
Die Decoligny Teologiese Skool het ‘n voorgeskiedenis. In 1872 is ’n sooikerkie gebou vir die klompie Afrikaners wat genooi is om langs die Cicirha-rivier te boer. Later het belangstelling in die sending in dié omgewing ontstaan. Dit sou in 1900 deel van ds. Samuel Helm, predikant van die N.G. Kerk Mthatha-gemeente, se taak word. Hy het selfs twee Xhosa-sprekendes as evangeliste opgelei – die een moontlik Andrew Jama en die ander Salmon Mantonjane. Ná ds. Helm in 1904 vertrek het, het hierdie pionierswerk in Transkei egter doodgeloop. Met verloop van tyd het die meeste blankes vanaf Cicirha na die nabygeleë dorp Mthatha verskuif, terwyl die naam Cicirha ná 1940 met Decoligny vervang is. Hierdie verandering het plaasgevind ter ere van ds. George de Coligny Murray wat vanaf 1926 tot 1942 waardevolle diens aan die sending in Transkei gelewer het.
Soos hierbo genoem, is daar aan die einde van die negentiende eeu individuele pogings deur N.G. Kerk se sendelinge en predikante aangewend om evangeliste op te lei. In 1908 het die deur egter vir gesamentlike opleiding by die Stofberg-Gedenkskool oopgegaan. Ds. Oosthuysen (snr.) van Isilimela in Transkei het na 1932 ‘n aantal studente na Stofberg vir hul opleiding gestuur. Studie by Stofberg was egter vir hierdie manne wat graag evangeliste wou word ‘n struikelblok. Dié Skool was baie ver en die gebruik van slegs Afrikaans en Sotho in die opleiding het hulle van onderrig in hul moedertaal ontneem. Vir die eerste ses maande kon hulle beswaarlik die klasse volg. Hierby was die gedagte dat die behoefte vir Transkei eerder ‘n “ongestudeerde” tipe evangelis was: “Kandidate wat hiervoor gekwalifiseer het, was nie akademies sterk genoeg om by die Stofberg-kursus opgeneem te word nie” (De Villiers 1975:265). Op hierdie stadium was daar in die hele Kaapland slegs ongeveer tien evangeliste.
Xhosa-sprekende kandidate is nogtans vir ‘n hele aantal jare na die Stofberg-Gedenkskool gestuur. Reeds in 1931 het die verteenwoordigers van die Kaapse Kerk by die Stofberg-bestuur aanbeveel dat die tyd ryp was om ‘n opleidingskool vir evangeliste in Transkei te begin. In ‘n latere verslag, “Rapport oor die werk in die Evangelisteklas gedurende 1944”, is die volgende argumente o.a. gebruik ten gunste van die moontlikheid om ‘n opleidingskool vir evangeliste in Transkei te vestig:
- Op daardie stadium was daar 81 studente in die evangelisteklas by Stofberg waarvan slegs sewe Xhosa- en 34 Zoeloesprekendes was, terwyl daar ‘n groot gebrek aan Xhosa-sprekende evangeliste in die ses ringe van die Kaapprovinsie was.
- Al het die meeste van die fondse van die Kaapprovinsie af gekom, is die meerderheid van die Stofberg-studente in die Vrystaat en die Transvaal gebruik.
- Omdat die Xhosas meestal in Transkei en die Oostelike Kaapprovinsie gewoon het, was dit ver om hulle na Stofberg in die Vrystaat te stuur.
- Ook wat die ander sendinggenootskappe betref was daar geen opleiding vir evangeliste in Transkei nie.
Daar is ook op enkele teenargumente gewys: Stofberg is teen ‘n koste reeds goed gevestig; dit bind die vier aparte N.G. Kerk sinodes aan mekaar; onnodige vermenigvuldiging van werksaamhede sou volg (De Villiers 1972: 311-312).
