Du Toit, Francois Guillaume Marais

 

Gebore

8 Aug. 1913

OORLEDE

9 Nov. 1980

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1938

ORDEN

1951

STANDPLASe

1951 Asst. Alg. Sek. C.S.V.

1947 Org. Sek. C.P.G.V.

1951 Pretoria en Org. Sek. C.P.G.V

1962 Argivaris, Tvl. Kerk

1972 Dowes van Pretoria

EMIRITEER

1968

Dr Francois Guillaume Marais Du Toit (8 Aug. 1913 – 9 Nov. 1980); wat agttien jaar argivaris van die Transvaalse sinodes was, beswyk skielik ‘n hartaanval in sy huis in Pretoria. Hy is as die jongste seun van wyle ds en mev A G du Toit op Carolina gebore. Op skool sowel as later op universiteit en aan die Teologiese Seminarium onderskei hy hom as ‘n besonder begaafde leerling en student. Hy slaag dan ook matriek in die eerste klas, terwyl hy grade BA en MA met lof behaal en beide die kandidaats- en die proponentseksamen aan die Stellenbosse Kweekskool ook met lof aflê. In laasgenoemde inrigting se eeufeesjaar (1959) verwerf het die MTh- graad met ‘n skripsie oor die lewe en werk van ds H L. Neethling. Sy besondere belangstelling in die Vaderlandse Kerkgeskiedenis lei tot voortgesette studie in die rigting, totdat hy 1968 die doktorale eksamen afle en Apri11976 op ‘n proefskrif oor die groot Transvaalse kerkleier, dr H S Bosman, promoveer. Reeds vroeg in sy lewe kom sy ryke gawes en talente aan die lig. As skolier is hy redakteur van sy skool se blad en as student aldaar ook van die Universiteit van Pretoria syne. Voordat hy Kweekskool toe gaan, werk hy 1933-1934 as joernalis by Die Vaderland en aan die Kweekskool is hy vir twee uitgawes van die jaarblad Polumnia verantwoordelik, terwyl hy 1936 ook in die redaksie van die Christenstudentevereniging se 40ste verjaardag-feesbrosjure dien. By die Vaderland maak hy met Eugene Marais kennis en dit lei tot sy MA-verhandeling oor die bekende digterskrywer. Aan die einde van sy studiejare aan die Kweekskool word hy 1938 gelegitimeer. Van 1939 af staan hy agt jaar in diens van die CSV, eers as assistent-algemene sekretaris op Stellenbosch en sedert Oktober 1944 as organiserende sekretaris in Pretoria. Begin 1946 word hy hoofredakteur van Die Wekroep – The Clarion, die CSV se tweeweeklikse nuusblad, waarin Omnes Unum, die vereniging se vroeëre orgaan waarvan hy vanaf 1936 ook subredakteur en later redakteur was, opgeneem is. Augustus1947 word hy organiserende sekretaris van die Christelike Polisie- en Gevangenisdiensvereniging van Suid-Afrika en redakteur van die vereniging se maandblad Ons Dien – We Serve. Selfs toe hy later argivaris is, bly hy nog steeds vrywillig op ‘n deeltydse basis as sekretaris van die CPGV aan, totdat dit 1980 ontbind word. In sy hoedanigheid as organiserende sekretaris van die vereniging word hy November 1961 deur sy bevestiging as medeleraar in die gemeente Pretoria kerklik ingeskakel. Hier behartig hy ook die redaksie van die gemeenteblad. Toe die Transvaalse Sinode van 1961 besluit om die argivarisskap, wat tot daardie tyd eers deur ‘n rustende predikant en daarna deur ‘n afgetrede professor in die Kerkgeskiedenis waargeneem is, op ‘n vaste voet te plaas, val die keuse vir die bekleding daarvan op ds. Du Toit. Begin 1962 aanvaar hy sy nuwe betrekking en van toe af wy hy hom met ywer en bekwaamheid aan die taak om die argief behoorlik te orden en uit te bou en tegelykertyd aan navorsers die nodige hulp te bied. Na die plotselinge heengaan van ds H C J Flemming is hy ook voorsitter van die Algemene Sinodale Argiefkommissie. Gedurende al die jare spaar hy homself nie. So is hy verantwoordelik vir of werk hy mee aan ‘n hele aantal gemeentelike gedenkskrifte, terwyl hy ook ‘n geruime tyd vir verskeie tydskrifte stigtelike oordenkings lewer en etlike jarelid van die destydse Voorligter-kommissie is. Daarby dien hy ‘n aantal jare as voorsitter van Pretoria se Vereniging vir Dowes en lid van die uitvoerende bestuur van die liggaam se Nasionale raad, terwyl hy tot 1972 vyftien jaar lank maandeliks vir die dowes van Pretoria en omstreke ‘n kerkdiens hou. Die onverwagte dood van die beskeie, opregte, toegewyde en daarby bekwame, hardwerkende en diensvaardige kneg van die Here was vir die Transvaalse Kerk in die besonder, maar dan ook vir ons Kerk in wyer verband, ‘n groot verlies. (Jaarboek 1092/255).