Du Toit, Daniel Johannes

 

Gebore

21 Apr. 1919

OORLEDE

04 Jul. 2010

UNIVERSITEIT

BA (US)

GELEGITImeer

1944

ORDEN

1946

STANDPLASe

1946 Empangeni

1949 Bellville-Suid

1960 Bellville-Oos

1975 Sekr SKDB (Wes- en Noord-Kaapland)

EMIRITEER

3 Mei 1985

Ds Danie Du Toit (BA) 21 Apr. 1919 – 04 Jul. 2010

Daniël Johannes du Toit is op 21 April 1919 op Wolseley in Kaapland gebore, ‘n wêreld wat altyd vir hom ‘n diep bekoring ingehou het. Sy pa was Francois Philippus du Toit, ‘n tronkbewaarder, en sy ma Anna Petronella Dempers. Danie het sy skoolopleiding in 1927 aan die Laerskool Wolseley begin en in 1937 het hy op Stellenbosch gematrikuleer. Daarna het hy aan die Universiteit van Stellenbosch die BA-graad verwerf voordat hy aan die Teologiese Seminarium gestudeer en aan die einde van 1944 as predikant gelegitimeer is.

Proponent DJ du Toit is na die NG Gemeente Empangeni beroep, waar hy op 29 Junie 1946 met handoplegging ontvang en bevestig is. Hier het hy die gemeente met oorgawe bedien en was hy ook betrokke met die bou van kerksaal. Op 8 Januarie 1949 is hy as leraar van die NG Gemeente Bellville-Suid bevestig, waar hy groot liefde en deernis vir mense in nood getoon het. In die winter van 1960 is by na die NG Gemeente BellvilIe-Oos beroep, waar
by hard gewerk het en betrokke was by die bou van ‘n pastorie, kerksaal en kerkgebou. Op sinodale gebied was hy baie betrokke by die SKDB, AKDB en SJK in Kaapland, en was hy ook 13 jaar lank ringskriba in Bellville.

In 1975 is hy as sekretaris vir Diens van Barmhartigheid in die Sinodale gebied van Wes- en Noord-Kaapland beroep, ‘n pos wat by beklee het tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 3 Mei 1985. Hy het ‘n groot rol in die Kerk se Barmhartigheidsdiens gespeel en was intens betrokke by mense in nood ná die Laingsburgvloed. Hy het ook die kerk
verteenwoordig in die staat se amptelike rampkomitee.

Danie is op 14 Julie 1945 met Aletta Susanna Jordaan getroud en uit die huwelik is drie kinders gebore: Francois, Alta (dit is die Alta na wie die Alta du Toit-sentrum vernoem is) en Annette. Hulle het ook ses kleinkinders. Na sy aftrede het die egpaar hulle in 1985 in Gordonsbaai gevestig, en in 1994 na Stellenoord op Stellenbosch verhuis, waar hulle ‘n gelukkige aftrede beleef bet. Ds DJ du Toit is op 4 Julie 2010 oorlede en daar is met dankbaarheid melding gemaak van sy groot aandeel aan die NG Kerk se Barmhartigheidstaak. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM.