Gebore
14 Apr. 1895
OORLEDE
7 Des. 1980
UNIVERSITEIT
B.A. (Hon.)
gelegitimeer
1921
ORDEN
1921
STANDPLASE
Soedan-sending
1934 Steinkopf-Sending
1938 Garies
1944 Marchand
1950 Vaalharts
EMIRITEER
–
Ds Gabriel (Gawie) De Vos (14 Apr. 1895 7 Des. 1980) het uit die gesiene ou Worcesterse De Vosfamilie gestam. By Goudinistasie in daardie distrik gebore , ontvang hy sy hoërskoolopleiding aan die Seunskool op Worcester. Einde 1915 behaal hy die graad BA aan die ou Victoria-Kollege op Stellenbosch en daarna gee hy op George onderwys waar die bekende teoloog en Bybelvertaler, prof E P Groenewald, een van sy leerlinge is. In 1917 kry hy op Stellenbosch die BA (Hons) en die daaropvolgende vier jaar studeer hy aan die Kweekskool. Enkele weke n sy legitimasie, word hy 17 Des. 1921 op Worcester plegtig as sendeling vir die Soedan georden en kort daarna vertrek hy as een van ‘n klein geselskap Soedansendelinge na Engeland. Die ander sou daarvandaan na hul bestemming in Noord-Nigerië gaan, maar, soos baie voornemende sendelinge vroeër gedoen het, gaan hy eers na die Livingstone College in Londen om ‘n bietjie kennis van die medisyne op te doen. Die geledere van die vier stuks nuwe werkers wat Maart 1922 in die Soedan aangekom het, word later daardie jaar deur die koms van di Gawie de Vos en George Thom versterk. Eersgenoemde werk blykbaar eers saam met ds en mev W A Malherbe op die nuwe stasie Sevav in Tivland en na hul huwelik Oktober 1923 op Zaki Biam, word hy en sy bruid ook weer saam met die Malherbes daar geplaas. November 1927 gaan hulle en hul twee kinders na Kunav, wat kort tevore as die laaste stasie wat uit die pionierstyd dateer, aangelë is. Hier begin hulle in ‘n digbewoonde streek van Suid-Tivland die nuwe werkkring waar die Evangelie groot ingang vind. Kunav word dan ook mettertyd een van die vooruitstrewendste gemeentes. Verder kry ds De Vos in die omgewing die geleentheid om die siekes te help en deur middel van die apteek deure en harte vir ons sending en vir die Evangelie te open. As goeie taalkenner vertaal hy saam met eerw Erich Bam die Handelingeboek in Tiv en help hy met die hersiening van Lukas en Romeine. Ook nog na sy vertrek behou die Soedan in hom ‘n goeie vriend wat in kerklike kringe altyd vir die werk daar pleit. In 1934 beroep die Seildingkommissie hom na die gemeente Steinkopf, wat ons Sendingkerk kort tevore van die Rynse Sending oorgeneem het. Daarna bedien hy die moedergemeentes Garies (1938); Marchand (1944) en eindelik Vaalharts van 1950 af totdat hy 13 Jan. 1960 die tuig neerlê. In 1961 en 1962 help hy by die Teologiese Skool op Turfloop met die opleiding van evangeliste en leraars vir die NGKA en daarna help hy nog in minstens tien gemeentes, terwyl hy ook in Stellenbosch-Noord waar hy later woon, met voorbeeldige trou as ouderling dien. Hierdie goeie en getroue dienskneg van die Here het ‘n lang en vol werkprogram in die diens van sy Meester gehad en oral waar hy gewerk het, het hy diep spore getrap. Sy gade, wat hom 1970 vooruitgegaan het, was ‘n dogter van ds R van R Barry wat 40 jaar predikant van Calitzdorp was en hul oudste dogter is die eggenote van ds P R Smit (Niekerkshoop); Hy is in die geseënde ouderdom van 85 jaar in die Tygerberg-Hospitaal by Kaapstad oorlede. (Jaarboek 1982/255).