De Witt, Andries Gustav

Ds. De Witt Andries

Gebore

17 Mrt. 1921

OORLEDE

13 Nov. 2004

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1948

ORDEN

1950

STANDPLASe

1949 Somerset-Wes (Hpr.)

1950 Merlindale (Hpr.)

1950 Kroonstad (Hpr.)

1950 Ladysmith

1959 Vanderbijlpark

1965 Klipvallei

EMIRITEER

Ds Andries De Witt (BA, BA-Hons) 17 Mrt. 1921 – 13 Nov. 2004

Andries Gustav de Witt is op 17 Maart 1921 in Parys gebore waar sy vader in die distrik by talle plaasskole onderwys gee. Dit is veral die wonderlike jare op Venterskroon wat ‘n diep indruk op die jong Andries maak. Die terrein met sy bekende Vredefortkoepel met sy pragtige natuurskoon, voëls en diere bly kosbare herinneringe. In die gemeenskap het sy vader nie net die rol as skoolhoof vervul nie, maar met die hulp en ondersteuning van sy vrou was die gemeenskapsleier ook sieketrooster, prokureur, leraar, maatskaplike werker, vredemaker en karweier. Andries se ouers was met vele talente en godsvrug deur die Hemelse Vader geseën, wat ‘n besondere huislike atmosfeer geskep het waar die jong Andries opgroei.

Na sy skoolopleiding in plaasskole soos op Venterskroon, matrikuleer Andries in 1938 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom, waar hy in Afrikaans uitblink en die begeerte om te skryf na vore tree. Reeds vroeg in sy lewe ervaar hy die roeping om predikant te word, ‘n besluit wat hy met deursettingsvermoë deurvoer. Andries studeer aan die PU vir CHO en behaal in die moeilike oorlogsjare die BA-graad. Sy professor in Grieks word geinterneer en hy is verplig om aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. Hierna loop die jong Andries se pad na Stellenbosch waar hy aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad studeer. Weens swak gesondheid moet hy in 1948 sy studie tydelik staak, maar hy herstel sodanig dat hy aan die einde van 1949 as proponent gelegitimeer word. In 1950 word hy hulpleraar in die NG Gemeentes Somerset-Wes met opdrag Gordonsbaai, Merlindale en Kroonstad.

Op 25 November 1950 word prop AG de Witt met handoplegging in die NG Gemeente Ladysmith (Natal) ontvang en bevestig. Die rede word gevoer deur ds GD Worst, wat ook vroeër die jaar die huweliksband verbind met mej Alet Hattingh. Die egpaar het ‘n aangenome seun wat in 1993 oorlede is. Die jare in die Natalse Kerk is besonder vrugbaar waar hy diep spore trap op Rings- en Sinodale verband. Andries speel ‘n groot rol in die stigting van die NG Sendingkerk in Natal en is op die eksamenkommissie van die Sending Instituut op Wellington. Op 14 November 1959 word hy bevestig as leraar op Vanderbijlpark waar hy help met die bou van ‘n nuwe kerkgebou en deel is van die groot uitdagings wat kenmerkend is van die snelgroeiende gebied.

Die naweek van 29 Januarie 1965 word ds en mev Andries de Witt die herderspaar van die NG Gemeente Klipvallei in die nabyheid van Vereeniging en Meyerton. Die egpaar se bediening van ses jaar word oorskadu deur die busongeluk by die spooroorgang van Highbury op 28 Januarie 1970. Die gemeente en hele streek is geruk deur die busramp toe 23 skoolkinders dood is en 16 ernstig beseer is, terwyl ‘n aantal kinders die busramp wonderbaarlik oorleef. Hieroor skryf mev Alet de Witt: “Ons was stom geslaan, maar die Here se genade was groot met die begrafnisreëlings en nasorg van bedroefdes. Die smart van gesinne wat ‘n kind verloor het, sommige twee kinders, is onuitwisbaar in ons gemoed gegraveer”. In hierdie donker tyd het ds Andries en Alet de Witt besonder baie vir die gemeente en gemeenskap beteken.

Op 5 Junie 1971 word ds Andries de Witt die leraar van die NG Gemeente Migdol op die Wes-Transvaalse platteland, waar hy die laaste tien jaar van sy bediening in die rustige en gevestigde boerdery omgewing die Here dien. Hy skryf hier en na sy aftrede verskeie stigtelike boekies, onder meer “Perspektiewe op die Psalms” en “Bly By My” (oor die Emmausgangers); Na sy aftrede op 29 Maart 1981, vestig die egpaar hulle op Parys, sy geboortedorp, waar hy 23 jaar lank woon en sy talente en gawes met almal deel, preek soms en geniet verskeie stokperdjies soos hengel, uitstappies in die natuur en voëlwaarneming. In die vroeë negentigerjare begin sy geheue agteruitgaan en Alzheimers neem die oorhand. Die laaste maande van sy lewe word hy in ‘n versorgingsoord opgeneem, waar hy skielik op 13 November 2004 sterf.

‘n Huldeblyk van die gemeente Migdol, het sy vrugbare bediening in vier gemeentes opgesom: “Ons onthou hom as ‘n persoon wat met sy persoonlike netheid en korrekte optrede respek afgedwing het. ‘n Leraar wat met sy groot liefde vir die Afrikaanse taal en diepgaande kennis van die Bybel, elke Sondag goed voorbereide preke gelewer het. Hy was vir ons ‘n vriend en vertroueling met wie jy probleme kon bespreek en verseker kon wees van wyse raad. Sy skerp waarnemingsvermoë en fyn sin vir humor was ‘n groot bate. Spore van toewyding, diensbaarheid, meelewing en liefde is agtergelaat en is steeds sigbaar en dien as voorbeeld”. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek ).