Durandt, Wilhelm Louis

Ds. Du Randt Wilhelm

Gebore

05 Mei. 1932

OORLEDE

03 Febr. 2003

UNIVERSITEIT

BA, BD (US)

GELEGITImeer

1958

ORDEN

1959

STANDPLASe

1959 Sabie

1962 Chingola (Zambië)

1964 Phalaborwa

1968 Rosettenville

1975 Carolina

EMIRITEER

1997

Louis Durandt is op 5 Mei 1932 op Somerset-Wes gebore. Sy vader was Willem Adriaan Durandt en sy moeder was Louisa Breedt. Hy het in 1949 aan die Hoërskool Goodwood gematrikuleer. Op skool het hy rugby gespeel en in die Voortrekkers belanggestel.

Voordat Louis begin studeer het, het hy as klerk by Ou Mutual gewerk. In 1952 het hy by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf en die grade BA en BD behaal (1952-1959); Die tema van sy proponentsverhandeling was “Die werk van die Heilige Gees”. In 1958 is ds Durandt gelegitimeer.

In 1961 het hy met Verna Stander getrou en hulle het vier seuns gehad: Louis (1962); Jacques (1963); Casper (1965) en Rian (1971); Al vier seuns is getroud en daar is reeds vyf kleinkinders.

Louis en Verna was 49 jaar getroud. Hy was ‘n onoortrefbare pa. Hy het sy seuns leer jag, hengel, boks, krieket speel en hulle ywerig bygestaan in hulle studies. Elkeen het ‘n meestergraad voltooi.

Ds Durandt is in 1959 op Sabie bevestig. Daarna is hy na Chingola (Zambië, 1962); Phalaborwa (1964); Rosettenville (1968) en Carolina (1975) beroep. Op Carolina het vir 22 jaar die gemeente gelei totdat hy in 1997 emeritaat aanvaar het.

Ds Durandt was by uitstek ‘n vredemaker wat geglo het ‘n dienskneg van die Here mag nie by rusies betrokke raak nie. Diens van barmhartigheid en die sending het hom na aan die hart gelê. Hy het jare lank in die Sinodale Sendingkommissie van Oos-Transvaal gedien.

Na sy aftrede het hy en sy vrou steeds op Carolina gewoon waar hy betrokke was by maatskaplike dienste en as hulpdiaken gedien het. Hy het nog afloswerk in Mariental en Swaziland gedoen. Hy het ook in buurgemeentes uitgehelp met Pinksterbidure preekbeurte.

Ds Durandt het aan die Deus Duxit vereniging behoort en het graag geskets en gehengel. Terwyl hy in Swaziland afgelos het, is hy deur rowers ontvoer en met ‘n vuurwapen gedreig.

Hy het nooit gekla nie, hoewel hy lank ‘n stryd gevoer het teen leukemie. Sy heengaan was ‘n skok omdat hy nog tot op die laaste ander siekes besoek en bemoedig het.

Een van sy gunstelingverse was Fil 1:20. Dit is ook op sy grafsteen aangebring en op sy begrafnis as Skrifgedeelte gebruik. “Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe.”

(Dirk Viljoen, na aanleiding van ‘n huldiging van sy eggenote, Verna, wat ook sy biografiese vorm ingevul het.) (Jaarboek )