De Witt, Stephanus Sebastianus Lombard

 

Gebore

26 Junie 1951

OORLEDE

 11 Julie 2014

UNIVERSITEIT

BA, BTh

gelegitimeer

1976

ORDEN

1977

STANDPLASe

1977 Tweeling

1979 Elandsfontein (Dinwiddie)

1987 Zastron

 2001 Stutterheim

EMIRITEER

2006

Stephanus Sebastianus Lombard de Witt is op 26 Junie 1951 op Harrismith gebore. Sy ouers is Frederik Hendrik de Witt, ‘n bouer, en Catharina Maria Lambrecht, ‘n kleremaker. Paul begin sy skoolloopbaan in 1964 aan die Laerskool Harrismith en matrikuleer in 1968 aan die Hoërskool Harrismith. Reeds as jong seun ontvang hy die roeping om predikant te word, na ‘n, besonderse geestelike ervaring op die berg by Harrismith.

Na sy diensplig word Paul in 1970 ‘n student aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy aan die einde van 1972 ‘n BA-graad verwerf.

In 1973 word hy ‘n student by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy in 1975 ‘n BTh graad verwerf. Aan die einde van 1976 ontvang hy die lisensiaat in die Teologie en word as proponent gelegitimeer. Paul trou in sy studentejare (op 29 Desember 1973) met Maria Aletta Pepler. Uit die huwelik is daar twee seuns en ‘n dogter gebore.

Op 12 Januarie 1977 word prop SSL de Witt met handoplegging in die NG Gemeente Tweeling bevestig, waar hy en sy vrou hulle met oorgawe aan die gemeentebediening wy. Op 1 September 1980 word hy die leraar by die NG Gemeente Dinwiddie op Germiston, waar hy ‘n geseënde bediening beleef. Hierna kom daar ‘n roepstem na die NG Gemeente Zastron, waar hy op 16 Januarie 1987 bevestig word. Na tien jaar op Zastron, verlaat Paul die bediening na sy egskeiding.

Vier jaar later word hy as leraar in die NG Gemeente Stutterheim bevestig, waar hy tot 2007 werk. Hy tree uit die bediening en word ‘n sakeman op Hentiesbaai in Namibië.

Paul sterf op 11 Julie 2014 in ‘n tromp-op botsing. Ds. Clem Marais skryf so oor hom: “Die laaste week van sy lewe op aarde was beslis nie een van Paul de Witt van Hentiesbaai se hoogtepunte nie. Na ‘n onderonsie met die gereg oor die beweerde onwettige invoer van see-produkte, het daar ‘n mediastorm oor sy kop losgebars. Hy is in die hof skuldig bevind en hy het sy boete betaal. Maar die koerante se sensasie-lekkerkry oor die gebeure het deur die loop van die week onder andere geblyk uit die wyse waarop daar na hom verwys is “die kroeg-dominee” is hy gedoop. Dat die kroeg-gedeelte een klein onderdeel van ‘n uitgebreide onderneming was, het oënskynlik tot niemand deurgedring nie. As dienende ouderling was Paul deurlopend in ‘n oop gesprek met die Hentiesbaai-gemeente se kerkraad betrokke. Trouens, dit was hy wat die gesprek aangevra het. Hy het die begeerte gehad om die saak in die reine te bring.

“Op die ongelukstoneel was daar aanduidings dat sy voertuig eers links van die soutpad af is, waarna die stuurwiel oënskynlik te vinnig teruggepluk is. Dit het Paul laat beheer verloor en hom in die ander voertuig laat vasry.

“Sy laaste `gemeente’ was sy sakeonderneming. Hier by die `Skubbebar’ op Hentiesbaai het hy op ‘n unieke manier die geleentheid gehad om by mense uit te kom. En van hierdie geleenthede het hy gebruik gemaak. Daarvan getuig die vele emosionele getuienisse wat sedert sy dood na vore gekom het. Sy vrou, Petro, en hulle kinders het mooi herinneringe. Mag die tragiese laaste week van Paul se aardse lewe mettertyd vervaag in die lig van die oorweldigende positiewe getuienis oor sy lewe en werk.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).