DIE SENDINGINSTITUUT, WELLINGTON

Die Sending Instituut op Wellington

Die opleiding van Sendelinge het begin toe ds GR Ferguson in 1876 spesiaal vir hierdie doel uit die VSA in Wellington aangekom het. Op 10 Junie 1876 stel dr Andrew Murray die oprigting van die Sendinginstituut in De Kerkbode bekend. Die hoeksteen van die nuwe gebou is op 18 Mei 1882 deur prof NJ Hofmeyr gelê. Op 14 Mei 1883 het prof JI Marais die inwydingsrede gelewer. Die ruim en sierlike Murray Jubileumsaal is op 9 Mei 1905 ingewy. Klik hier vir die lys van studente wat hier opgelei is.

 

Klik hier vir ‘n oorsig oor die geskiedenis van die Sendinginstituut: Sendinginstituut op Wellington (herdenking Des. 1981)

Die naam Donkie – ‘n waardige en erenaam

Ontstaan van die Donkie-beweging op Wellington

 Ter aanvang van hierdie navorsingstudie oor die Donkies van Wellington noem ek, terwille van die oningeligtes, waar die Donkie-naam vandaan kom.

Aan die onderent van Hoogstraat in Worcester staan ‘n indrukwekkende gebou wat besoekers aan Worcester dadelik tref — die pragtige, geskiedkundige ou Drostdy-gebou, verklaarde historiese monument en die spil waarom die ontwikkeling van HTS Drostdy oor die afgelope meer as ‘n eeu gedraai het.

Oor die ontstaan van die Donkie-naam is daar nogal meningsverskil, maar dit blyk dat die naam tog uit die beginjare van die Drostdy as “Boeren Zending School” dateer. By die opening van die skool in 1903 was daar, onder andere, sewentien studente van die reeds bestaande Wellingtonse Sendinginstituut teenwoordig, want die Drostdy sou voortaan die voedingsaar vir die inrigting wees.

Dat die sending egter nie op die agtergrond geskuif was nie, spreek duidelik uit die lesing van Prof John Murray tydens die inwyding. Hy het o.a. gese, “Als de hoogste eer voor onze school zullen wij het achten indien wij eens onder hare kweekelingen mannen mogen zien, die, waardig dat hunne diensten als herders en leeraars begeerd worden door de gevestigde Christengemeenten van hun geboorteland, zich opgewekt gevoelen zullen, om naar een hogere eere post te staan, en zich aanbieden zullen om den naam van Christus te dragen voor de heidenen in ver verwijderde deelen van Afrika!’

Toe die Wellingtonse sendingstudente daarna aan ‘n naam begin dink, het ds. Andrew Murray met die naam ”Donkie” vorendag gekom na aanleiding van Christus se intog in Jerusalem op die rug van ‘n donkie. So sou die donkie die sendeling as draer van die Christus evangelie voorstel. Teen hierdie agtergrond is die naam Donkie dus ‘n waardige erenaam.

Toe die Drostdy in 1911 ‘n industriële skool word en sy direkte verbintenis met Wellington se Sendingskool verloor, was die naam Donkie egter reeds so ingeburger dat dit gebly het en honderde Donkies oor die jare, deur die Drostdy, die lewe sou binnegaan.

Twee teoriee oor die ontstaan van die naam Donkie

Daar is meer as een verkiaring vir die ontstaan van die naam Donkie.

As gevolg van ‘n verwoestende winterstorm van 19 tot 25 Julie 1822 is die Drostdy op Tulbagh erg beskadig en is die landdrossetel deur die destydse Kaapse goewerneur, Lord Charles Somerset,van Tulbagh na Worcester verskuif. Aan die begin van 1823 begin die bouwerk aan die Drostdy op die pas gestigte Worcester en alhoewel dit nog nie heeltemal voltooi is nie, kon die gebou in 1825 betrek word. Kaptein Charles Trappes was die eerste landdros van die nuwe setel en dus ook die eerste bewoner van die Drostdy-gebou. Hy is op 25 September 1828 op 52-jarige ouderdom oorlede en is op die Drostdy terrein begrawe langs die huige A-rugbyveld en die pawiljoene.

Aangesien die Breerivier telkens sy walle oorstroom het, ontwikkel Worcester in ‘n oostelike rigting sodat die Drostdy op die westelike grens van die dorp geleë is. Nadat ‘n nuwe magistraatskantoor in die sentrale deel van die dorp in 1893 gebou is, dien die ou Drostdy-gebou tot die einde van 1902 uitsluitlik as woning vir die magistraat.

Aan die begin van 1903, 80 jaar na die oprigting van die Drostdy-gebou, begin ‘n heel nuwe fase in die geskiedenis — die fase van onderwysinrigting waarvan die honderdjarige bestaan in 2003 luisterryk gevier kon word. Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) spreek talle Boere-krygsgevangenes die wens uit dat hulle as sendelinge opgelei wil word. Toe die Drostdy-gebou dus in 1902 te koop aangebied word, word dit deur die NG Kerk Worcester aangekoop, nadat die kerkraad £2000 geskenk het en die Drostdy van die Regering 10.5 morg grond aangekoop het (Dreyer: Historisch Album, bI. 182) Kaapstad:. Op Donderdag, 12 Februarie 1903 open die “Boeren Zending School ”amptelik. Ds. A.F. Louw van Graaff-Reinet word die eerste skoolhoof. In 1911 word dit ‘n industriële skool onder die amptelike benaming “Drostdy School.”

Die ledetal styg steeds en in 1925 neem die departement van die Unie-onderwys die skool oor en word dit ‘n ambagskool. Sedert 1944 staan die Drostdy-skool amptelik as die Hoer Tegniese Skool Drostdy bekend en gaan dit van krag tot krag tot die trotse instelling wat dit later vergestalt.

In 1919 het Drostdy se eerste rugbyspan hul eerste wegwedstryd gespeel  teen die Akkedisse op Villiersdorp. Al vervoermiddel tot hul beskikking was ‘n wa en span donkies waarmee die eerste span reeds die Vrydagoggend om tienuur vertrek en die middag bat op Villiersdorp aangekom het. Die hoof en afrigter, mnr. CJ. Krynauw, is eers die middag drie-uur met ‘n motorfiets en syspan uit Worcester weg.

Die Villiersdorpers het die Drostdyers op die donkiewa baie amusant gevind en hulle is dadelik as die Donkies gedoop. Die Donkies het egter gewys waartoe hulle in staat is en die Saterdagoggend die Akkedisse 4-0 op hul tuisveld geklop! (‘n skepskop het destyds nog 4 punte getel.)

Die ander mening (miskien die meer gewilde en aanvaarbare mening) oor die naam Donkie is vir die indiensstelling dat dit ‘n voorstel van dr. Andrew Murray was met verwysing na die Here Jesus se intog in Jerusalem op ‘n donkie (Matt. 21:2-4). Die profeet Sagaria het voorspel dat Jerusalem se koning aan die kom is en dat Hy nederig is en op ”die hingsvul van ‘n donkie ry” (Sag. 9:9).

Vandaar die naam Donkies vir die sendingstudente, want hulle is geroep om die Here Jesus en die Christelike Evangelie Afrika in te dra. Die leuse van die Opleiding-skool is “Afrika vir Christus’ Teen hierdie agtergrond gesien, is die naam Donkie ‘n waardige erenaam om die Evangelie van Jesus Afrika in te dra.

Uit: “Naamdraers van Jesus – Wellington se donkies” deur dr Pieter Bingle