Gebore
08 Jan. 1942
OORLEDE
02 Apr. 2010
UNIVERSITEIT
BTh, BD, US
GELEGITImeer
1999
ORDEN
2004
STANDPLASe
2004 Stellenbosch Sentraal
2005 Lichtenburg-Noord
2006 Villiersdorp
EMIRITEER
–
Prof Danie Du Toit (BA, MA, ThD) 08 Jan. 1942 – 02 Apr. 2010
Daniel Albertusdu Toit is op 8 Januarie 1942 op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Sy ouers, StefanusFrancois (Fanie) du Toit en Sara Johanna (Sara) Scholtz, was boere in die distrik Herbert. Danie is in die NG Gemeente Plooysburg deur ds PA de Wet (die vader van die bekende sanger Jan de Wet) gedoop. Danie het in 1949 met sy skoolopleiding op Douglas begin, en het in 1959 aan die Hoërskool Douglas gematrikuleer. Hy was sesde op die ranglys van Kaapse matrikulante. Danie is later met Elsa, die dogter van Douglas se skoolhoof TF Malherbe, getroud.
Danie het belydenis van geloof afgelê in die NG Gemeente Plooysburg onder leiding van ds CA van Wyk. Danie skryf: “Dit was boere-matriek, soos die ou mense dit genoem het. Tien dae lank het die groep katkisante gedurende die vakansie in die pastorie gebly, waar ons ses uur elke dag onderrig is deur die dominee en kerkraadslede.” Skertsend het Danie altyd getuig dat die kennis van die teologie en roeping om predikant te word in die tyd gebore is, ook sy goeie kennis van die Heidelbergse Kategismus.
Danie het in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer en die grade BA (Admissie); BA (Hons); MA in Filosofie, BTh en Lisensiaat in die Teologie behaal, almal cum laude. Danie was SR-voorsitter en president van die ASB. Hy het ook rugby vir Maties en later vir Boland gespeel. Aan die einde van 1967 is hy as proponent gelegitimeer en het hy Stellenbosch verlaat, maar sy paaie het weer na Stellenbosch geloop toe hy ‘n dosent aan die Kweekskool geword het.
In 1967 het Danie en sy vrou Elsa na Nederland vertrek vir sy doktorale studie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, ‘n wonderlike tyd in die jong egpaar se lewenspad waarin hulle tot met hulle terugkeer in 1971 na Suid-Afrika die tyd uitkoop in kennis en lewenservaring. In die winter van 1971 het dr Danie du Toit leraar van die NG Gemeente Wellington Noord, met opdrag doseer werk aan die Hugenote Kollege, geword. Prof Johan van der Merwe was die rektor en dr Danie was besonder geliefd onder die studente.
In 1976 het hulle Wellington verlaat toe Danie beroep is as senior lektor en later mede-professor in Dogmatiek aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan die Universiteit van Pretoria. Maar hy het ‘n Bolander in murg en been gebly en terug gehunker na sy wêreld; daarom was die Here se roepstem tydig toe hy in 1978 beroep is as senior lektor aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1985 het hy ‘n professor in die Departement Dogmatiek geword. In die tyd het hy ‘n betekenisvolle rol as koshuisvader van Huis Marais en Huis Visser gespeel, waar hy met sy gemaklike manier baie vir die studente beteken het.
Nadat prof Danie du Toit 23 jaar lank sy beste in die lesingsale van die Fakulteit Teologie gegee het, het hy in 2001 sy emeritaat weens gesondheidsprobleme aanvaar. Hierna het hy nog deeltyds klas gegee en voortgegaan met sy werk as skrywer en navorser. In 2006 het prof Danie du Toit na die gemeentebediening teruggekeer as kontrak leraar van die NG Gemeente Middelburg (Kaap); As bedienaar van die Woord het hy diep spore in die hart van mense getrap. Hier het hy met oorgawe gewerk totdat pankreas kanker by hom gediagnoseer is en hy die gemeentebediening vaarwel geroep het om sy laaste kosbare tyd saam met sy kinders en dierbares deur te bring.
Na ‘n lang siekte is prof Danie du Toit op 2 April 2010, Goeie Vrydag, oorlede. Hy is op Vrydag 9 April 2010 tydens ‘n private geleentheid begrawe en daarna is ‘n huldigingsdiens in die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen gehou.
“Prof Danie du Toit het na elke terugslag sterker en meer liefdevol teruggekeer,” het sy seun, dr Fanie du Toit, tydens ‘n roudiens vir sy pa gesê. Dr Coenie Burger, ‘n familielid, het na prof Danie se heengaan op Goeie Vrydag as simbolies verwys. “Dit is die begin van ‘n nuwe tyd vir hom.” Dr Ben du Toit skryf: “Sy doktorale proefskrif het gehandel oor die belydenis van ‘neergedaal ter helle ‘ en dit is ironies, maar dalk juis betekenisvol dat hy oorlede is op die dag dat ons juis hierdie gebeure vier en in herinnering roep.”
Neels Jackson, bekende joernalis, skryf: “Die NG Kerk het een van sy briljante teoloë verloor met die dood van prof Danie du Toit. Hy was nie net ‘n akademikusvan statuur nie, maar het ook diep spore op kerklike terrein getrap. Hy was in die 1980’s een van die sterk stemme binne die kerk wat gepleit het dat die NG Kerk wegbeweeg van apartheid. In die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake het hy onder meer ‘n kernrol gespeel in die formulering van die voorstel wat deur die Algemene Sinode van 1990 aanvaar is dat vroue toegelaat moet word om predikant te word. Dr Willie Botha, wat jare lank saam met Du Toit in hierdie kommissie gewerk het, het gesê Du Toit se mening is altyd hoog aangeslaan. Sy seun dr Fanie du Toit het gesê sy pa se boek Die mens en sy regte, wat in die 1980’s verskyn het, was die eerste Afrikaanse boek oor menseregte uit ‘n teologiese perspektief.
Prof Danie du Toit word oorleef deur vier kinders. Sy vrou Elsa is reeds oorlede en hy het nooit weer getrou nie. Sy kinders is dr Fanie du Toit van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening in Kaapstad, dr Louise du Toit, Filosofie-dosent op Stellenbosch, mnr. Tielman du Toit, ‘n personeelbestuurder van die Paarl, en ds Danie du Toit, leraar van die NG Studente gemeente in Bloemfontein. Daar is nege kleinkinders.
Prof Dirkie Smit, ‘n oudkollega en dosent aan die Fakulteit Teologie, het in sy huldeblyk gesê: “Prof Danie du Toit was ‘n sterk teenwoordigheid in enige geselskap en word onthou as iemand wat ongewilde voorstelle na die tafel gebring het. Hy was ‘n belangrike leier in die kerk en het groot verandering in die land se politieke oorgang meegebring toe hy in die 1980’s voorgestel het dat die NG Kerk van apartheid moet wegbeweeg.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek ).