Dreyer, Gert Hendrik Petrus

 

Gebore

9 Sept. 1955

OORLEDE

13 Mei 2007

UNIVERSITEIT

BA (UOVS); BD (UP); D.Th. (UP)

gelegitimeer

1981

ORDEN

1982

STANDPLASe

1982 Pretoria-Noord

1985 Haakdoorn

EMIRITEER

Gert Hendrik Petrus Dreyer is op 9 September 1955 in die NG Pastorie langs die historiese kerkgebou op Dewetsdorp gebore. Sy voorouers was boere, aan vaderskant boer Daantjie en Sannie Dreyer op ‘n plaas in die distrik Senekal, aan moederskant boer Gert en Tryna Jordaan op ‘n plaas by Aberdeen in die Groot-Karoo. Gert HP Dreyer word groot in ‘n pastorie. Sy vader, ds Francois Albertus (Frans) Dreyer, bedien die gemeentes De Bloem, Estoire, Dewetsdorp, Bultfontein, Alberton-Oos en Drie Riviere-Oos. Hier verloor hy in 1984 sy vrou Catherina Elizabeth Dreyer, en aanvaar op 27 April 1986 sy emeritaat. Ds Frans Dreyer is tans 86 jaar oud en die dood van sy seun Hennie is ‘n pynlike ervaring.

Hennie Dreyer se eerste twee jaar bring hy deur in die sonnige pastorie op Dewetsdorp in die suidoos Vrystaat, waarna ds Frans Dreyer in 1957 ‘n beroep aanvaar na die NG Gemeente Bultfontein. In die noord-oos Vrystaat begin hy sy skoolloopbaan. In 1963 tot 1968 woon hulle op Alberton en van 1969 tot 1973 by Drieriviere in die Vaaldriehoek waar hy ook matrikuleer. Hy blink uit in rugby en in velditems en is ook die wenner van die nasionale redenaarskompetisie van die Rapportryers.

Hennie besluit om medies te studeer, kry keuring en begin in 1974 met sy kursus as mediese dokter aan die UOVS in Bloemfontein. Kort hiema beleef hy ‘n intense roeping tot die evangeliebediening en skuif in April oor na die BA (Admissie); ‘n graad wat in 1977 aan hom toegeken word. Hierna is hy student aan die Teologiese Fakulteit (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BD in 1980, die Diploma in Teologie in 1981 behaal en as proponent gelegitimeer word. Hy studeer verder en behaal in 2001 die DTh-graad in Teologie met prof PJ Strauss as promotor. Die titel van sy proefskrif is: “Kerlu-eg en Kerkregering in die opbou van die kerk soos toegespits op die Neder-duitse Gereformeerde Kerk.”

Na sy legitimasie in 1981 doen hy diensplig in die Lugmag en is in 1982 ook kapelaan in die Tek-gemeente in Pretoria. Op 14 Augustus 1982 word hy met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Pretoria-Noord, waar hy tot met sy vertrek die Here met oorgawe dien.

Op 29 November 1985 word hy bevestig as herder en leraar van die NG Gemeente Haakdoom digby Pretoria, ‘n gemeente waar hy 22 jaar lank sy beste kragte gee in Koninkryksdiens. Hy het die gemeente gelei, versterk, bemoedig, vermaan en liefgehad. Gemeentelede kon met hom praat oor die Here, oor vreugdes, hartseer, probleme en wat op hulle hart was. Dr Hennie was iemand wat kon luister. Hy was intens betrokke by die uitbou van gemeentelike aksies in besonder die jaarlikse kerkbasaar. Die gesinskampe wat hy by Boknes naby Alexandria hou, is bekend en lewer ‘n skat van kosbare ervarings en herinneringe vir diegene wat bevoorreg was om dit by te woon. Hy het ook ‘n besondere bediening onder die veearts-studente by Onderstepoort en is ‘n goeie pastor met ‘n sterk aksent op huisbesoek. Op die kansel was sy prediking Skrifgetrou, met ‘n talent vir oorredende prediking. Die uitbou van die gemeente binne die verstaan van die gereformeerde en leer en bedie ningspraktyk, is altyd vir hom belangrik. Op sinodale vlak dien hy in die kommissies vir kerkreg, gemeentelike- en studenteleraars-bediening.

Hennie trou op 14 April 1979 met Ezanda Colyn, iemand met ‘n MA-graad in Wiskunde en tans dosent aan die Universiteit van Pretoria. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Frans behaal die BSc-graad en is tans besig met die MSc-graad aan die Universiteit van Pretoria. Louise is ‘n derdejaar BCom-student aan die Universiteit van Noordwes en Carien is ‘n leerling in graad 9 aan die Hoërskool Overkruin in Pretoria.

In ‘n huldeblyk getuig die NG Gemeente Haakdoorn: “Dr Hennie laat ‘n groot skat hier in Haakdoom: hy het ons geleer om die Woord van God te oordink, te bespreek en uit te leef. Indien daar onsekerhede oor ‘n saak was, het hy dit altyd terugverwys na die Woord. Daarom kon hy toe alles uit sy hande geneem was en hy nie beheer oor sy siekte kon uitoefen nie, sê: “My enigste troos in lewe en in dood is dat ek aan JesusChristusbehoort”. Sy laaste woorde wat in elke gemeentelid se hart bewaar word, was: `Ek weet my Verlosser leef. Dominee, doktor, Doom, oom Doomnie, oom Hennie, Hennie was vir ons ‘n leraar, ‘n mentor, ‘n leier, ‘n vriend maar boweal ons broer in Christus.” (Jaarboek ).