Du Preez, Andries Petrus

Ds. Du Preez Andries

Gebore

11 Apr. 1911

OORLEDE

16 Jul. 2001

UNIVERSITEIT

GELEGITImeer

1934

ORDEN

1935

STANDPLASe

Salisbury

1937 Fauresmith

1939 Colesberg Veldprediker

1951 Liickhoff

1954 Port Natal

1959 Warmbad, Tvl.

EMIRITEER

1970

Ds Andries PetrusDu Preez (BA) 11 Apr. 1911 – 16 Jul. 2001

Oom AP of Andrew, soos hy algemeen bekend gestaan het, was een van daardie mense wat met sy rysige gestalte van byna 2 meter en sy “heerlike” voorkoms, dadelik die aandag getrek het van mense wat met hom in aanraking gekom het. Hy het ook die besondere onderskeiding gehad dat hy beide sendeling en predikant was, aangesien hy eers op Wellington die volledige Sending opleiding ondergaan het en daarna as sendeling gedien het in verskeie gemeentes. Later het hy na Stellenbosch gegaan om as predikant opgelei te word aan die Kweekskool.

Ds Du Preez is op 11 November 1911 op Lichtenburg gebore. Hy was van die bekende Du Preez-familie wat steeds op Manana woon. Sy vader was ook Andries Petrusdu Preez en sy moeder was Elsie Susanna Bouwer. Hy het eers onderrig in die Manana-laerskool ondergaan (1918 – 1925) en daarna aan die Hoërskool Lichtenburg (1926 – 1930) gematrikuleer.

Na matriek is ds Du Preez na die Sending-Instituut op Wellington (1931 – 1934) en is hy as sendeling gelegitimeer. Hy is in 1935 na Salisbury (deesdae Harare) beroep; na Fauresmith in 1937 en in 1939 as veldprediker na Colesberg.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy hom geroepe gevoel om by die leër aan te sluit as veldprediker. Sodoende het hy ook drie jaar op ‘n hospitaalskip die bediening en geestelike versorging van die bemanning behartig. Na die oorlog is hy na Potchefstroom verplaas. In hierdie tyd het hy sy BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf.

Aangesien die Sending-Instituut in daardie jare nog nie predikantstatusaan die suksesvolle studente gegee het nie, is ds Du Preez in 1948 Stellenbosch toe om sy studies te voltooi. Hy is in 1950 as predikant gelegitimeer en in dieselfde jaar na die Luckhoff-gemeente beroep waar hy op 24 Februarie 1951 bevestig is. Na drie jaar in die Vrystaat, is hy na Port Natal beroep waar hy op 3 April 1954 bevestig is. In hierdie tyd was hy betrokke by die oprigting van die eerste kerkgebou vir Indiërs in Durban.

Van Natal af het hy na die Transvaal verskuif. Sedert 1959 was hy op Warmbad predikant, waar hy ‘n reuse-aandeel in die oprigting van die huis vir bejaardes gehad het. Sy laaste gemeente was Northam in die nabygeleë Bosveld, waar hy tot en met sy emeritaat in Mei 1967 gedien het. Hy het dwarsdeur sy loopbaan besondere belangstelling in en toewyding aan die sending gehad en is in Natal as voorsitter van die Sinodale Sendingkommissie (SSK) verkies. Ds Du Preez het ook in Noord-Transvaal se SSK, sowel as die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid gedien. Hy was lank ‘n lid van die Sinodale Kommissie. Hy was baie getrou in sy huisbesoek, veral aan die siekes en bejaardes en vir hom was dit steeds ‘n onbeskryflike voorreg om die Woord van die Here te mag verkondig.

In 1937 het hy met Vivienne Swart getrou. Hulle het vier kinders, Andries Petrus(1941); Johannes Cornelius(1944); Aurelius(1950) en Veronica (1951); Weens Vivienne se swak gesondheid, het hy besluit om in 1976, toe hy 65 jaar oud geword het, finaal die tuig neer te lê. Sy is in 1978 oorlede. Hy is in 1978 met Loraine du Plessis getroud en hulle het vir 23 jaar ‘n baie gelukkige huwelikslewe gehad. Loraine het kinders uit haar eerste huwelik gehad, naamlik Magda, Liana, Loraine en Kobus. Hoewel ds Du Preez se oudste twee seuns met sy dood reeds oorlede was, het hy nog vyf kleinkinders.

Na sy aftrede, het hulle eers in Pretoria (1976); en daarna op Koster (1978) gewoon. In 1982 is hulle na Rustenburg (1982); In 1989 het hulle na Pretoria teruggekeer waar hulle hulle in die Amandasig Aftree-oord gevestig het. Hy het nog in verskeie gemeentes gehelp nadat hy afgetree het.

In die laaste jare was sy gesondheid nie na wense nie en het ds Du Preez geleidelik verswak. Sy gehoor het ook vinnig gekwyn en dit was vir hom ‘n groot beproewing. Sy een nier is verwyder nadat ‘n kankergewas by hom gediagnoseer is. Daarna het hy vinnig agteruitgegaan. Die laaste sewe weke van sy lewe was hy in Amandasig se versorgingseenheid, waar hy getrou en liefdevol deur Loraine en die mediese personeel bygestaan is.

Ds Du Preez is op 16 Julie 2001 in die hoë ouderdom van meer as negentig jaar oorlede en vanuit die Wonderpark-gemeente begrawe. Ds Willie du Plessis het die begrafnis waargeneem.

Sy vriendelikheid, wellewendheid en opregtheid sal nog lank as voorbeeld vir ander dien. Hy was waarlik ‘n langafstand atleet in die Here se span en die triomflied van Paulusin 2 Tim 4:6-8 staan ook oor sy heengaan geskryf. – Willie du Plessis, aangevul deur Dirk Viljoen uit sy biografiese vorm wat hy op 30 Januarie 1997 ingevul het.