal altyd onthou word vir sy nederige opregtheid en spontane vriendelikheid; iemand wat oorgeloop het van lewenslus. Soos Hennie gelewe het, so het hy gesterwe, vol van vreugde oor sy kindskap van die Here Jesus Christus. Dit was daarom nie vreemd dat met die dankdiens by sy heengaan, sy laaste wens ook daar oorheers het nie: Skep by die diens ‘n gees van blydskap omdat ek na my Vader en my Heiland Jesus Christus vertrek het. Gegroet Hennie’.”
Prof Hennie het voor sy dood met sy gesin sy begrafnisfees gereël. Prof Chris Greyling het die Woord uit Heb 13:7-8 bedien en lofliedere is tot eer van die Here God gesing. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek).