De plaats, die de naam draagt van Kakamas, is de Arbeids-Kolonie van de Ned. Ger. Kerk in de Kaap Provincie. Zijn is ’n middel door de kerk bij de hand genomen om verarmden en verwaarloosden van ons volk, die tegelijk tot haar behoren, tegemoet te komen. Met deze nedersetting beoogt de Kerk een drievoudig doel, n.l. (1) om voor verarmden stoffelik bestaan te vinden, (2) om aan hunne kinderen verstandontwikkeling te verschaffen, (3) om de reeds genoemden onder behoorlik geestelike bearbeiding te krijgen”.
Die Kakamas Arbeidskolonie is geleë aan altwee oewers van die Grootrivier/Oranjerivier, waaruit die water in twee groot kanale (die suidelike 17 myl en die noordelike 25 myl lank) gelei word. Hiermee kon die kerk ‘n arbeidskolonie skep vir die ‘armblanke-boere’ wat alles verloor het as gevolg van ‘n langdurige droogte en ‘n runderpes-epidemie in 1897.
Op 4 Julie 1898 is ‘n begin gemaak met die uithaal van die kanaal op die suidelike oewer van die Oranjerivier deur gebruik te maak van die armes self wat vir ‘n geringe loon gewerk het. Van alle oorde het mense gekom deur die nood gedruk en dankbaar vir die uitkoms wat aangebied word. Voor die eerste graaf in die grond gesteek en die eerste ysterboor in die rots gehamer is, is die werksaamhede met ‘n godsdiensoefening begin. Die lede van die Arbeidskolonie kommissie en predikante van omliggende gemeentes was teenwoordig.
Op 13 April 1899 is ook ‘n begin gemaak met die uitgrawe van die kanaal aan die noordekant van die rivier. Die Kerk het nege plase of gedeeltes van plase aan die noordekant uit eie fondse gekoop. Die eerste koloniste het hulself nie gespaar, nie en durf en werkkrag aan die dag gelê. Van die kant van die A.K.K. het dit nooit ontbreek aan aanmoediging, raad en geldelike steun nie. Sommige van die eerste koloniste se kinders maak vandag ‘n goeie bestaan daar. Ook het in die loop van jare nuwe gesinne gekom om die plek van vertrekkendes in te neem of op nuwe hoewes geplaas te word. Vandag is daar 600 gesinne wat ‘n goeie bestaan maak. Die nedersetting het sy eie gemeentes, sendinggemeente, skole, hidro-elektriese installasie, koring- en lusernmeulens. winkels en motorhawe. Die vernaamste produkte is lusern, ertjies, sultanas, ens. ook word teenswoordig heelwat aandag aan katoen gegee.
Daar lê reeds verskeie dorpies (Kakamas, Albeit, Marchand, Schroder, Lutzburg, Cillié, Truter), en onlangs is daar ‘n mooi kerkgebou opgerig. Teen 1950 was daar reeds nege skole met sowat 1,000 kinders. Elke kolonis kry ‘n erf van omtrent 6 morge, met vry gebruik van water, en daar was reeds 2,900 morge onder besproeling. Die Kommissie het sy eie winkels en ‘n groot hidro-elektriese motor wat dryfkrag aan die twee meule verskaf. Die feit dat daar reeds twee bloeiende gemeentes op die Arbeidskolonie bestaan getuig op sigself van die seën wat op die werk rus. Spoorwegverbinding met die hooflyn na S.W.A., ‘n groot lusernmeul wat hooi vermaal tot meel vir oorsese mark, twee groot brue oor Grootrivier/Oranjerivier wat verskillende dele van die Arbeidskolonie nou verbind, stigting van ‘n tak van Standard Bank hier, sultana- en katoenboerdery, en Hoërskool (tot by matrikulasie) wat Kakamas tot sentrum van onderwys maak. In 1952 was die blanke bevolking ongeveer 4,000.
Bronne:
NG Kerkjaarboek 1952