Du Plooy. Rudolph Jacobus

 

Gebore

26 Julie 1960

OORLEDE

15 Mei 2013

UNIVERSITEIT

BA Hons, MA, BD, MDiv, PhD

GELEGITImeer

ORDEN

STANDPLASe

EMIRITEER

Roedolf Jacobus du Plooy is op 26 Julie 1960 in Klerkdorp gebore; hier word hy ook groot. Hy begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Goudkop op dorp en matrikuleer aan die Hoërskool Klerksdorp. Reeds in die tyd begin hy om karate te beoefen; dit was sy lewe lank ‘n groot passie.

Op laerskool reeds ontvang hy die roeping om predikant te word. Na matriek word hy ‘n student aan die destydse PU vir CHO in Potchefstroom, waar hy in 1981 ‘n BA-graad verwerf en die jaar daarna sy honneursgraad. Hierna is hy ‘n student aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Pretoria, verwerf in 1985 ‘n BD-graad en word aan die einde van 1986 as proponent gelegitimeer. Prop Reon du Plooy doen sy nasionale diensplig (1987-1988) by Derdepoort Sendinghospitaal, en in tyd is hy die kaptein van die SA Weermag se karatespan wat ses weke lank in Europa toer. Hy is ook nou betrokke by die NG Gemeente Nietverdiend. Na afloop van sy diensplig dien hy ongeveer nege maande lank as pastorale hulp in die NG Gemeente WitbankPanorama, voordat hy in 1989 beroep word en met handoplegging as leraar by die NG Gemeente Potchefstroom-Suid bevestig word. (Later sou die gemeente se naam na Suiderkruis verander.)

Reon het deur die jare heen ‘n student gebly. In 1991 verwerf hy ‘n MA-graad aan die PU vir CHO, met die skripsie titel: “Die sintaksis van die deelwoord: ‘n Vergelykende studie van die deelwoordgebruik in Hebreeus, Aramees en Siries met spesifieke verwysing na die boek Joël”.

In 1995 verwerf hy ‘n MDiv graad aan die Universiteit Pretoria. Die skripsie titel is: “Ruach Jahweh: ‘n Gedwonge vertaling in die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel?”.

In 2005 verwerf hy ‘n PhD aan die Noordwes-Universiteit met die proefskrif: “Die teologiese gebruik van Ruach Jahwe in die Ou Testament”. Sedert 2006 is Reon dikwels by laasgenoemde universiteit betrokke as tydelike dosent in teologie.

Reon was baie lief vir houtwerk — en soos met alles in sy lewe, het hy dit baie presies gedoen.

Hy was twee keer getroud. Hy trou op 8 Desember 1985 met JM van der Merwe, maar hulle skei in 1995. Uit die huwelik is daar twee kinders gebore:

Jacob, wat in Rustenburg woon, en Petrus Jacob, wat in Roodepoort woon. Reon trou weer, en hierdie keer met Gezina Christina (Ina) Engelbrecht; sy is tans werksaam by die NoordwesUniversiteit se Potchefstroomkampus.

Reon du Plooy sterf op 15 Mei 2013. Tydens ‘n roudiens in die NG Gemeente Suiderkruis, bedien dr Hannes de Kock die Woord uit Johannes 11:25.

Ina skryf: “Reon het altyd gepoog om die Woord van die Here suiwer, maar met groot liefde te verkondig. Hy het vas geglo dat die Ou Testament gelees en geken moes word om die Nuwe Testament te verstaan. Reon was ‘n uitstaande persoon — nie net as predikant nie, maar in sy hele menswees. Hy het ‘n besonderse humorsin gehad; hy het geglo dat dinge net op die regte manier gedoen moes word. Sy motto in die lewe was: “Quitters never win and winners never quit!” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).