De Vos, Gideon Jacobus

Ds. De Vos Gideon

Gebore

26 Nov. 1889

OORLEDE

14 Mei 1982

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1914

ORDEN

1915

STANDPLASE

1915 Marquard

1929 Vredefort

1937 Direkteur „Ons Kinderhuis”, Bloemfontein

EMIRITEER

1955

Ds Gideon Jacobs (Gielie) De Vos (26 Nov. 1889 – 14 Mei 1982) is op Olifantsberg in die distrik Worcester gebore. Einde 1914 gelegitimeer, word hy op 24 Apr. 1915 as “tweede” leraar van Marquard georden en bevestig. Omdat die broederstryd – die Gewapende Protes of Rebellie – van die vorige jaar nog vars in die geheue was, moes hy hier met besondere begrip en takt optree, maar juis in die omstandighede trap hy en sy bekwame gade in hul eerste gemeente diep spore. Hul antwoord op die droewige gebeure van die groot griepepidemie van 1918 – in drie weke se tyd was daar 50 sterfgevalle in hul gemeente van wie verreweg die meeste volwassenes en belydende lidmate was was die stigting van ‘n Bybelklasvereniging met takke dwarsdeur die gemeente. In die griepjaar begin die gemeente ook vir die oprigting van ‘n nuwe kerkgebou beplan. Augustus1926 lê hy die hoeksteen en Januarie 1928 volg die plegtige inwyding van die sierlike klipkerkgebou wat vandag nog die gemeente dien. Ook die orige jare van sy vrugbare bediening van ruim 40 jaar staan hy in die diens van sy Meester in die Vrystaatse Kerk, eers as leraar van Vredefort (Januarie 1929 – Julie 1937) en toe as direkteur van Ons Kinderhuis in Bloemfontein van Julie 1937 tot 1 April 1955 toe hy sy emeritaat aanvaar. Vyf-en-dertig jaar nadat hy in 1909 op Stellenbosch BA “met honneurs in Moderne Tale” verwerf het, lê hy ook die eksamen vir BA Sosiale Wetenskappe af. Na sy aftrede gaan woon hy en sy eggenote in Aandrusin Bloemfontein, waar hy in die plek van eerw L. A R du Plessis hospitaalleraar word. Hierdie werk doen hy 101/2 jaar lank, tot Oktober 1965, met vrug en seën. In 1968 neem hulle hul intrek in die Eestwood-tuiste vir bejaardes in Pretoria, maar toe hy sy gade later dieselfde jaar verloor, gaan woon hy by sy seun op Fochville. In die gemeente Losberg speel hy toe ‘n belangrike rol. In 1975 woon hy op 85-jarige leeftyd as die oudste afgevaardigde die Wes-Transvaalse sinodesitting by. Ook neem hy ‘n evangelisasie-spreekkamer waar en tot vier jaar voor sy heengaan in die ouderdom van 92 jaar op Fochville, sing hy nog in die kerkkoor en dien hy nog as ouderling. Toe hy al hoogbejaard was, verskyn daar uit sy pen ‘n paar werkies oor die Wederkoms waaruit sy sterk chiliastiese beskouings blyk. Tot op hoë leeftyd het hy ‘n onvergeetlike indruk gemaak op almal wat hom ontmoet het. Ds W P (Wim) de Vos van Riefontein-Noord is een van sy vier seuns. (Jaarboek 1983/260).