GEBORE
19 Desember 1934
OORLEDE
30 Julie 2015
UNIVERSITEIT
BA BTh (US)
gelegitimeer
1970
ORDEN
1971
standplase
1971 Salisbury
1975 Aasvoëlkop
1979 Potchefstroom-Grimbeekpark
1983 Reddersburg
EMERITEER
1992
DS DANIE DU PLESSIS (BA, BTh) 19 Desember 1934 — 30 Julie 2015
Daniël Johannes Francois du Plessis is op 19 Desember 1934 gebore te Salisbury in die destydse Suid-Rhodesië. Sy vader was Francois Johannes du Plessis, ‘n wamaker en timmerman. Sy moeder was Anne Helen Fourie, ‘n sendeling te Salisbury wat geroepe gevoel het om die evangelie te verkondig. Danie begin sy skoolopleiding in Salisbury waar hy ook matrikuleer.
Danie se moeder was ‘n sendeling en haar diepe invloed op sy geestelike lewe was besonder groot, daarom is dit geen verrassing toe hy besluit om voltyds vir die Here te werk nie. Nadat hy die BA graad verwerf het, word Danie in 1967 student aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy behaal in 1969 die BTh graad en sy studie aan die Kweekskool word afgesluit met sy legitimasie aan die einde van 1970 as proponent.
Danie trou op 16 Desember 1967 met Petro de Villiers en uit die huwelik is vyf kinders gebore: Francois (1969), Marie (1971), Johan (1973), Danie (1976) en Anne (1981).
Prop Danie du Plessis se pad loop na die NG Gemeente Salisbury, die omgewing wat hy van kindsbeen af baie goed ken. Hierdie gemeenteseun word op Saterdag, 20 Februarie 1971, met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig. Die rede word gelewer deur ds Seppie Boshoff en die onthaal vind plaas in die Gedenksaal. Dit is ‘n moeilik oorlogstyd in Rhodesië en daar is groot vreugde onder lidmate toe ds Danie du Plessis sy intreepreek op Sondag, 21 Februarie 1971, in die pragtige kerkgebou te Salisbury hou.
Na ‘n goeie dienstyd waar die jongman met oorgawe werk, aanvaar hy ‘n beroep na die NG Gemeente Aasvoëlkop in die hart van Johannesburg. Sy kollega is die bekende ds Jannie du P Malan, ‘n geestelike leier van formaat in die Goudstad. Ds ML Swart is die Polisiekapelaan van die streek en ook verbind aan die gemeente. Ds Danie beleef ‘n opwindende dienstyd en saai met oorgawe die Woord van God.
Op 5 Augustus 1979 word ds Danie bevestig as herder en leraar van die NG Gemeente Grimbeekpark in Potchefstroom. Dit is slegs vyf jaar na gemeente stigting in 1973 en hy kry geleentheid om die gemeente nie net op te bou nie, maar deeglik geestelik te versorg. Hy is baie lief vir die bediening aan jongmense en kinders, ‘n diensterrein waarin hy goeie werk lewer. Hy is die enigste leraar in die dinamiese gemeente, tot polisiekapelaan ds SJ Schoeman in 1971 by hom aansluit. In 1992 aanvaar hy vervroegde emeritaat op ouderdom 58 na ‘n aanstelling in die organisasie “Child Evangelism Fellowship” te Switserland.
Ds Danie du Plessis werk met oorgawe en groot vreugde en geniet die bring van die Blye Boodskap aan kinders tot hy in 1997 terugkeer na Suid-Afrika. Hulle vestig hulle te Somerset-Wes waar hy en sy vrou besondere kwaliteittyd saam beleef. Daar word pankreaskanker by hom gediagnoseer en hy sterf op 30 Junie 2015 te Somerset-Wes. — Dr Gerdrie van der Merwe, VDM. (Bl. 395)