De Villiers, Jan Lodewyk

Ds. De Villiers Jan

Gebore

08 Mrt. 1922

OORLEDE

10 Mei 2009

UNIVERSITEIT

 Th.Dr., US

gelegitimeer

1946

ORDEN

1950

STANDPLASE

1950 Paarl

1956 Vandermerwe (Bonnievale)

1963 Hoogleraar aan die Teologiese Skool van die N.G. Sendingkerk (Bellville)

EMIRITEER

Prof Koekjan De Villiers (BA, MTh, Th Dr) (08 Mrt. 1922 – 10 Mei. 2009)

Jan Lodewyk De Villiers is op 8 Maart 1922 op Koffiefontein in die Wes-Vrystaat gebore, ook die heimat van die bekende skrywer Stephen (Etienne) 1e Roux wat in dieselfde jaar gebore is, en met wie hy ‘n lewenslange vriendskap gesluit het. Na Jan se skoolopleiding op Koffiefontein en ‘n naskoolse jaar in Bloemfontein, het hy na Stellenbosch vertrek om predikant te word. Hy het benewens die graad BA ook ‘n MA cum laude in die klassieke tale behaal. In tyd was hy ‘n inwoner van Dagbreek op Stellenbosch, waar hy die bynaam Koekjan gekry het, ‘n naam waarvan hy nie baie gehou het nie.

Van 1943 tot 1947 was hy ‘n student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch. Hieroor skryf prof Bernard Combrink: “As briljante student het die teologiese kurrikulum en lesings in die Kweekskool hom nie altyd voldoende uitgedaag en besig gehou nie. In so ‘n mate dat hy soms tydens die teologiese lesings koorstukke vir die Stellenbosse koorfees onder die eerwaarde professor se neusgesit en toonset het, totdat die professor wou weet of hy ook die lesing toonset.” In Matieland het hy in rugby, tennis en as koorleier met die Stellenbosse koorfees uitgeblink. Aan die einde van 1947 is hy as proponent gelegitimeer en hy het na die Vrije Universiteit te Amsterdam in Nederland vertrek, waar hy onder die bekende prof FW Grosheide gepromoveer het en as briljante student onthou word. Hy is getroud met Helene Oosthuysen, dogter van ds JJ Oosthuysen, ‘n bekende predikant van die NG Kerk en baanbrekersendeling van die sendingstasie Isemela in die Transkei. Uit die huwelik is vier kinders gebore. Met sy heengaan laat hy ‘n seun, dr Kosie de Villiers, en ‘n dogter, Linde Dietrick, agter. Daar is ook sewe kleinkinders vir prof Jan en Helene de Villiers gebore.

Jan het na Suid-Afrika teruggekeer en is op 24 November 1950 met handoplegging in die NG Strooidakkerk in die Paarl ontvang en bevestig. Hy was ‘n geliefde predikant wat deurleefde preke gelewer het. Op 28 April 1956 het hy leraar van die NG Gemeente Vandermerwe op Bonnievale geword, waar hy met sy minsame optrede en meelewing diep spore getrap het.

Na 13 jaar in die gemeentelike bediening het hy in 1963 ‘n beroep as hoogleraar na die teologiese skool van die NG Sendingkerk op Wellington aanvaar. In 1969 is hy aangestel aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, waar hy in 1975 professor in Nuwe Testament geword het en tot met sy aftrede in 1987 diep spore getrap het. As teoloog het hy werke gelewer oor die kindskap gedagte by Paulus, die loon konsep in die Nuwe Testament, en hy het veral bekendheid verwerf vir sy deeglike tweedelige kommentaar op Handelinge. In die Bybelvertalingskommissie was sy insigte en vertaling van Handelinge goud werd.

Prof Koekjan was sekretaris van die Ekumeniese Studie kommissie en het nou saamgewerk met NG predikante wat die Cottesloe-besluite onderskryf het. Dit het meegebring dat hy destyds veel kritiek en wrewel van die konserwatiewe groepering ontvang het wat die kerk teen Cottesloe laat draai het. Hieroor skryf prof Bemard Combrink: “Prof Jan het ‘n besondere liefde vir sy kerk gehad en dit uitgeleef as leraar in die bediening, maar ook in sy lojaliteit toe sy Skrif vertroue verset teen kerklike verdeeldheid en die onwil om voor die eise van die Woord te buig, dit vir hom en andere kerklik heel moeilik gemaak het en onder verdenking gebring het.”

Deur al die jare het hy verknog gebly aan Grieks en Latyn, en hy het hom na sy aftrede toegespits op die vertaling van werke in Afrikaans. Sy ensiklopediese kennis was legendaries en kort voor sy heengaan was hy steeds besig om die een of ander klassieke teks uit Grieks of Latyn te vertaal, of daar nou sprake was van publikasie of nie. Prof Anton van Niekerk skryf: “Hy was die beliggaming van die effens verstrooide professor: hande strelend oor sy langerige agteroorgekamde hare, ‘n oorrompelende erudisie wat in gesprek spring van die een onverwagte insig of anekdote na die volgende. Sy vernaamste nalatenskap aan die Afrikaanse kultuurgemeenskap is egter sy briljante vertaling, aangevul met uitvoerige kommentaar, van die Renaissance-humanis en kerkhervormer

DesideriusErasmusse Encomium Moriae (Tot lof van Dwaasheid); asook sy boek oor Erasmuswat in 2008 verskyn het.”

Prof Jan de Villiers was ‘n Stellenbosser in murg en been, daarom is dit gepas dat hy sy laaste jare in Azaleahof aan die agterkant van die NG Moederkerk op Stellenbosch vertoef het. Hier het hy tussen die oues van dae op kenmerkende en oorrompelende wyse musiek, vreugde, deernis en liefde in die lewe van ander gebring. Hy is op 10 Mei 2009 aan ‘n hartaanval oorlede en ‘n aangrypende dankdiens is deur prof Bernard Combrink in die NG Moederkerk op Stellenbosch gehou, terwyl ds Johan Symington ‘n treffende huldeblyk gelewer het. Met ‘n knop in die keel het die aanwesiges een van die kleurrykste en gewaardeerde karakters op kerklike en kulturele gebied gegroet. (Jaarboek ).