Die weeshuis op De Rust (ook bekend as Lentelus) het ontstaan as gevolg van die griepepidemie van 1918 toe so baie kinders ouerloos gelaat is. In 1919 het die Algemene Sendingkommissie (ASK), die plaaslike kerkraad genader om ‘n weeshuis aldaar in te rig. Aan die versoek is voldoen en in Julie 1920 is die inrigting geopen. Die weeshuis bied ruimte vir vyftig dogters. In die 31 jaar van sy bestaan het alreeds 250 dogters deur sy poorte die wereld ingegaan. Hulle het uit alle dele van Suid-Afrika gekom. Die dogters woon die gewone hoërskool by en kan die gewone leerkursus tot st. X volg. Hulle neem deel aan die gewone aktiwiteite van die skool en die plaaslike gemeenskap — sekerlik een van die groot voordele van ‘n weeshuis op ‘n plattelandse dorp. Die inrigting word bestuur deur ‘n komitee deur die plaaslike kerkraad benoem, tesame met twee verteenwoordigers van die Ring van Prins Albert, asook twee verteenwoordigers van die Departement van Volkswelsyn.
Die inrigting is in 1971 gesluit en die gebou is kort daarna gesloop.
BRON: NG Kerk Jaarboek 1952