By die Kaapse Sinode van 1940 is die posisie in oënskou geneem en aanbeveel dat stappe geneem word om opleiding by Decoligny op die voetspoor van die Stofberg-Gedenkskool te begin (De Villiers 1972:312). In 1945 is ‘n kommissie van die Transkei-Sendingraad benoem om die volgende sake betreffende evangeliste te ondersoek: die opleiding; aanstelling en salarisse; verplasing; tug; pensioene.
Intussen het die behoefte aan swart Xhosa-sprekende werkkragte, mans maar ook vroue, gaandeweg gegroei. Die eerste konkrete ontwikkeling in hierdie verband was die opleiding van kerklik-maatskaplike werksters. In 1943 is dit deur die Vrouesendingbond van die Kaap by Decoligny begin. Die eerste damesdosent was M. H. Theron en sy is deur E. Kies, I. Oosthuysen en M. Oelofse opgevolg. In 1949, nadat ‘n hele klomp werksters reeds opgelei is, is egter besluit om hierdie opleiding te staak aangesien die aanvraag vir sulke werksters te laag was. Later het sommige van hulle met evangeliste getrou (Crafford 1982:116).
In 1946 is die opleiding van evangeliste by Decoligny deur ds. J.C. Oosthuysen begin met ‘n klas van vier studente en ‘n bruin lekeprediker wat deeltyds gestudeer het. Wat was ds. Oosthuysen se motivering? “Toe ons kerk … ernstig in die Kaapprovinsie en Transkei begin werk het, het ek ingesien dat ’n eie evangelisteskool vir Xhosasprekendes noodsaaklik is om ons te help om gouer méér evangeliste in die veld te kry. Gevolglik het ek my daarvoor begin beywer…. Dit was ’n groot dag in my lewe toe ek die evangelisteskool op 10 Februarie 1946 kon begin, nadat ek aangebied het om naas my ander werk aanvanklik ook as dosent op te tree. In antwoord op ons gebede het die Here vier studente gestuur (waarvan) drie Xhosa (was)” (Oosthuysen 1972:58, 59). Die evangelisteskool was onder die toesig van die Transkei-Sendingraad. Sedert die begin is die klasse in ‘n gebou gehou wat eers as skool vir Afrikaanse kinders en toe vir Xhosa kinders gebruik is. Dit het ook die biblioteek gehuisves. Aan die einde van 1947 het John Mkondwana (wat vanweë vorige ondervinding ‘n jaar ‘afslag’ gekry het) sy studies voltooi en die volgende jaar het W. Hadi, G. Magwaca en W. Mnomia aan die beurt gekom – die eerste groepie wat as klas hul studies afgerond het.
Die koste van die kursus was £15 per ongetroude student en £18 vir getroudes.
Sedert 1948 is die opleiding van evangeliste deur ds. P.E.S. Smith as voltydse dosent behartig. Op daardie stadium was daar altesaam 12 studente, waaronder twee Ovambo’s van die Finse Sendinggenootskap, oor die drie studiejare versprei. Enkele sendelinge het as hulpdosente diens gedoen: W.E. Searle, A.M. Pienaar en J.A. Greyling. In 1952 is ds. Smith deur ds. J. du Preez opgevolg. Aan die einde van 1955 was die aantal studente wat sedert 1946 as evangeliste klaargemaak het, 37 in totaal, terwyl ‘n verdere 20 die volgende jaar ingeskryf het. In 1956 het ds. Du Preez in ‘n brosjure die sinvolle vraag beantwoord: Wat is die doel van hierdie inrigting? “Decoligny evangelisteskool het ten doel die opleiding van Xhosa-sprekende lidmate van die N.G. Bantoekerk, wat die roeping ontvang om as evangeliste die lig van die ewige evangelie van Jesus Christus onder volksgenote in te dra, van wie nog honderd-duisende in die donker nag buite Christus rondtas. Op hierdie wyse probeer Decoligny om ter aanvulling van die groot werk wat in hierdie verband op die Stofberg-Gedenkskool gedoen word, geskikte evangeliste te voorsien – meer spesifiek met die oog op die uitbreiding en vestiging van die N.G. Bantoekerk in Kaapland” (Du Preez 1956:6).
