Du Preez, Johannes Petrus

 

Gebore

26 Okt. 1944

OORLEDE

05 Sept. 1997

UNIVERSITEIT

BA, BTh (UOVS)

GELEGITImeer

ORDEN

1972

STANDPLASe

1972 Noordvaal

Kroonstad-Noord

Sasolburg-Fakkel

Ermelo

EMIRITEER

Suid-Afrika en Afrika het een van sy uitmuntende geestelike leiers op 5 September 1997 verloor. Na ‘n ernstige motorongeluk net buite Witrivier het die stigter en uitvoerende direkteur van die Kinder-Evangeliste-Opleidinginstituut (KE0); Johannes du Preez, gesterf.

Johan is op 26 Oktober 1944 op Kroonstad gebore waar hy ook in 1962 gematrikuleer het. Na sy weermag-opleiding het hy aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat en daarna aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch studeer. Hy het reeds in sy studentejare ‘n besondere sendingywer gehad en ook as leier uitgestaan.

Johan het diep spore binne die Ned Geref Kerk getrap. Sy bediening het in 1972 in die Noordvaal-gemeente in Orkney begin, waarna hy ook in Kroonstad-Noord, Sasolburg-Fakkel en Ermelo gedien het.

Hy het ‘n brandende visie gehad dat die kerk in Suid-Afrika ‘n besondere rol in wêreldevangelisasie sou speel. Vir 20 jaar was hy betrokke by die Suid-Afrikaanse Aksie vir Wêreld-Evangelisasie (SAAWE) en was hy ook gemoeid met die Eilandesending.

Omdat hy ‘ n leemte in die bediening van kinders raakgesien het, het hy en Aretha, op aanbeveling van ds Chris Fourie, die Child Evangelism Fellowship se kursus in Kilchzimmer, Switserland, gaan volg. Wetende dat hierdie metodiek en tegnieke God se antwoord vir die kinders se geestelike nood was, het Johan begin droom van ‘n soortgelyke opleidingsinstituut in Suid Afrika.

Johan was iemand wat hom deur niks en niemand sou laat keer om die visie wat die Here aan hom gegee het, werklikheid te laat word nie. In 1989 het hy die KEO gestig. Die Verenigende Geref Kerk se Standerton-gemeente het hom beroep en hom uitgestuur met die opdrag: Kinderevangelisasie. In 1990 is die eerste studente te Patra Mountain, Witrivier, opgelei. Sedertdien is meer as ‘n duisend studente al deur die instituut opgelei. Johan het sy drome deur dade en geloofmoed in werklikheid omskep. Frans Hancke van Pro Christo skryf: `Ek bring hulde aan ‘n besondere sendingleier. Sy nederigheid, visioenêre denke en geloofsversekerdheid sal ek nie vergeet nie. Die Here het hom uitgesonder om ‘n fenomenale visie te vestig.’

Willie Crew van die World Mission Centre het gesê Johan was menige kere hulle organisasie se gewete. Hy het hulle altyd tot stilstand geroep met die vraag: `Wat van die kinders?’ Johan se visie vir die evangelisering van kinders was gegrond op Ps 78 dat die roemryke dade van God aan die kinders vertel moet word sodat die volgende geslag dit kan weet en hulle dit weer aan hulle kinders kan vertel. Hy was oortuig die beste strategie was om die wêreld te evangeliseer.

Sedert die Global Consultation on World Evangelism (GCOWE-95) in Korea het hy hom beywer vir die vestiging van ‘n konsultasie van kinderwerkers binne hierdie beweging. Die reëlingskomitee van GCOWE-97 het later besluit om so ‘n konsultasie in te sluit. Johan het die voorreg gehad om as koördineerder en voorsitter van hierdie konsultasie op te tree. Hiermee het sy bediening werklik uitgestyg tot internasionale vlak. Die invloed wat van die kinderkonsultasie op die hele GCOWE-97 uitgegaan het, het finaal die visie dat Kinderevangelisasie noodsaaklik is vir omvattende wêreld-evangelisasie, onder sendingleiers en die kerk van Jesus Christus, gevestig.

Johan het veral ‘n hart vir die kinders van Afrika gehad en met sy hele hart in die potensiaal van Afrika se mense geglo. Hy was oortuig dat die evangelisering van die kinders van Afrika ‘n invloed sou hê wat die aangesig van Afrika sou verander. By sy laaste optrede tydens GCOWE-97 se kinderkonsultasie het hy die volgende gesê: `Let us claim Africa for the Lord! Let us focus on the children. Not only should we bring them the message of salvation; they should also learn to live according to Biblical standards on all levels of society, I challenge you to become part of Gods army. Let us help Africa to realise her freedom in Christ so that her children can become what God planned them to be.’

Die kerk was vir Johan die instrument waardeur die wêreld geëvangeliseer moes word. Murray Louw van SAAWE getuig dat Johan hulle ywerige beplanning om die wêreld te evangeliseer, by geleentheid tot stilstand geroep het met die woorde: `Hou op om `smarter’ as God te wil wees. God het reeds besluit om die kerk te gebruik om die wêreld te evangeliseer’ . KEO moes ook as organisasie nie los van die kerk funksioneer nie. Vir hom was KEO ‘n hulparm van die kerk wat deur sy opleiding die kerk wou help om die kinders effektief te bedien.

Johan se visionêre denke en die energie waarmee hy gewerk het om sy drome waar te maak, was inspirerend en aansteeklik. Met verloop van tyd het hy personeel rondom hom versamel in wie se lewens hy sy visie oorgeplant het. Sy vreugde en trots was dat KEO se studente en personeel die werk kon voortsit. By geleentheid kort voor sy dood het hy verklaar: `KEO is nie Johan du Preez nie. Elkeen van julle moet bekwaam wees om voort te gaan met die werk’ . Met sy besondere bestuurstyl het hy daarin geslaag om mense te ontwikkel en te bekwaam om met ywer voort te werk aan die evangelisering van die kinders van Afrika.

Johan du Preez se skielike dood het sy familie en die personeel by KEO geruk. Sy dood is in die geskiedenis van KEO egter ‘n komma, maar nie ‘n punt nie. Die 62 personeellede gaan voort met die werk van die Here. Dieselfde Gees wat Johan aangevuur het om te werk, is immers ook in KEO se mense. Dit is die Gees wat ons te midde van ons hartseer laat moed skep om voort te gaan. Die deure wat die afgelope paar maande in Afrika oopgegaan het en die talle projekte wat reeds in verskillende Afrika-lande, Suid Afrika ingesluit, aangepak is, sal steeds benut word om kinders van Afrika te evangeliseer. By Johan het KEO se mense immers geleer om God se drome te droom en met geloofsmoed en ywer te werk vir die verwesenliking daarvan.

Die Johan du Preez-Beursfonds is intussen gestig om mense te help vir wie dit finansieel onmoontlik is om die kursusse te volg. Oor Johan se lewe kan met dankbaarheid uitgeroep word: `Wat ‘n man .. wat ‘n visie wat ‘n God !’ Al die eer aan ons Hemelse Vader wat ons laat deel het in die wonderlike gawe wat Hy in Johan du Preez aan sy familie, KEO, die kerk en veral die kinders van Afrika gegee het. – dr Willie van Wyk. (Jaarboek )