Die nagenoeg 12 000 oorlogswesies het Kriel so diep geraak dat hy eers ‘n klompie oorlogswesies in die pastorie opgeneem het en daarna die Langlaagte-weeshuis op 4 September 1902 met sewe kinders geopen het. Voor die einde van daardie eerste jaar was daar 92 en teen September 1903 reeds 245. Hy het egter sedert sy bevestiging in Langlaagte gehelp met die versorging van wees- en hawelose kinders. Mej. Maria Kloppers, ‘n Bolandse maatskaplike werkster van die Vrouesendingbond, het hom van 1896 af bygestaan en was uit die staanspoor betrokke by die weeshuis.
Buiten op Langlaagte, het ds. J.M. Louw van Boksburg en ds. A.P. Burger van Middelburg, Transvaal onderskeidelik in Oktober en November 1902 ook weeshuise gestig. Die weeshuis op Boksburg is in 1904 en dié op Middelburg in 1908 by Langlaagte ingelyf. Onder ds. Kriel en mej. Kloppers se leiding het die weeshuis meer en meer erwe en in 1913 selfs twee plase aangekoop. Die kinderhuis het geen vaste inkomste gehad nie, maar kon deurentyd kop bo water hou en die nodige middele kry, soos ds. Kriel dit gestel het, “in antwoord op gebede”. Aan dr. William Nicol, van 1913 tot 1938 leraar van Johannesburg-Oos, het ds. Kriel op ‘n keer gesê: “Ek dank die Here dat ek gehoorsaam was, maar vol geloof was ek ongetwyfeld nie. Telkens as ek vir myself sê dat ek moet glo, word ek bang. Maar as ek sommer in gehoorsaamheid die oë toemaak en my opdragte aanpak, sorg die Here dat alles regkom.” Met sy dood in 1928 was daar meer as 600 kinders in die tehuis, wat toe na die stigter genoem is.
Die kinderhuis het aanvanklik geen vaste inkomste gehad nie, maar word in antwoord op die gebede van die stigter en sy personeel steeds van die nodige middele voorsien sonder dat dit ooit vir hulle nodig was om te vra om skenkings. Uit die staanspoor wys Kriel hoe prakties ingestel hy was deur die kinders nie net in die gewone skoolvakke te laat onderrig nie, maar ook in ambagte soos steenwerk, kleremakery, skrynwerk, boerdery, loodgieterswerk en onderwys. Die tehuis het teen 1960 so aangegroei dat dit toe 900 kinders gehuisves het. Ná Kriel se dood in 1928 is die kinderhuis se naam verander in die Abraham Kriel-kinderhuis.
Kinders word opgelei, behalwe in die gewone skoolvakke, ook in die volgende ambagte: messel-, smids-, timmer- en loodgieterswerk, huishoudkunde en modemakery; en boerdery op die plase Moria, Hartbeestfontein en Vierling.
BRONNE:
NG Kerk Jaarboek 1952