Formele Aspekte van die Opleiding by Decoligny
Die kandidate wat aansoek om toelating tot die evangelisteskool wou doen, moes aan sekere vereistes voldoen. Met die jare is die vereistes verander of uitgebrei:
- Minstens drie jaar lank lidmaatskap van of verbondenheid aan die N.G. Bantoekerk.
- Tussen die ouderdomme 20 en 50.
- ‘n Goeie kennis en gebruik van Xhosa (praat, lees en skryf).
- Minstens ‘n st. 6-sertifikaat.
- ‘n Motiveringsbrief oor roeping.
- ‘n Getuigskrif van die plaaslike kerkraad oor die kandidaat se geloof, lewenswandel, roeping en gawes.
- ‘n Aanbeveling van die Ring wat ná ‘n onderhoud uitgereik is.
- Toelating vir ‘n jaar waarna die kandidaat se leer en lewe sal bepaal of hy kan voortgaan.
- ‘n Mediese sertifikaat oor goeie gesondheid.
- Geen skuld.
- Getroudes se gesinne kom saam – met slegs eie kinders.
- Die hoof-belasting vir die vorige jaar moet betaal wees.
- £2 kontant vir eerstejaars en daarna £1 per jaar vir aantekening- en studieboeke.
- ‘n Getekende verklaring dat by die reëls van die Skool gehou sal word.
Hoe het die evangeliste se kurrikulum aanvanklik gelyk? Die kursus het oor drie jaar gestrek met die volgende teologiese vakke: Inleiding en Eksegese van die Ou Testament en die Nuwe Testament; Bybelgeskiedenis; Dogmatiek, Sektewese en Kerkwette; Praktiese vakke – Sielsorg, Sketse en Preke; Kerk- en Sendinggeskiedenis; Sondagskool- en Katkisasie-metodiek; Preekkunde; Inrigting van die erediens. Verdere hulpvakke is aangebied: isiXhosa, Afrikaans, Rekenkunde en Boekhou, Algemene kennis en Sang. Wat die vroue betref: Inleiding tot die Ou Testament en die Nuwe Testament; Bybelgeskiedenis; Dogmatiek; Bybeluitleg en Persoonlike werk; Biduurboodskappe; Moederkunde; Eerstehulp en Sang.
Met die oog op die dringende behoefte aan swart werkers in die kerk is in 1957 besluit om ‘n kategese-kursus vir manne met min skoolonderwys in te stel. Dit sou anderhalfjaar duur (teenoor die driejarige evangeliste-kursus) en sou alleen intensiewe opleiding in Bybelstudie en pastorale werk insluit. Slegs die eerste groep van vyf studente het die kursus voltooi en dit is aan die einde van 1958 gestaak. Die ondervinding het gou geleer dat so ‘n kursus onvoldoende was vir mense wat reeds so min onderwys het. Vanweë die wisselende onderwysstandaard van sommige studente is die evangelisteklas in 1961 in twee verdeel: ‘n ‘A’-klas en ‘n ‘B’-klas. In 1965 is egter met dié reëling weggedoen.
Vanaf 1956 tot 1970 het Ina Joubert die opleiding van die vroue van studente as voltydse dosent behartig, terwyl die dosente se eggenotes ook hul bydraes gelewer het. Die behoefte aan kerklik-maatskaplike werksters het egter nog steeds bestaan. Vanaf 1962 is sulke werksters informeel opgelei en in 1971 is besluit dat ‘n voltydse kursus by Decoligny aangebied moes word. Vanaf 1972 is so ‘n driejaar-kursus aangebied met N.A. Kotzé as eerste dosent en met sewe studente. Sy is in 1977 deur A. Retief opgevolg.
Die Lewe Op Decoligny
Hoe het die evangelisstudente – afgesien van hul akademiese aktiwiteite – hul tyd in die vroeë jare op Decoligny verwyl?
Anders as wat met baie ander sendinginstansies die geval was, was die opleiding by Decoligny tot met die sluiting van die Skool residensieel. Die studente met hul gesinne het almal in afsonderlike huise op die terrein gewoon en dit het ‘n hele dorpie op sy eie gevorm. Meubels is verskaf en getroude studente het ‘n huis gekry, terwyl ongetroudes ‘n kamer gekry het. In 1969 was dié bevolking reeds 150 mense. Dit alles het ekstra onkoste meegebring, maar die voordele was gesinseenheid en die feit dat die vroue ook onderrig vir hul latere werk kon ontvang. Daarbenewens kon die studente se kinders vir die duur van die studietyd na die skool by Cicirha gaan.
Vanaf Maandag tot Vrydag is oggendgodsdiens gehou wat deur die evangelisstudente, hul vroue, die onderwysers en kinders van die primêre skool bygewoon is. Elke diens is met die sing van die Onse Vader afgesluit. Woensdagoggende was daar ‘n bykomende biduur vir die studente alleen en is veral vir die ander teologiese inrigtings van die N.G. Kerk in die binne- en buiteland gebid.
Die klasse het vanaf 9:00 tot 12:30 geduur. Op sekere tye is handewerk soos tuinmaak, houtkap en hulp met die melkery, deur die studente gedoen. Smiddae was daar tyd vir studie en leeswerk in die biblioteek. Saterdag was dorp-toe-gaan-dag, terwyl elkeen se voedselvoorrade vir die week Woensdagmiddae uitgedeel is. Daar was so tussen alles deur soms ook ‘n tydjie vir sport. Die meeste studente het sokker gespeel – in 1972 kon Decoligny selfs ‘n span in die veld stoot, terwyl ‘n hele paar mans met hul vroue van die tennisbaan gebruik gemaak het.
Die studente se vroue het die gewone huishouding (voedselvoorbereiding, wasgoed en skoonmaak) behartig, hul kinders versorg, daaglikse klasse bygewoon en deelgeneem aan evangelisasiewerk. ‘n Bewaarskool is begin vir die babas en kleuters wie se ma’s in die klas was, terwyl ‘n voltydse stafverpleegster vir die algemene gesondheid van die gemeenskap in ‘n kliniek gesorg het. Sy het ook ‘n waardevolle bydrae wat gesondheidsvoorligting betref gelewer.
Praktiese Aktiwiteite
Sondag-oggende was elke student by een of ander vorm van evangelisasiewerk betrokke. Manstudente het twee-twee uitgegaan om preekbeurte waar te neem, katkisasie of Sondagskool te hou en algemene evangelisasiewerk te doen. Daarvoor het die nabygeleë en digbevolkte Ncise asook drie groot hospitale in Mthatha ruim geleentheid gebied. Dienste is by die opleidingskollege te Cicirha en by die Efata Skool vir Blindes en Dowes gehou. In sy vrye tyd het een van die studente gebaretaal geleer om beter met die dowes te kon kommunikeer. Die vroue is op hul beurt deur Ina Joubert en ander sendingdames begelei om hutbesoek in Ncise te gaan doen.
Die geseënde gebruik het ontwikkel om elke jaar ’n evangelisasieveldtog op uitnodiging van die gemeentes of werkkringe in Transkei te hou. Evangelisasieveldtogte was een van die maniere om die Bybelse boodskap aan ongekerstendes uit te dra. By die eerste veldtog op Isilimela in 1948 het 35 persone tot bekering gekom en die volgende jaar op Cala het 66 persone – as direkte gevolg van die veldtog – hul name opgegee om in die doopklas opgeneem te word. Die evangelisteskool op Decoligny was by hierdie veldtogte betrokke, terwyl werkkragte uit ander werkkringe in Transkei ook kom help het. Soms is daar ‘n week lank in ‘n omgewing uitgekamp. Gedurende die dag het die dosente en studente van hut tot hut geloop en gepraat met mense, terwyl saans ‘n diens in ‘n groot tent gehou is. Almal het dan ook in tente geslaap.
