Gebore
27 Mrt. 1923
OORLEDE
08 Sept. 2009
UNIVERSITEIT
BA (UOVS); US
GELEGITImeer
1949
ORDEN
1950
STANDPLASe
1950 Empangeni
1960 Estcourt
1967 Empangeni
1972 Noordland-Empangeni
EMIRITEER
28 April 1984
Ds Hennie Du Toit (BA) 27 Mrt. 1923 – 08 Sept. 2009
Hendrik Daniël du Toit is op 27 Maart 1923 op ‘n plaas in die distrik Hoopstad gebore, maar hy het as een van twee kinders op Wesselsbron grootgeword. Sy pa was Hendrik Daniël du Toit, ‘n ystersmid, en sy ma Susanna Sophia Venter, ‘n huisvrou. Hennie het in 1940 aan die Hoërskool Winburg op Wesselsbron gematrikuleer, waar hy uitgeblink het in veldwedlope. Van 1941 tot 1943 het hy as klerk by die hoofkantoor van die SAS en H in Bloemfontein gewerk, maar Hennie het geroepe gevoel om predikant te word. Daarom het hy hom aan die UOVS in Bloemfontein ingeskryf en in 1945 die BA-graad behaal, met hoofvakke Sosiologie en Staatsleer. Dit het hom toegang verleen tot die Teologiese Seminarium op Stellenbosch.
Aan die einde van 1949 is Hennie as proponent gelegitimeer en het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Empangeni aanvaar, waar hy op 12 Februarie 1950 met handoplegging bevestig is. Na ‘n dekade het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Estcourt in Natal aanvaar, waar hy sewe jaar lank sy talente en gawes gedeel het. In 1967 is hy terugberoep na die gemeente in Empangeni, en is hy op 5 Augustus 1967 weer daar as leraar bevestig.
Hier was hy betrokke met die afstigting op 12 Februarie 1972 van die NG Gemeente Noordland vanaf Empangeni, en is hy na die nuwe gemeente beroep. Op 28 April 1984 het hy sy emeritaat aanvaar na ‘n leeftyd van diens in die NG Kerk in Natal as assessor, lid van die breë moderatuur (1962-1966) en voorsitter van die SSK en die SKA, waar hy sy liefde vir sending en kerkreg kon uitleef. Hy was vir die tydperk 1962 tot 1965 assessor van die Sinode Natal. Terug in Empangeni het hy in die moderamen gedien, was hy voorsitter van die SSK en tot met sy aftrede ook voorsitter van die SKA.
Ds Frans Klopper skryf oor die leraarspaar se laaste jare: “Hy en sy eggenote, Mariechen, het die afgelope sowat 10 jaar in die Tabor-tehuis vir bejaardes gewoon. Sy vrou het ‘n paar jaar gelede ‘n breinoperasie ondergaan en beide se gesondheid het mettertyd agteruit gegaan. Ds Hennie se gesondheid het die laaste paar maande verder verswak en hy het op Dinsdag 8 September in die Kingswayhospitaal in die ouderdom van 86 jaar gesterf. Hy laat sy vrou en twee kinders, Ludwig en Susan, agter.
“Die NG Gemeente Suidkus onthou ds Hennie vir sy lojaliteit aan die NG Kerk en gemeente. Hy was altyd dankbaar vir wat die NG Kerk van KZN vir die emeriti doen. Hy het tot so vyf jaar gelede nog uitgehelp met eredienste by Mooihawens en sy kort en kragtige styl het goed aanklank gevind. Tipies van ds Hennie, wat geen onnodige aandag op hom wou hê nie, het hy versoek dat daar geen formele begrafnisdiens gehou moet word nie.”- Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek ).