Gebore
17 Okt. 1967
OORLEDE
07 Jan. 1995
UNIVERSITEIT
–
GELEGITImeer
–
ORDEN
–
STANDPLASe
–
EMIRITEER
–
Eben Du Toit is menslik gesproke, te vroeg oorlede. Sy aansteeklike entoesiasme, ywer, intensiteit van lewe en ervaring. sal lank onthou word deur almal wat hom geken het.
Hy is gebore op 17 Oktober 1967 te Pretoria en geniet sy laerskoolloopbaan vanaf 1974 te Fochville en matrikuleer in 1985 aan die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria, waar hy twee jaar dien as leerlingraadslid, voorsitter van die CSV is en tennis, skaak en krieket speel.
Hy voel ‘n roeping om die Here uit liefde te dien en studeer aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy BA-graad (Teologie) behaal in 1988 en sy BD-graad in 1991, waarna hy ook in daardie jaar gelegitimeer word. Sy skripsie tema was: “n Prakties-teologiese ondersoek na die gebruik van sang en musiek binne lofprysing en aanbidding.’ Dit was dan ook sy groot ander belangstelling en liefde in sy lewe, naamlik sy musiek tot eer van die Here.
In 1992 begin hy met sy diensplig en dit lei hom na Pietersburg waar hy as kapelaan dien en ook in die huwelik tree met Sonja Muntingh.
Na beroeping word hy op 29 Januarie 1994 bevestig as leraar van Pietersburg-moedergemeente. Nie eers ses maande daarna nie, word hy siek weens bloedkanker. Ten spyte van lewenskragte wat gou getap word. hou hy nog vol met huisbesoek werk, Bybelstudies. prediking en deelname aan die jeug-aksies in soverre sy kragte hom toegelaat het.
Na chemoterapeutiese behandeling sit hy sy bediening moedig voort. Hy het nooit gekla nie en dien as inspirasie vir elkeen met wie hy te doen gekry het. Tot die einde toe glo hy dat hy gesond gaan word. Op Saterdag, 7 Januarie 1995, is hy egter in sy ouerhuis oorlede.
Hy sal onder andere as vriend onthou word. Niks was vir hom te veel moeite nie. Niemand was vir hom ontydig nie en geen uitdaging te groot nie.
Verder sal hy onthou word vir sy positiewe ingesteldheid sy pastorale deernis, sy liefde vir jongmense, sy doelgerigtheid, sy praktiese instelling, sy musiekbegeleiding, sy belangstelling en algemene kennis oor verskeie sake, veral ook sy lusvir die lewe.
Eben het in sy kort 27 jaar meer uit die lewe gehaal as wat baie ander in baie meer jare doen. Daarvan het hy ook ruimskoots terug geploeg en bestee in die koninkryk van God, sy familie, eggenote en vriende.
Die teks op sy begrafnisbrief is sprekend van sy lewe: ‘Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyf oes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God. my Redder.” (Hab3:17.18).- D Haumann. effens verwerk D J Viljoen. (Jaarboek ).