Gebore
23 Mrt. 1903
OORLEDE
20 Okt. 1980
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1932
ORDEN
1934
STANDPLASe
1934 Koppies
1941 Lindley
1950 Kommandonek en huisvader Barend van Rensburg-weeshuis, Ficksburg
1959 Theunissen
EMIRITEER
1976
Ds Jacob Johannes (Japie) Du Plessis (23 Mrt. 1903 – 20 Okt. 1980); wat die Vrystaatse sowel as die Algemene Sinode van die NGKA lank met groot onderskeiding as aktuariusgedien en in die opstel van albei se Kerkordes ‘n leidende rol gespeel het, is op Kroonstad oorlede. Nadat hy hom aanvanklik as onderwyser bekwaam en in die hoedanigheid onder meer op Goedemoed gewaardeerde dienste gelewer het, deurloop hy die voorgeskrewe kursusaan die Sendinginstituut, om einde 1933 tot die bediening toegelaat te word. Dit was in die depressietyd en beroepe was skaars, sodat hy ‘n tyd lank “los werk” moet doen, maar nogtans word hy 1934, ofskoon teen ‘n baie karige vergoeding, leraar van die sendinggemeente Koppies. Vanaf 1941 staan hy in Lindley, totdat hy 1950 leraar van Kommandonek en huisvader van die Barend van Rensburg-Kinderhuis vir verwaarloosde swart kinders in die distrik Ficksburg word. Onder sy kundige en bekwame bestuur word die kinderhuis ‘n modelinrigting. In 1959 gaan hy na Theunissen waar hy met groot seën werk totdat hy 12 Des. 1976 sy emeritaat aanvaar. Hy was baie jare lid en later ook voorsitter van die Kommissie vir Barmhartigheid van die NGKA. Van sy kennis van die Kerkreg maak die Regskommissie van die Vrystaatse NGKA goed gebruik en toe die Algemene Sinode van die NGKA tot stand kom, is hy daar ook ‘n haas vanselfsprekende keuse vir die Regskommissie. Origens was hy ‘n knap administrateur en ‘n goeie organiseerder, met die gevolg dat hy as voorsitter van die Kerkkantoorkommissie van die Vrystaatse NGKA gekies en later ook lid en voorsitter van die Algemene Sinode van die Kerk se Kerkkantoorkommissie geword het. Sy helder insig en sy sakekennis het vir albei sinodes baie beteken en sy raad en leiding is dan ook gewoonlik sonder teenspraak aanvaar. Oral waar hy werksaam as, het hy hom grootliks vir die onderwys en kultuursake beywer. Ook in die blanke samelewing het hy altyd ‘n vername plek ingeneem en by alle bevolkingsgroepe was hy geliefd en geag. Hy dien dan ook eers as gewone lid en later as voorsitter van die Vrystaatse Streeksontwikkelingsraad. Verder was hy ‘n vurige prediker wat die Woord van die Waarheid altyd reg gesny het. Sy behoudende standpunt in kerk- en volksake sal gemis, maar nooit vergeet word nie. (Jaarboek 1982/255).