Du Plessis, WIlliam Henry

Ds. Willie du Plessis

Gebore

06 Mei 1905

OORLEDE

25 Des. 1997

UNIVERSITEIT

 BTh, MTh

GELEGITImeer

1932

ORDEN

1933

STANDPLASe

1933 NGSK Paul Roux (hpr)

1934 NGSK Paul Roux

1937 NGSK Theunissen

1943 NGSK Marquard

1948 NGSK Randfontein

1959 NGSK Potchefstroom

EMERITEER

1 Nov 1970

Ds William Henry Du Plessis (BTh, MTh) 06 Mei. 1905 – 25 Des. 1997

William Henry du Plessis is op 4 Mei 1905 op Tweespruit gebore. Sy eerste skool was ‘n plaasskool in die Lindley-distrik (1914-1920) en daarna die Laerskool Lindley (1920-1921); In 1922 was hy ernstig siek en kon nie skool toe gaan nie. Vanaf. 1923 tot 1926 was hy egter leerling van die Hoërskool Lindley waar hy in rugby presteer het en met drie onderskeidings ii matriek geslaag het. Hy het eers by die National Sunday School Assosiation in Port Elizabeth (1925-1929) gewerk en ook onderwys by ‘n plaasskool gegee.

In 1929 het hy vir een jaar na die Universiteit van Stellenbosch gegaan en vanaf 1930 tot 1932 na die Sending-Instituut te Wellington. Hier was hy onder andere voorsitter van die Teologiese Vereniging Hy is in November 1932 gelegitimeer. Hy het hom beskikbaar gestel vir die sending en sy hele lewe in sendinggemeentes gedien. Sy eerste beroep was na Paul Roux waar hy op 20 Augustus 1933 in die Moedergemeente vir die sending georden en  bevestig is. Hy was eers hulpprediker en 1934 leraar van die sendinggemeente. Hy is getroud met Mattie Hermina Van den Heever en hulle het vyf kinders gehad, Thora, Gideon, Cornelia, Andreas en Emily. Cornelia is egter op 3-jarige ouderdom oorlede. Die ander is almal getroud en daar is reeds vyf kleinkinders (een is ook oorlede).

Hulle tweede standplaas was die Sendinggemeente Theunissen (Januarie 1937) en daama het Marquard gevolg (Februarie 1943); toe Randfontein (April 1948) en Potchefstroom (November 1959).

In hierdie tydperk het hy ook na die Burton College and Seminar in Colorado VSA gaan, waar hy sy MTh-graad verwerf het. Sy skripsie se tema was: “Eschatoloigical significance of Matthew 13.”

Hy het in die Sendinggemeente Potchefstroom gearbei tot met sy emeritaat op 1 November 1970. Hy het besondere groei in al vyf sy gemeentes beleef. Hy het twee kerke gebou, ‘n kerksaal en vyf en twintig buiteposte en plaaskole. Hy het ook vyf en twintig Sondagskole opgerig (soms met teenstand van sommige boere); Kinderevangelisasie was vir hom die eerste prioriteit in sy bediening. Hy het kore vir die Sendingkerk gestig en daar is selfs SAUK-opnames van hulle sang gemaak. Hy het hom vir die opleiding van swart leraars beywer asook die oprigting van pastorieë vir hulle.

Hy het in verskillende skoolkommissies gedien soos op Theunissen, Marquard en Randfontein. Hy was ook lid van die sinodale Sendingkommissie. Uit sy pen het verskeie referate en publikasies gekom, soos: Dag van die Here (‘n kommentaar op Openbaring); Ek glo (in Afrikaans, Sotho, Zoeloe en Xhosa) en Hennie, ‘n seunsverhaal.

Na sy aftrede het hy en sy vrou eers op Potchefstroom (1970-1972) gaan woon waarna hulle vir twee jaar na Alberton (1973-1974) verhuis het. Later is hulle weer terug na Potchefstroom (1975-1985); Sy eggenote het ook nou Alzheimersindroom ontwikkel en hulle het eers by hulle dogter Thora in Northcliff, Johannesburg, tuisgegaan. Uiteindelik het hulle in die Betsie Verwoerd-Huis (nou Ecclesiapark) in Randburg gaan bly. Sy eggenote het hom twee maande nadat hulle daar ingetrek het, op 17 Junie 1987 ontval. Hy het nog tien jaar daar gewoon.

In die tehuis is hy deur die gemeente Randburg-Suid gevra om pastorale werk onder die inwoners te doen. So het hy een keer per week ‘n boodskap vir hulle gebring en talle het by “Oom Willie” kom raad en troos soek al was hy toe reeds self gekluister aan ‘n rolstoel (aangesien hy ‘n polio-lyer was); Sy eie gesondheid het egter verder agteruit gegaan en in Januarie 1997 was hy reeds drie jaar bedlêend. Op Kersdag 1997 het hy nog saam met sy kinders geëet, maar daardie nag is hy oorlede. Hy is op Oujaarsdag begrawe onder blyke van groot belangstelling en verskeie leraars, wit en swart, het van ver af gekom om hulde aan hom te betoon. – Dirk Viljoen, aan die hand van die biografiese vorm wat hy op 24 Januarie 1997 ingevul is en gegewens voorsien deur sy dogter, Thora. (Jaarboek ).