Die Goedemoed Nedersetting is in 1911 deur die Vrystaatse Kerk met behulp van die Regering gestig aan die oewer van die Grootrivier/Oranjerivier in die distrik van Rouxville. Dit lê 33 myl van Rouxville, 22 myl van Aliwal-Noord en 36 myl van Bethulie en die posadres is Goedmoed oor Aliwal-Noord. Dit word bearbei onder toesig van die Kerkraad van Rouxville deur ‘n blinde sendeling Eerw. F. W. Potgieter en sy eggenote. Die boer, J. M. Odendaal van Wildebeestlaagte, ageer as superintendent in die plek van sy onvergeetlike broer, wyle die boer H. J. Odendaal, L.U.K., wat vir jare sy getroue aandag aan die nedersetting gegee het. Daar is ‘n goeie skool daar, wat opleiding gee tot Standard VIII. Net inwoners van die Vrystaat, wat reeds vyf jaar hier woonagtig is, word toegelaat as koloniste.