In 1959 het ‘n tragiese ongeluk plaasgevind. Op pad na ‘n ringsveldtog in die Bizana-distrik het die remme van die vragmotor waarop die studente gereis het onklaar geraak en die ongeluk het die dood van twee eerstejaarstudente veroorsaak, terwyl 14 ander studente beseer is.
Teen 1970 was die veldtogte gedurende die Junie-Julie vakansie ‘n vaste deel van die kursus. Terwyl dit altyd sewe dae lank geduur het, is dit in hierdie jaar na 14 dae verleng. Verskeie plekke soos Mthatha, Zithulele, Oos-Londen en die mynkampongs van Welkom waar duisende Xhosa-sprekendes gewerk het, het aan die beurt gekom.
Gedurende die lang somer- en wintervakansies het die studente gewoonlik in gemeentes of werkkringe saam met die sendeling en kerkraadslede onder lidmate en buitestaanders gewerk. Verder het hulle vanaf hul tweede jaar die hele Februarie êrens gegaan om onder toesig met gemeente- en evangelisasiewerk besig te wees. Daarna is ‘n deeglike verslag deur die persoon wat die student begelei het aan die Skool gelewer.
Bogenoemde werk het daarop neergekom dat ‘n student drie of vier maande van die jaar met praktiese werk besig was, afgesien van sy Sondag-aktiwiteite. Uiteraard het dit aan hom ruim geleentheid gebied om die teorie van die klas en die werklikheid van die praktyk bymekaar te bring.
Betrekkinge Na Buite
In die sestigerjare het Decoligny se koor geblom. In 1963 is ‘n kooruitvoering in die stadsaal van Mthatha saam met die kore van Cicirha en Efata aangebied. SAUK-opnames is ook vir Radio Bantoe gemaak. Die volgende jaar is ‘n toer na die Boland onderneem met twee doelstellings: om fondse vir die biblioteek in te samel en om ‘n paar blanke N.G. Kerk-gemeentes met die Skool se werksaamhede bekend te stel. In 1965 het 33 studente na Witsieshoek gereis om daar met hul medestudente konferensie te hou, terwyl ‘n verdere koortoer na die Westelike Provinsie en die Boland met 23 studente onderneem is.
Die teologiese skool op Decoligny het ook ‘n goeie verhouding gehad met St Bede’s op Mthatha, waar Xhosa-priesters vir die Anglikaanse Kerk opgelei is. Goeie persoonlike vriendskappe is oor en weer opgebou, ten spyte van teologiese verskille. Dr. D.J. Bosch is byvoorbeeld genooi om klasse in Kerk- en Sendinggeskiedenis by St Bede’s aan te bied. Oor die jare heen het verskeie van die Decoligny-dosente die N.G. Kerk in Afrika op die Transkeise Raad van Kerke verteenwoordig, terwyl goeie ekumeniese betrekkinge met verskeie kerke aangeknoop is. Enkele studente van ander kerke is selfs by Decoligny toegelaat. In hierdie opsig was studente van die Free Church of Scotland opvallend. Deur die bemiddeling van rev. H. Sliep is vier studente van hierdie kerk in 1975 vir die evangelistekursus ingeskryf.
Opfrissingskursusse vir besoekende leraarstudente uit Malawi is in 1965 en 1966 as gevolg van ‘n ooreenkoms met die Church of Central Africa Presbyterian gehou. Drie onderskeie groepe het die kursus bygewoon (wat origens ook vir plaaslike leraars gehou is).
Latere Ontwikkelinge
In 1958 is die teologiese opleiding van evangeliste by Decoligny met ‘n leraarsklas uitgebrei. Dié kursus vir matrikulante sou vier jaar (en later vyf jaar) duur. Die jaar daarna het die sentrale opleiding by die Stofberg-Gedenkskool in die Vrystaat tot ‘n einde gekom en is die opleiding van swart studente gedesentraliseer. Die opleiding van Xhosa-sprekendes is uitsluitlik by Decoligny voortgesit.
Twee dekades later, in 1979, het die Sinode van die N.G. Kerk in Afrika te Umgababa besluit om alle evangeliste-opleiding te staak. Elke Streeksinode het self besluit presies wanneer dit sou plaasvind. Die studente wat daartoe in staat was, is aangemoedig om ‘n matrieksertifikaat te verwerf sodat hulle tot die BTheol-kursus toegelaat kon word. Evangeliste met st. 10 of met st. 8 en drie jaar ondervinding het ook gekwalifiseer om as leraar-kandidaat te registreer. Verskeie studente het van dié moontlikheid gebruik gemaak. In 1982 het die laaste evangeliste hul studies by Decoligny voltooi en daarmee is die opleiding van evangeliste by hierdie inrigting finaal gestaak.
Woelige Jare
Die sewentigerjare was ‘n dekade met gebeurtenisryke ontwikkelinge wat die lewens van almal op Decoligny sou raak.
In 1971 het die Teologiese Skool sy silwerjubileum by wyse van ‘n konferensie gevier waarheen die oudstudente ook genooi is. Die tema: “Die nuwe lewe deur die Gees”. Die klimaks van die konferensie was die toespraak van die tagtigjarige eerste hoof van die Skool, ds. Oosthuysen, oor die korringkorrel wat moet sterf om veel vrug te dra. Ook die tweede hoof, ds. Smith, het ‘n boodskap oor “Die Teologiese Skool in diens van Kerk en Koninkryk” gelewer.
In dieselfde jaar het die sinode van die N.G. Kerk besluit om die status van die vier voltydse dosente tot professor te verhoog. Die Algemene Sinode van die N.G. Kerk in Afrika te Tshilidzini het hierdie nuus met dank ontvang.
‘n Verdere ontwikkeling was die ooreenkomste wat die onderskeie inrigtings as deel van die Stofberg Teologiese Skole met universiteite aangegaan het wat dit vir studente moontlik gemaak het om graadkursusse te neem. In 1974 het Decoligny se amptelike skakeling met Fort Hare tot stand gekom. Tot met die sluiting van die Teologiese Skool in 1991 is goeie samewerking met dié Universiteit se Teologiese Fakulteit ervaar, terwyl grade aan Decoligny se leraarstudente – van wie sommige vroeër die evangeliste-kursus geslaag het – toegeken is.
Ná Transkei se onafhanklikheid in 1976 het generaal Bantu Holomisa probeer om die Matanzima-regering met ‘n staatsgreep tot ‘n val te bring. Dit was ‘n spanningvolle tyd – veral een nag toe die inwoners van Decoligny die kanon- en geweervuur by ‘n nabygeleë militêre basis duidelik kon hoor.
Die nuwe skoolgebou is op 16 Februarie 1977 amptelik geopen. Dit het die beweging van studente en dosente tussen die klasse asook die gebruik van die biblioteek en administratiewe ruimtes heelwat verbeter.
Teologiese Opleiding by Decoligny in Oënskou
In 1958, twee jaar voor die desentralisering van die teologiese opleiding, het ‘n Kommissie van die Stofberg-Gedenkskool besin oor die opleiding van hulpkragte van die N.G. Bantoekerk. Ook die evangelis kom ter sprake. Uit hierdie gesaghebbende besinning blyk dit hoe die posisie van die evangelis op daardie stadium geëvalueer is. Dit bied ‘n insiggewende blik ook op die posisie van die evangeliste wat op Decoligny opgelei is:
“Die vergadering het ook die posisie van evangeliste bespreek. Die vergadering voel verontrus oor die feit dat baie evangeliste niks anders as pastore van gemeentes is nie, en dat hulle nie deur woord en voorbeeld die christene (sic) tot evangelisasie-ywer opwek nie. In hierdie opsig is dit noodsaaklik dat die Kerk en P.S.K.’s (Plaaslike Sendingkommissies – skrywer) die hele posisie in oënskou neem. Daar word ook gewys dat die evangeliste dikwels baie eensaam is, en sendelinge, predikante, P.S.K.-lede en ander gelowiges word versoek om ook op geestelike gebied die evangeliste te help en saam met hulle te bid.
