Die Lagersdrift Nedersetting van die kerk, wat gestig is in die jaar 1902, is geleë 45 myl ten noordooste van die dorp Middelburg, en 7 myl van die spoorwegstasie Stoffberg. In die drukkende tyd wat ontstaan het kort na die Anglo-Boereoorlog het die kerk dit noodsaaklik geag om ‘n reddende hand uit te steek tot die sedelike en maatskaplike opheffing van ‘n deel van ons verarmde volk deur diegene wat in die dorpe en stede te lande gekom het weer op die land te plaas, te voorsien van die mees nodige en binne die bereik van geestelike bearbeiding te bring. Ds. A. P. Burger, emeritus-predikant van Middelburg, Tvl., die vader van die inrigting, het hom baie beywer in die saak, en sy naam staan onuitwisbaar gegraveer in the geskiedenis van die nedersetting.
Met die spoorweg so naby is die kanse om die boerdery in ander rigtings as net koringboerdery te stuur, vergemaklik. Daar is in 1952 81 families met ‘n sieletal van ongeveer 400. Die amptenare, onderwys personeel, en koshuisbewoners bygereken styg die sieletal tot sowat 620. Daar word toegesien dat verdienstelike families voorkeur kry. Hulle betaal £6 per jaar per perseel, geniet die voorregte van ‘n goeie skool vir hulle kinders, ‘n deeglike verplegingsdiens, onderrig in intensiewe boerdery, hulp met ko-operatiewe bemarking. Die distriksgeneesheer, dr. O. M. Malan, woon op die nedersetting, en hy en sy eggenote is ‘n baie groot aanwins vir die werk daar, ook op sosiaal en kerklik gebied. Vaste maatskapllke reëls geld op die nedersetting en vir die geestelike bearbeiding word gesorg. Onlangs is ‘n saal gebou deur die bewoners self, met seer weinig hulp van die Kommissie, om te dien as sentrum vir geestelike, kulturele en sosiale opheffing. Volgens Sinodale besluit rus daar op die kerk ‘n verantwoordelikheid van £1,000 per jaar vir die administrasie en bestuur, en die bedrag is verdeel onder die gemeentes. Ook het die Sinodale Kommissie vir Armesorg twee doelmatige koshuise daar opgerig, een vir seuns en een vir dogters, bestem vir behoeftige kinders uit die hele Transvaal. Daar is in 1952 109 kinders wat ‘n goeie skoolonderrig sowel as ‘n deugdelike opvoeding geniet onder toesig van die kerk. Die lnrigtings kos saam met die grond £13,300 en is afbetaal. Van die Administrasie ontvang hulle £13 l0s. per kind per jaar, en 5 persent op the oprigtingskoste. Die vernaamste produkte is mielies, koring, tabak en neute. Aan neuteboerdery word nou besonder aandag gegee. Ook is daar ‘n huisvlytskool vir die dogters, en ‘n landbouskool vir die seuns, sorterende onder die Unie-Onderwys-departement. Die nedersetting het ook sy eie winkel en koringmeul. Die winkelbestuurder is mnr. M. J. du Toit. Aan die hoof van die nedersetting staan mnr. P. J. Verster, as superintendent.
Bron: NG Kerk Jaarboek 1952