Du Plessis, Helgard Muller

Ds. Du Plessis Helgard

Gebore

25 Febr. 1928

OORLEDE

12 Jan. 1992

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASe

1953 Pongola

1960 Olifantsfontein

1963 Excelsior

EMIRITEER

Ds Helgard Muller Du Plessis, BA, (25 Febr. 1928-12 Jan. 1992); Helgard du Plessis is gebore op 25 Februarie 1928 te Heilbron, die jongste van tien kinders. Aan die einde van 1952 is hy toegelaat as predikant en bedien die volgende gemeentes: Pongola 1953, Olifantsfontein 1960, Excelsior 1963, Lyttelton 1967, Bloemfontein-Wes 1973, Doornkloof 1977, St Helena tot Maart 1989. Die Here het vir Helgard baie mooi gawes van hart en verstand gegee, gawes wat hy gebruik het in diens van sy Meester. Hy was ‘n getroue seun van sy kerk wat sy Gereformeerde belydenis uitgeleef het. Sy voorbeeldige lewe en aangename geaardheid het mense na hom aangetrek en van hom ‘n mooi dienskneg van die Here gemaak. Tydens sy bediening van 36 jaar het hy saam met tien medeleraars in die grootste harmonie saamgewerk. Op breë kerklike terrein het hy in verskillende Sinodale kommissies gedien. Saam met Dora (gebore Eksteen); sy eggenote en twee kinders, Elda en Michael en sewe kleinkinders, wil ons die Here dank vir ‘n mooi en vrugbare lewe. Die gemeente Tygerpoort in Pretoria, het mooi herinneringe aan hom. Van hom was dit waar: geseënd is die wat in die Here sterwe . . . sodat hulle kan rusvan hulle arbeid, en hulle werke volg hulle. Ds Helgard du Plessis het voor ons oë weggekwyn. Toe ek hom die eerste keer ontmoet het, nadat hy in April 1989 afgetree het, het ek gedink: so ‘n jong man, net 60 jaar oud, en so fiks soos ‘n seun. Hy hardloop elke oggend kilometers ver en speel gereeld tennis. Na ‘n paar maande het hy begin kla oor ‘n dralende griep, maar dit was nie griep nie, want in Augustusdaardie jaar word vasgestel dat hy bloedkanker het. Daarna volg hy die pad van die meeste kankerpasiënte: Dis onmoontlik, waarom ek? En dan weer hoop want nuwe middels word beproef, bloedoortappings word gegee, telkens is daar opflikkering, maar op 12 Januarie 1992 het hy die stryd teen hierdie siekte, wat hy met voorbeeldige berusting en blymoedigheid gedra het, verloor. (- ds F A Breyer) (Jaarboek ).