De Villiers, Theodore Cuyler

Ds. De Villiers Theodore

Gebore

26 Okt. 1893

OORLEDE

1 Jul. 1976

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1919

ORDEN

1923

STANDPLASE

1923 Stellenbosch

1927 Bulawayo

1938 Ottosdal

1951 Wespoort

1963 Umtali

EMIRITEER

1968

Dr. Theodore Cuyler De Villiers (26.10.1893 – 1.7.1976); bekende en geagte rustende leraar, sterf aan hartversaking op Venterspos terwyl hy daar waarneem. Hy is op Goudini (Rawsonville) gebore waar sy vader, ds IFA de Villiers, vir baie jare die gevierde skriba van die Kaapse Sinode, indertyd predikant was. Sy moeder was ‘n dogter van ds William Murray, jarelange leraar van Worcester en die stigter van die inrigting vir blindes en doofstommes aldaar. Ds De Villiers volg sy skoonvader op Worcester op en die seun gaan daar skool. In 1913 kry hy op Stellenbosch die BA graad en toe hou hy skool, totdat hy in 1916 Kweekskool toe gaan. In sy studietyd daar behaal hy die grade BD en MA en na sy legitimasie einde 1919 vertrek hy 1920 na Amsterdam waar hy aan die Vrye Universiteit sy studie met die verkryging van ‘n doktorsgraad in die teologie op ‘n proefskrif oor die sosiale roeping van die Kerk afrond. In Suid-Afrika terug, word hy 1923 eers hulpprediker en toe tweede predikant saam met die waardige ds DS Botha – op Stellenbosch. Daarna bedien hy Bulawayo (1927) waar hy tydens ‘n vakature van twee jaar ook na die hele Noord-Rhodesië (tans Zambia) moet omsien Ottosdal (1938) en Wespoort (1951); Na sy aftrede 1956 lewer hy in verskeie gemeentes hulpdiens en tree hy aanvanklik ook as arbeider van ons Kerk onder die alkoholiste van Pretoria op. In 1963 keer hy na ,die aktiewe bediening terug om tot November 1968 toe hy weer sy emeritaat aanvaar, leraar van Umtali te wees. As ywerige sendingvriende kan die pastoriepaar veral in Ottosdal op die gebied baie tot stand bring, terwyl hulle in Wespoort met inspanning arbei om die jong gemeente wat geldelik swaar trek, op die been te probeer bring. In die breër kerklike lewe staan hy sy plek vol en in ‘n groot aantal artikels veral oor maatskaplike vraagstukke laat hy hom ook met die pen nie onbetuig nie. In Rhodesië tree hy elf jaar as redakteur van die enigste Afrikaanse tydskrif, “Die Zambesi Ringsblad”, op. Ds RM de Villiers (emeritus) was een van sy jonger broers. (Jaarboek 1977/309).