Gebore
23 Aug. 1902
OORLEDE
22 Sept. 1985
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1928
ORDEN
1929
STANDPLASE
1929 Mamagalieskraal
1944 Kempton Park
1966 Residensia
EMIRITEER
29 Nov. 1970
Ds Robert Murray De Villiers (23 Aug. 1902 – 22 Sept. 1985); wat veral onthou word as leraar van Kempton Park wat hy 21 jaar lank met groot vrug en seën bedien het, was ‘n seun uit die pastorie van Worcester, waar sy vader, ds I F A de Villiers (vir die jare die gevierde skriba van die Kaapse Sinode); van 1900 tot sy aftrede in 1927 gestaan het. Sy moeder was ‘n dogter van ds William Murray van Worcester (1865 tot 1899); die stigter van die inrigting vir doofstommes en blindes aldaar. Daarby was een van sy broers dr T C de Villiers, wat in 1956 in Wespoort geëmeriteer het, maar in 1963 weer leraar van Umtali geword het. Nadat hy op Worcester gematrikuleer het, gaan hy Stellenbosch toe waar hy sy graad kry. Einde 1928 voltooi hy sy studie aan die Kweekskool en op 29 Jun. 1929 word hy georden en as eerste leraar bevestig van die gemeente Mamagalieskraal – later Dalunie genoem – wat ontstaan het toe die Mamagalieskraal-Sanddrifgemeenskap onder die Hartebeespoortdam van die gemeente Krokodilrivier afgestig is. Ns sy troue byna vier jaar later, arbei hy en sy eggenote met toewyding in die groot en uitgestrekte gemeente. In die jaar van hul huwelik word die kontroleur van die nedersetting se huis as pastorie aangekoop en in 1935 kan die gemeente ‘n mooi saal inwy. In 1944 word Sanddrif afgestig en juis in die tyd word ds De Villiers die eerste vaste leraar van die gemeente Kempton Park wat toe omtrent ‘n jaar oud is. Spoedig blyk dit dat hier ‘n snelle ontwikkeling aan die gang is en, in samewerking met Benoni-Noord word Kemptonpark-Oos vroeg 1949 afgestig. Nogtans verplig die groeiende lidmatetal die kerkraad nog in dieselfde jaar om tot die beroep van ‘n medeleraar te besluit. Binne enkele jare verdubbel die getalle weer en voordat ds De Villiers in 1965 sy demissie neem, stig ook Kemptonpark-Noord (1956) en -Suid (1962) af. ‘n Heuglike dag was dit vir die ou’ gemeente toe hy sy sierlike kerkgebou begin Oktober 1949 in gebruik kan neem. In 1956 het die stille, landelike dorpie op die grens van die Rand al meer tot ‘n belangrike stadsgemeente ontwikkel. Nadat hy sy demissie gekry het, doen ds De Villiers afloswerk in Ventersdorp en Johannesburg-Oos (Irenekerk); voordat hy die volgende jaar in die gemeente Residensia (later De Deur) naby Vereeniging bevestig word. Hier dien hy nog 4½ jaar lank totdat hy op 29 Nov. 1970 sy emeritaat aanvaar. As oudste afgevaardigde gemeenteleraar behartig hy die konstituering van die Suid-Transvaalse Sinode van 1968. Vir meer as 40 jaar het die nederige en beskeie leraar sy kragte en vermoëns in belang van die Koninkryk van God gegee en in die gemeente Suidoos-Pretoria waar hy en sy gade later gewoon het, was hy steeds ” ‘n voorbeeld van ‘n waardige dienskneg wat met toewyding die Here tot die einde gedien het”. (Jaarboek).