Du Toit, Daniel Francois

Ds DF du Toit

Gebore

24 Mrt. 1905

OORLEDE

 11 Des 1997

UNIVERSITEIT

US

GELEGITImeer

1930

ORDEN

1931

STANDPLASe

Upington (Hpr.)

1932 Upington

1933 Grootrivier

1938 Groot-Brakrivier

1943 George

1947 Goodwood

1951 George

EMIRITEER

Ds Daniel Francois Du Toit (MTh) 24 Mrt. 1905 –  11 Des 1997

Die dood van die geliefde ds Danie du Toit op 11 Desember 1997 (in die ouderdom van 92 jaar) het vir die gemeenskap van George die einde van ‘n tydperk in hulle geskiedenis beteken. Hy was die laaste van ‘n aantal `aristokrate’ wat diep spore daar getrap het.

Daniël du Toit is op 24 Maart 1905 op Merweville gebore. Sy pa het op die spoorweë gewerk en was ook ‘n leke-onderwyser. Daniël het sy skoolopleiding op Worcester ontvang en matriek in 1920 geslaag. Daarvandaan is hy na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch om sy teologiese studies te voltooi en in 1930 is hy gelegitimeer. Sy studiejare was egter ‘n baie moeilike tyd vir hom omdat sy vader in daardie tyd oorlede is. Met die hulp van welwillende mense op Worcester kon hy tog sy studies voltooi.

Hy het sy bediening as hulpprediker op 21 Maart 1931 op Upington begin. Vanaf 25 Junie 1932 was hy voltydse leraar van Upington. Hy het egter kort daarna (1933) ‘n beroep na Grootrivier aangeneem. Vyf jaar later (8 Oktober 1938) is hy op GrootBrakrivier bevestig en op 31 Januarie 1943 het hy predikant van George geword. Drie jaar later (22 Maart 1944) het hy na Goodwood gegaan, maar vier jaar daarna (10 November 1951) het hy na George teruggekeer. Hy het nog vir 16 jaar hier gewerk tot met sy aftrede in 1967, toe hy op vervroegde pensioen moes gaan omdat hy probleme met sy stem begin ondervind het. Gelukkig het sy gesondheid spoedig sodanig herstel dat hy weer deeltyds diens kon verrig in omliggende gemeentes, naamlik Outeniqualand, Mosselbaai (NG Sendinggemeente); Calitzdorp, Misgund, Blanco en Oudtshoorn. Aan die begin van 1971 het die kerkraad van George hom gevra om weer op deeltydse grondslag met die prediking en pastoraat in die gemeente te help. Uiteindelik het hy vir nog vyfjaar in die gemeente gewerk. Vir George was dit kosbare jare omdat hulle soveel liefde en waardering vir Oom Danie en sy vrou, Tannie Ruth, gehad het. Volgens sy eie getuienis was dit die gelukkigste jare van sy bediening.

Danie du Toit was ‘n predikant soos min. Sy prediking was, selfs toe hy al ‘n bejaarde man was, dinamies, aktueel en op die man af. Toe hy al oor die 70 was, kon hy nog met sy prediking die jeug aangryp en in beweging bring vir Christus. As pastor was hy ook enig in sy soort. Min leraars sou sy huisbesoeke kon ewenaar. Hy het die vermoë gehad om met ‘n kort besoek van ‘n paar minute mense se harte aan te raak en hulle vertroue te wen. Sy liefde en begrip vir en sy deernis met die mense van George was iets wat nooit vergeet sal word nie. Hy het elkeen se storie geken en op ‘n nederige en onopgesmukte manier onder hulle gelewe. Sy deur was vir almal oop, ongeag kleur, geloof of sosiale stand. Dit was aangrypend om te sien hoe mense uit alle gemeenskappe hom met blydskap en toegeneendheid op straat gegroet het.

Hy was ook vir predikante ‘n besondere kollega wat geweet het wanneer om te praat en standpunt in te neem en wanneer om stil te bly. Hy het nooit in die pad van die inisiatief van sy jonger broers gestaan nie, al het hy soms geweet dat iets nie sou slaag nie. Sy vriendskap was vir baie leraars ‘n kleinood waarsonder hulle nie sou wou klaarkom nie.

Wat sy huislike lewe betref, is hy in sy eerste gemeente, Worcester, getroud met Anna Susanna de Vos, ‘n huwelik wat na net drie maande tragies beëindig is toe sy aan maagkoors gesterf het. Op Groot-Brakrivier het hy ‘n jong onderwyseres, Ruth Scheffler, ontmoet. Haar vader was eerw Fritz Scheffler van die Rynse Sendinggenootskap en haar moeder was die dapper meisie wat destyds spesiaal na Suid-Afrika gebring is om met hom te trou. Hulle is op die dag van haar aankoms getroud. Danie du Toit en Ruth is later op Laingsburg getroud en die huwelik was vir 57 jaar ‘n voorbeeld vir almal wat hulle geken het. Hy was ‘n gesinsman en vir sy drie kinders, Ernst, Anna en Maria, ‘n rolmodel. Hulle het hom opreg liefgehad en sy sewe kleinkinders kon nie genoeg by hulle oupa en ouma gaan kuier nie.

Die Here het aan Danie du Toit ‘n lang en mooi lewe gegee. Hy het die Here en sy medemens met oorgawe gedien en sy lewe met eer afgesluit. Saam met sy familie eer die kerk God vir ‘n besondere dienskneg en word sy nagedagtenis gekoester.- ds Pierre Jordaan, effens verwerk en aangevul deur Dirk Viljoen. (Jaarboek ).