Wat die besoldiging van evangeliste betref, is die vergadering dit eens dat evangeliste ‘n besoldiging moet ontvang waardeur hulle gevrywaar word van ‘belemmeringe en sorge op tydelike gebied’, maar wil ook waarsku teen die neiging by sommige Kerkrade van Moedergemeentes wat eenvoudig van tyd tot tyd die salarisse opskuif sonder dat die drakrag van die sendinggemeente in ag geneem word en sonder dat van die sendinggemeente verwag word om iets by te dra. Die vergadering wil baie sterk by alle gemeentes van Moeder- en Sendingkerke pleit dat die beginsel dat die Sendingkerk sy eie werkers besoldig, nagestreef en so ver as moontlik gehandhaaf word.” (Notule van die vergadering van ‘n Kommissie van die Stofberg-Gedenkskool i.s. verkorte opleiding van hulpwerkkragte, 5.12.1958, pp.3-4.)
Die getalle van Decoligny se evangelisteklas wissel deur die jare. Statistiek dui die volgende syfers aan: in 1946 is begin met vyf studente; in 1948 was die getal 12; die aantal wat tot aan die einde van 1955 die kursus voltooi het, was 37; die aantal evangelistestudente van die jaar 1956 was 20; aan die einde van 1975 het 172 evangeliste in totaal reeds gekwalifiseer. Toe die evangeliste-opleiding in 1982 gestaak is, het altesaam 201 evangelistestudente hul studies by Decoligny voltooi.
Blote getalle weerspieël egter nie die volle werklikheid nie. Die evangeliste, hul eggenotes en die kerklik-maatskaplike werksters wat by Decoligny opgelei is, het ‘n onvoorstelbare en waardevolle bydrae tot die uitbreiding en opbouing van die kerk onder die Xhosa-sprekendes gelewer. Die Teologiese Skool het voortgegaan met die opleiding van leraars totdat dit aan die einde van 1991 finaal gesluit is.
Die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat het vanaf 1996 ‘n Basiskursus in Teologie en Bediening aangebied waardeur evangeliste van die NG Kerk in Afrika in Noord-Kaapland (Phororo) en van die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat (wat nie by die VGK ingeskakel het nie) verdere opleiding kon ontvang om as leraars te kwalifiseer. Sowat 30 evangeliste het van hierdie geleentheid gebruik gemaak en verskeie is mettertyd as leraars georden.
Dosente betrokke by die Opleiding van Evangeliste by Decoligny:
- C. Oosthuysen: 1946-1947
- E. S. Smith: 1948-1951
- du Preez: 1952-1975
- H. Odendaal: 1958-1972
- L. Strydom 1958-1966
- C. C. Pauw: 1961-1966
- J. Bosch: 1967-1971
- J. Burden: 1967-1975
- H. Robinson: 1972-1976
- P. A. Kamfer: 1975-1991
- H. McDonald: 1976-1991
- L. Pretorius: 1976-1991
- N. van der Westhuizen: 1976-1991
- E. Ngxoxo: 1977-1983
- Buso: 1983-1991
Dosente Betrokke by die Opleiding van Evangeliste-vroue
- Harmse: 1950-1952
- Pretorius: 1953-1955
- Ina Joubert: 1956-1970
- Lena Joubert: 1961-1965
- Ina Dercksen: 1966-1972
- Elna Kotzé: 1972-1975
- Annette Retief: 1971-1972; 1977-1983