Du Preez, Lodewikus Petrus

 

GEBORE

31 Jan 1929

OORLEDE

18 Mrt 2021

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1953

ORDEN

1956

standplase

1956 Delportshoop

1959 Volmoed

1963 Namakwaland

1967 NGSK Prins Albert

1971 Bothasrus-Despatch

1977 Marquard

1983 Superintendent Abraham Kriel-Kinderhuis Nylstroom

EMERITEER

31 Jan 1989

DS WIEKIE DU PREEZ (BA) 31 Januarie 1929 2- 18 Maart 2021

Lodewikus Petrus du Preez is op 31 Januarie 1929 gebore op Ceres in die Koue-Bokkeveld. Hy word groot op De Doorns naby Worcester en is die tweede jongste van vier seuns. Sy vader was Jan Gysbert Hermanus du Preez, ‘n polisieman en stasiebevelvoerder op De Doorns en sy moeder Maria Magdalena Moller, ‘n huisvrou en boorling van Ceres. Wiekie begin in 1935 met sy skoolopleiding aan die Laerskool De Doorns en matrikuleer in 1945 aan die Hoërskool Robertson. Hier op Robert-son voel hy as skoolseun geroepe om sendeling te word en Wiekie vertrek in 1956 as sewentienjarige jong seun na Stellenbosch om as predikant opgelei te word. Sy klasmaats was oorwegend manne wat voorheen ander beroepe beoefen het, asook manne wat aktief aan die Tweede Wêreldoorlog deel-geneem het.

Nadat hy die BA-graad verwerf het, word hy in 1950 student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy aan die einde van 1953 as proponent gelegitimeer word. Hy werk twee jaar lank in proponentsposte in die gemeentes Parow-Oos en Prieska op die walle van die Oranjerivier, waar hy besondere mensekennis opdoen. Hy trou op 8 Oktober 1955 met mej. Anita Lombard, ‘n nooi van Loeriesfontein in die Boesmanland.

Op 21 April 1956 word prop LP du Preez met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Delportshoop, ‘n eiesoortige gemeente op die walle van die Vaalrivier. In hierdie klein gehuggie tussen Barkley-Wes en Daniëlskuil, werk ds Wiekie en Anita tussen die delwers en boere, ‘n ervaring om nooit te vergeet nie.

Die Here roep die eg-paar na Kannaland, toe hy op 6 Desember 1958 bevestig word in die NG Gemeente Volmoed, ‘n boeregemeenskap buite Oudtshoorn. Hier werk hulle met oorgawe en ervaar besondere meelewing in die wêreld waar volstruise met hulle goue pluime die pas aangee.

Op 20 April 1963 word ds Wiekie du Preez bevestig as herder en leraar in die NG Gemeente Namakwaland op Springbok. Dit is ‘n landstreek met eie uitdagings en ‘n streek wat aan ‘n mens se siel en menswees klou. Ook die unieke sêgoed, want toe hy by geleentheid aan oom Jan Kennedy vra hoe dit gaan, is sy antwoord: “So oumens-goed”. In die tyd is nie net ‘n basaar op Springbok en in Boesmanland gehou nie, ongeveer twaalf basaars as die buitewyke ingereken word. In die tyd word die gemeente te groot vir een leraar en ds Thys Agenbach word as eerste medeleraar beroep na Springbok.

Ds LP du Preez se sendingroeping kom weer sterk na vore toe hy ‘n beroep aanvaar na die NG Sendinggemeente Prins Albert en op 14 Januarie 1967 bevestig word. Dit vra groot opofferings vir die gesin, maar goeie tye word beleef in die pragtige dorpie aan die voet van die Swartberge. Hy keer na die NG Moederkerk terug toe hy op 17 Julie 1971 leraar word van die NG Gemeente Bothasrus op Despatch, ‘n sterk groeiende nywerheidstad naby Port Elizabeth wat baie groot uitdagings bring met sy jong lidmate.

‘n Roepstem kom na die Vrystaatse platteland toe ds Wiekie du Preez leraar word van die NG Gemeente Marquard en op 2 Julie 1977 bevestig word tussen die vriendelike mense van die Oos-Vrystaatse grensgordel. Ds Wiekie en Anita du Preez is ‘n hegte gesin met ‘n oop plattelandse pastorie op Marquard wat vol geleef word. Maar op 27 Februarie 1982 beleef die pastoriepaar en hulle drie dogters ‘n ongelooflike terugslag en hartseer toe hulle die oudste kind en enigste seun Jan Gysbert Hermanus du Preez in die ouderdom van 24 jaar in ‘n motorongeluk verloor. Hieroor het die egpaar en gesin moeilik gekom en hulle in die skoot van die Here gewerp.

Op 1 Oktober 1983 verhuis ds Wiekie du Preez na Nylstroom in Transvaal toe hy ‘n nuwe uitdaging aanvaar en hoof word van die Abraham Kriel-kinderhuis op Nylstroom. Sy skoonseun ds Chris Barnardo van die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike, beskryf hierdie stuk lewensgeskiedenis treffend: “Sy empatie vir jongmense het daartoe bygedra dat hy die pos as superintendent by die Abraham Kriel-kinderhuis op Nylstroom tot en met sy aftrede gevul het.”

Na sy emeritaat op 31 Januarie 1989 vestig ds en mev LP du Preez hulle op Stilbaai waar hy van 1990 tot 1992 hulpleraar in die gewilde kusdorp word. Die egpaar besit toe reeds ‘n vakansie-huis op Stilbaai en geniet die werk in die gemeente. Hy is ook voorsitter van die beheerraad van Huis Stilbaai. Hierna loop sy pad na Kimberley toe hy pastorale hulp by ‘n bekende aftree-oord in Kimberley word, waar hy geliefd is onder die inwoners en goeie werk lewer.

Met verloop van tyd verhuis die egpaar na die Kaapse Skiereiland om naby hulle kinders en kleinkinders te wees. Hulle het mooi oud geword en hulle bly tot die einde in Huis De Kuilen in Kuilsrivier waar hy op 18 Maart 2021 sterf en sy bejaarde lewensmaat Anita, drie dogters, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders agterlaat. Ons glo daar was vreugde in die Hemelstad toe ds Wiekie weer herenig is met sy enigste seun en ander dierbares. Sy skoonseun ds Chris Barnardo skryf: “Hy het in eenvoud voor die Here geleef en sy roeping passievol in die gemeentes wat hy bedien het uitgeleef.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 365)