Gebore
1 Sept. 1906
OORLEDE
19 Aug. 1983
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1935
ORDEN
1937
STANDPLASE
Grootrivier (Hpr.)
1937 Keimoes (Hpr.)
1939 Otjiwarongo (Hpr.)
1940 Vanstadensrus
1946 Sabie
1949 Lydenburg
EMIRITEER
–
Ds JacobusIgnatiUS(Koos) De Wet (1 Sept. 1906-19 Aug. 1983) word onthou as ‘n begenadigde van die Here wat, sonder om sy liggaamskragte te spaar, sy Meester met ‘n toegewyde lewe gedien het. Hy is op Thaba Nchu gebore en lê op Dewetsdorp die skooleindeksamen af. Van 1928 af tot 1935 studeer hy eers aan die universiteit en toe aan die teologiese seminarie op Stellenbosch. In die tyd toe hy tot die bediening toetree, is beroepe skaars en eers op 2 Jan. 1937 word hy op Karos as hulpprediker in Grootrivier een van die “skema”-gemeentes aan die Oranje georden. Daarna dien hy ook nog as hulpprediker in Keimoes (1937) en Otjiwarongo (1939); voordat hy op 10 Febr. 1940 in sy eerste vaste gemeente, Vanstadensrusin die OVS, bevestig word. Vroeg 1946 gaan hy na Sabie in Oos-Transvaal en daarna in Februarie 1949 na die uitgestrekte Lydenburg waar hy, met sy gade aan sy sy, tot sy emeritaat op 28 Nov. 1971 vir byna 23 jaar diep spore trap. Deur sy hele bediening staan hy bekend as die jeugvriend wat op sy eie kenmerkende wyse die Woord aan die kinders kon bedien, terwyl hy ook ‘n intense belangstelling in onderwyssake getoon het. Sy prediking was Skrifgetrou en gebonde aan die Gereformeerde leer wat hy geken en liefgehad het. As rotsvaste, behoudende leier, het hy nie geskroom om sy standpunt te stel nie, maar steeds het hy dit oorredend gedoen en sonder om aanvallend te wees. In die gemeentelike arbeid het hy hom in die gewone huisbesoek, sowel as in sy besoekwerk by siekes en oues van dae, deur sy ywer en getrouheid onderskei. Die kerk het in hom ‘n voortreflike dienskneg gehad wat op rings- en sinodale vlak sy plek vol gestaan het. Sy deeglikheid en stiptheid as voorsitter van die Rings- kommissie en die Kommissie vir Finansies het almal se agting afgedwing. Op sinodevlak het hy hom as lid van die destydse Kommissie vir Openbare Sedelikheid en in die besonder as lid van die Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid onderskei. Weens sy voorliefde vir laasgenoemde diens was hy dan ook ‘n ywerige medewerker tot die oprigting van die tehuis vir bejaardes op Lydenburg. Met sy besondere humorsin en vertelvermoë was hy by menige geleentheid die middelpunt van die kring om hom. Na sy aftrede woon hy en sy eggenote eers op hul plaas in die distrik Lydenburg en toe op Magaliesburg, totdat hulle later hul intrek in die tehuis vir bejaardes op Luipaardsvlei neem waar hy sterf. (Jaarboek ).