Dednam, Jan Willem

Ds. Jan Dednam.

Gebore

24 Jul. 1904

OORLEDE

10 Jun. 1996

UNIVERSITEIT

 B.A., US

gelegitimeer

1931

ORDEN

1935

STANDPLASe

Vergenoeg

1943 Premiermyn

1947 Roossenekal

EMIRITEER

Ds Jan Willem Dednam BA 24 Jul. 1904 – 10 Jun. 1996

Jan Willem Dednam was byna 93 jaar oud by sy afsterwe. Hy was ‘n kleurryke figuur wat uit ‘n geslag kom en dinge beleef het wat lank reeds verby is. Gelukkig het hy self sy lewensverhaal te boek gestel waaruit baie dinge, aangaande homself nie, maar ook, aangaande die omstandighede van destyds aangeteken is. Die kern van sy lewensverhaal was die tyd toe hy predik van die Vergenoeg-gemeente in Kenia was.

Hy is op die plaas `Zoverbij in die distrik Lindley gebore. Sy oupa John William Dednam (na wie hy ook in verafrikaansde vorm vernoem is) het saam met die 1820-Setlaars na Suid-Afrika gekom. Sy vader, Alfred Izak Dednam, was aanvanklik Engelssprekend, maar het gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die boere onder generaal De Wet geveg. Sy vrou is in die konsentrasiekamp te Bethulie oorlede. Hulle het toe reeds sewe kinders gehad. Hy trou toe met ‘n weduwee Martha van Eeden wat ook reeds vier kinders gehad het. Saam het hulle nog ook drie kinders, waarvan Jan Willem die oudste was (daar was dusaltesame 14 kinders); Hulle verhuis later na die plaas ‘Bredenkamp’ by Dingle naby die huidige Sishenmyn.

Sy eerste skool was in die waenhuis van ‘n boer op Wright, wie se dogter die onderwyseres was. Hy moes onder andere daar die `donkie-plakkaat dra omdat hy Afrikaans gepraat het. Sedertdien wou hy nooit Engels praat nie en het hy ‘n renons in die taal gehad.

In 1913 word ‘n goewermentskool op Dingle gebou en gaan Jan Dednam daar skool tot in standerd ses. Hy wou nie verder leer nie, maar ‘n maat oorreed hom om saam met hom na ‘n skool op Robertson te gaan waar hy in die seunskoshuis `Rob Roy’ tuisgaan. Aanvanklik het dit moeilik gegaan. Hy word terug geplaas na standerd vyf en staan 27ste in ‘n klas van 28. Hy het egter uitgeblink op sportgebied en het ook gou akademies verbeter en een van die voorste presteerders geword. Net Engels was die struikelblok totdat ‘n onderwyser, wat geweet het dat hy toe reeds besluit het om predikant te word, aan hom gesê het dat hy nooit eers in die hemel sou kom sonder Engels nie! Hy behaal sy matriek in 1924.

In 1925 gaan hy na Stellenbosch en in 1928 na die Teologiese Kweekskool daar. In sy finalejaar het die stryd teen prof Du Plessis ‘n hoogtepunt bereik en was die studente verdeel tussen die `oupajane’ en die `modemiste’ . Daar was selfs in daardie dae al stakings onder die studente as gevolg daarvan. Dit het egter goed gegaan met sy studies en hy het ook uitgeblink in boks en rugby.

Omdat baie teologiese studente in daardie jare ook nie beroepe kon kry nie, het hy eers op die plaas Bredenkamp vertoef en toe geleer om allerhande herstelwerk aan byvoorbeeld motors en windpompe te doen. Dit het hom later handig te pas gekom.

In 1932 het die eerste van ‘n aantal tydelike hulpdienste na sy kant gekom, naamlik op Aberdeen waar hy ‘n paar maande kon uithelp. Daarna het hy op Benoni uitgehelp tydens die verlof van die leraar en in 1933 op Belfast. (Op Benoni het hy sy eerste motortjie, wat hy `Spinnekop’ genoem het, gekoop en hom die eerste dag al omgegooi.) Daarna het hy op Amsterdam vir ses weke afgelos. In daardie jaar is die kerk-en-staat Armsorgskema in die lewe geroep, waarin ds Thos Cronje van Lydenburg ‘n belangrike rol gespeel het. Die pos van sekretaris vir hierdie saak op Lydenburg, word toe aan Jan Dednam aangebied en hy loseer in die pastorie op Lydenburg. Hier het hy vertroud geraak met armsorg werk en het hy talle jongmense gehelp om werk te kry by die konstruksie van die Loskopdam.

Aangesien ds Thos Cronje ook die konsulent van die Vergenoeg-gemeente in Kenia onder die uitgeweke Afrikaners was, en die leraar juis toe afgetree het, daag hy vir Jan uit om namens die Ring van Lydenburg daar te gaan werk. Hy aanvaar dit en word in Mei 1935 te Lydenburg georden. Die verste gemeentelede het 320 kilometer vanaf   Eldoret gewoon. Daar was egter groot opkomste met kerkgeleenthede, veral met nagmaal. Die gemeentelede het algaande begin navraag doen of hy dan nie gaan trou nie. So skryf hy aan Gertie (Gertruida Maria) Stoltz wat hy voorheen op ‘n troue te Lydenburg waar sy gesing het, ontmoet het, en raak hulle oor die pos verloof. Die bruid is per motor na die destydse Lourengo MariUSgeneem en na ‘n 12 dae lange bootreis na Mombasa is sy vandaar per trein na Veldore. Die huwelik het plaasgevind tydens nagmaal in Oktober 1935 en die hele gemeente was feestelik teenwoordig. Hulle oudste seun, Alfred, is in 1936 gebore en in die volgende jaar is ‘n reis terug na die destydse Unie onderneem. So is die tweede seun, Gabriël, op Lydenburg gebore. Nog ‘n seun, Tertius, en ‘n dogter, Anna, is in Kenia gebore.

In April 1940 tref ‘n ramp die gesin toe Gawie polio opdoen. Op dokters aanbeveling gaan hulle terug na die Unie vir beter mediese sorg. Ds Dednam sluit by die leër aan en word die eerste Afrikaanse veldprediker in die Suid-Afrikaanse magte buite die Unie se grense.

Hy word na Mombasa in Kenia gestuur. Nadat ‘n groot groep soldate na Egipte gestuur is, word hy na Kismayo (‘n Italiaanse duikbootbasis wat deur die Suid-Afrikaanse magte verower is) in Italiaans-Somaliland verplaas waar hy as bevelvoerder van die groep optree. In 1941, is hy terug na die Unie.

Hy dien toe verder as veldprediker by die Premiermyn. Aan die einde van 1946 word hy beroep na die NG Gemeente Roossenekal, naby Middelburg in die destydse Transvaal. Die kerkgebou van hierdie gemeente is by Laersdrif gebou, wat 15 myl daarvandaan was. Hieroor was groot ontevredenheid en lidmate het as gevolg daarvan bedank. Die kerk het De Lagersdrift Arm Kolonie daar gestig en ds Dednam het hulle bedien.

Jan het diep spore in hierdie gemeente waar hy vir 25 jaar lank vriend, herder, vredemaker en algemene meganikUSwas.  Op ‘n klein plasie het hy ook (teen ‘n verlies) geboer.

Hy tree op 6 November 1971 af en hy en sy vrou het hulle in Pretoria by Gawie wat intussen onderwyser geword het, gevestig.  In 1984 is sy vrou, Gertie, na ‘n lang siekbed oorlede.  Twee jaar later trou hy met Lina Rautenbach en gaan woon hulle op ‘n plasie buite Pretoria.  Nadat hulle kragte begin afneem het, het hy (heel gepas) by Huis Vergenoeg in Villieria gaan woon, terwyl sy vrou intensiewe sorg by haar dogter ontvang het.

Hy was baie sterk en het tot op 90 jaar nog sy motor bestuur.  Gedurende die laaste twee jaar het sy kragte egter vinnig afgeneem tot met sy dood op 10 Junie 1996 – Gawie Dednam, verwerk en verkort deur DJ Viljoen. (Jaarboek ).