Du Preez, Stephanus Johannes

Ds. Du Preez Stephanus

Gebore

12 Des. 1926

OORLEDE

13 Okt. 1999

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1955

ORDEN

1956

STANDPLASe

1956 Delareyville

1959 Elandsfontein

1961 Koppies

EMIRITEER

Ds StephanusJohannes Du Preez (BA, Dipl Teol) 12 Des. 1926 – 13 Okt. 1999

Klein van postuur was hy, maar groot in geestelike gestalte met ‘n onblusbare evangeliese geesdrif. Faan du Preez se lewensboodskap is een van toewyding, entoesiasme, pligsgetrouheid, sorgsaamheid en integriteit. So baie van sy gemeentelede, sowel as sy huisgesin en vriende sal sy warme hartlikheid en uitgaande liefde nog lank onthou. In sy teenwoordigheid het ‘n mens altyd gevoel dat jy te doen het met ‘n man met ‘n roeping, wat sonder om daarvan ‘n groot reklamesaak te maak, dit op ‘n aantreklike en geesdriftige wyse met sy hele optrede uitgeleef en uitgestraal het.

Hy is op 12 Desember 1926 in die Brits-distrik gebore waar sy vader, Louwrens van Niekerk du Preez, geboer het. Hy het skool gegaan aan die Laerskool Voorwaarts en elke dag met die busvanaf Mamagalieskraal skool toe gery. Daar was dusnie geleentheid om na-uurse skoolaktiwiteite by te woon nie. Sy moeder het as vroedvrou vir die omgewing opgetree en was dusgou bekend by die hele gemeenskap. Faan het in 1945 matriek geslaag aan die Hoërskool Brits.

Wat sy teologiese studie betref, het hy eers ingeskryf by die buitemuurse afdeling aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1951 die BA-graad behaal het. In hierdie tyd het hy as proefbeampte by die Departement van Volkswelsyn (1947- 1951) gewerk. Daarna is hy na die Kweekskool op Stellenbosch. Hy het entoesiasties en met genot aan die Kweekskoolkoor deelgeneem. Op Stellenbosch het hy die voorreg gehad om vir twee jaar aan huis van prof Jac J Muller te bly. Onnodig om te sê dat prof Miiller ‘n groot invloed op sy lewe uitgeoefen het en dat baie van sy waardes en optredes hier hulle oorsprong gevind het. Hy is aan die einde van 1955 gelegitimeer.

Van die 35 jaar in die bediening, was hy by vyf gemeentes, naamlik Delareyville (waar hy in April 1956 georden is); Elandsfontein (vanaf Oktober 1959); Koppies (vanaf Augustus1961); Middelburg-Suid (vanaf Junie 1969) en sy laaste gemeente was Waverley-Oos in Pretoria (vanaf September 1978) waar hy vir 13 jaar gearbei het tot met sy aftrede op 28 April 1991.

In al hierdie bedieningsjare, staan sy hardwerkenheid, pligsgetrouheid, deeglike voorbereiding en diepte van prediking voorop. Wat uiterlike dinge betref, is die kerksaal op Delareyville in sy tyd gebou; ‘n kerk en kerksaal te Koppies en ‘n kerksaal in Waverley-Oos. Hy was uiters getrou in sy huisbesoek en siekebesoek. Hy het ‘n vaste huisbesoekrooster gevolg. Tot en met sy hartomleiding operasie het hy nog elke jaar by elke huisgesin besoek afgelê – ook in die groot gemeentes.

In syprediking het hy geglo aan deeglike voorbereiding en dat elke preek Christosentries moet wees. Hy het ook grappenderwys gesê dat “VDM” staan vir “Voor Dinsdag-Middag” aangesien hy sy preke altyd voor Dinsdagmiddag klaar voorberei het en dit dan Saterdagaande ingestudeer het. Dit het meegebring dat hy dan ook as ‘n uitstaande prediker bekend geword het en dat hy ‘n besondere vermoë gehad het om die Woord te bedien. Op ‘n meesleurende manier, altyd getrou aan sy teks, het hy die gawe gehad om mense na die evangelie te laat luister. Sy preke het lidmate so bygebly dat hulle dit lank daarna nog onthou het.

Wat sy huislike lewe betref, is hy op 5 April 1956 (net voordat hulle Delareyville toe gegaan het) getroud met Salome de Wet. Sy het dwarsdeur sy verdere lewe getrou aan sy sy gestaan. Hulle het vyf kinders, by name Elizabeth (nou mev Lombard); Susan (nou mev Blignaut); Salome (mev Seyffert); Lourens en Helena (mev Swanepoel); Daar is reeds elf kleinkinders. Ook as vader was hy sorgsaam, liefdevol en ‘n voorbeeld van sy opregte geloof en gebedslewe.

Na sy aftrede het hulle in Waterkloof Glen, Pretoria gaan woon. Van hom word getuig dat hy, sedert middel 1994 tot met

sy siekte, elke Dinsdagoggend om 5:00 ‘n gebedsgeleentheid in hulle gemeente bygewoon het. Sy ernstige gebede en sy wonderlike leiding was ‘n inspirasie en krag vir almal. Een van die Bybelverse wat hy gedurig aangehaal het was: “Ons is die wierook wat deur Christusvir God gebrand word vir die wat gered word, is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek ” (2 Kor 2:15); Ander persone van die gebedsgroep het gekom en gegaan, maar Faan was altyd daar.

Op sy persoon was hy besonder netjies, fier en regop, altyd onberispelik geklee – ‘n pragtige eksponent van die boodskap wat hy verkondig het en ‘n voorbeeld vir ander leraars. Hy was nederig en het het homselfnooit op die voorgrond geskuif of sy opinie op iemand anders afgedwing nie. In minsame diensgestalte het hy vir sy Here gelewe.

Sy einde het, van alle dinge, eintlik gekom as gevolg van malaria. Aan die begin van Julie 1999 het hy bloedplaatjie probleme begin ontwikkel as gevolg van diabetes-medisyne wat hy oor baie jare moes gebruik. Nadat hy tot vier keer in die hospitaal was, is sy milt verwyder en het dit weer effens beter gegaan. In Augustusis hulle na Shingwedsi in die Wildtuin waar hy malaria opgedoen het en met sy terugkeer in die Pretoria-Oos-hospitaal opgeneem moes word. Daar het hy vir vyf en half weke in die intensiewe afdeling gelê, maar ten spyte van bloedoortappings en ander sorg, is hy op 13 Oktober oorlede.

Die eer en lof vir ‘n lewe soos die van Faan du Preez, kom al leen aan God toe, wat sy lewe gevorm en in sy diens gebruik het. Dit was maar net die voorreg van baie om langs sy lewenspad blootgestel te wees aan ‘n mens van sy kaliber. – Dirk Viljoen, met die hulp van sy vrou, Salome, wat sy biografiese vorm ingevul het en stukke voorsien het, onder andere ook van Pieter Simpson.( Jaarboek ).