Du Plessis, Jan Gabriel

 

Gebore

16 Jan. 1926

OORLEDE

02 Okt. 2008

UNIVERSITEIT

BTh

gelegitimeer

1950

ORDEN

1951

STANDPLASe

Swartland

1958 Hartswater

1963 Lyttelton-Oos

EMIRITEER

Ds Jannie Du Plessis (BA) (16 Jan. 1926 – 02 Okt. 2008)

Jan Gabriel Du Plessis is op 16 Januarie 1926 te Plooysburg naby Kimberley in die Noord-Kaap gebore. Sy vader, Barend Johannes du Plessis, en sy moeder, Maria Magdalene Aucamp, was beesboere. Jannie het op Plooysburg grootgeword, en later het sy ouers op besproeiingsgrond langs die Rietrivier in die Suidwes-Vrystaat geboer. Jannie was baie lief vir die grond en natuur en het in sy dagboek geskryf: “Dis alles wondergawes van Bo waarsonder ‘n mens se lewe sou wees asof jy sommer uit die lug geval het. My ouerhuis was die akker waarop elke deeltjie van my karakter en latere loopbaan stukkie vir stukkie uitgespruit het. Ek was nog so jonk dat ek nog in ‘n eetstoeltjie gesit het, toe my pa eendag vra wat ek gaan word. Ek het kort-af geantwoord: predikant’.”

Jannie het in 1933 sy skoolopleiding aan die Laerskool Klipheuwel begin, ‘n buurplaas waarheen hy te voet gestap het, en later het hy fietsgery na die skool op Plooysburg. In 1940 het hy leerling aan die bekende Rooidakskool op Boshof geword, waar hy in die eersterugbyspan gespeel en tydens Pinkster tot bekering gekom het.

In 1947 het hy die graad BA op Stellenbosch behaal en toegang tot die Teologiese Seminarium verkry. Op Stellenbosch was hy voorsitter van die CSSB, ‘n sendingorganisasie. Hy het sy proefpreek in die NG Moederkerk gelewer, met Romeine 1:16 as kernteks. Aan die einde van 1951 is hy as proponent gelegitimeer. Hy het ook afloswerk op Sutherland en op Plooysburg, onder leiding van ds MB (Boesman) Brink, gedoen.

Proponent Jannie is op 20 April 1951 met handoplegging in die NG Gemeente Swartland op Malmesbury bevestig, en prof Jac J Muller het die bevestigingsrede gelewer. Hy skryf in sy dagboek: “My legitimasie was vir my heilige oomblikke. My antwoord op die vrae van die formulier was: Ja, met my hele hart, en so was dit dwarsdeur my bediening – my eerlike strewe om met my hele hart my roeping te vervul.” Die jong ds Jannie het baie by sy eerste twee kollegas, ds WA Landman en ds Lafras Moolman, gel eer.

In 1958 is hy in die NG Gemeente Hartswater bevestig, waar hy intens betrokke geraak het by die sending en ‘n kerkgebou vir die NG Kerk in Afrika en ‘n skool gebou het.

In 1963 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Lyttelton-Oos naby Pretoria, as opvolger van ds Mike Smuts (sr); aanvaar. Hierdie gemeente het al hoe groter geword, en later is die gemeentes Kloofsig en Waterkloof-lughawe afgestig. In 1969 is hy na die NG Gemeente Middelburg Uitsig beroep, waar hy vier jaar lank met ywer die mense van Middelburg (KP) bedien het. In 1973 het hy leraar van die NG Gemeente Joubertina in die Langkloof geword, waar hy agtien jaar lank met groot vreugde gewerk het. Tydens een geseënde Pinkster het ongeveer 60 kinders tot bekering gekom.

Jannie is op 29 Desember 1951 op Laingsburg met Marie Barbara Conradie getroud, en uit die huwelik is vyf kinders gebore: Twee van sy seuns het in sy voetspore gevolg. Bennie is predikant in die NG Gemeente Bellville-Oos, en Jannie is leraar van die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid. Sy ander kinders is Elisbé, Mientjie en Frank.

Ds Jannie du Plessis het op 6 Mei 1990 sy emeritaat aanvaar en die egpaar het hulle op Jeffreysbaai gevestig, waar hy gereeld in die Sendingkerk gepreek, weekliks die gevangenes besoek en bidure en Bybelstudie by die aftreeoord gelei het. Hy is na ‘n kort siekbed op 2 Oktober 2008 oorlede, en ‘n dankdiens is op 7 Oktober 2008 in die NG Gemeente Jeffreysbaai waargeneem. Ds Bennie het die preek gelewer en ds Jannie het die bedankings en huldeblyk behartig.

Ds Emile van Zyl skryf: “Jannie du Plessis was ‘n toegewyde Christen, sy bediening het die stempel van ‘n persoonlike geloofsverbintenis met Christusgedra. Sy dienswerk is gekenmerk deur pligsgetrouheid, ywer,

motivering en waardigheid. Sy bediening was vir hom sy grootste prioriteit en is gekenmerk deur standvastigheid en beginselvastheid. Sy humor, innige en opregte geaardheid en meelewing met elke lidmaat se lief en leed, het van hom ‘n geliefde en beminde leraar gemaak. Hy was inderdaad ‘n sieraad vir die kerk en koninkryk van die Here Jesus.” (Jaarboek ).