De Villiers, Dawid Willem

 

Gebore

30 Nov. 1919

OORLEDE

15 Mei. 2002

UNIVERSITEIT

 B.D., D.D., Th.Dr., US

gelegitimeer

1943

ORDEN

1944

STANDPLASE

1944 Wellington

1947 Mosselbaai

1953 Paarl

1960 Burgerspark

1966 Senior lektor, Kweekskool Stellenbosch

EMIRITEER

Prof David Willem De Villiers (BA, BD, DD, Th Dr, DVD silwer) 30 Nov. 1919 -15 Mei. 2002

David Willem de Villiers is op 30 November 1918 op Villiersdorp in die Boland gebore. Hy was die oudste van twee seuns. Sy moeder, Kate Basson, was ‘n sakevrou.

David was ‘n leerling aan die bekende Hoërskool De Villiers Graaff op Villiersdorp, waar die skoolhoof, mnr AM de Villiers, ‘n blywende stempel op sy lewe afgedruk het. Op 17-jarige leeftyd, tydens die 40-jarige feesviering van die CSV op Stellenbosch, het hy by ‘n erediens van dr JCG Kotze (sy latere kollega aan die Kweekskool); die roeping gekry om predikant te word. Nog twee ander latere kerkleiers, ds Willem du Toit (later leraar op Graaff-Reinet) en Tappies Moller (later redakteur van Die Kerkbode) is by dieselfde erediens tot die bediening geroep.

Na matriek het David in 1936 op Stellenbosch gestudeer, en het hy ‘n aktiewe rol in die CSV gespeel en in die uitvoerende komitee van die Studenteraad gedien. Hy was ook lid van die Ivy Angovestrykorkes en die boereorkes van oom Pietie le Roux. Op sportgebied was hy ‘n ywerige rugby- en hokkiespeler.

Aan die einde van 1939 het hy die BA-graad behaal en aan die Teologiese Seminarium begin studeer. In 1943 het hy die BD-graad voltooi en op 8 November 1943 is hy as proponent gelegitimeer. Hy het ‘n pos as reisende sekretaris van die CSV van die hand gewys en ‘n beroep na die NG Moedergemeente op Wellington aanvaar. Hy is op 22 April 1944 daar met handoplegging bevestig. Op 9 September 1944 is hy met Anna Swart van De Rust getroud, destyds ‘n onderwyseres aan die skool vir Dowes op Worcester.

Op Wellington was tradisie belangrik en Sondae moes hy by ds EJ du Toit se pastorie met pluiskuil en manel opdaag, waar hy en sy kollega met afgemete pas na die konsistorie gestap het. Op 19 Julie 1947 is hy in die NG Gemeente Mosselbaai bevestig, ‘n groot gemeente waar jaarliks nege dankfeesbasaars en nege sendingbasaars gehou is.

Op 20 November 1953 word ds David de Villiers leraar van die Strooidakkerk in die Paarl, waar hy diep spore trap en ‘n eerste en ‘n tweede doktorsgraad voltooi het. In hierdie eeue oue gemeente met sy Hugenote-wortels, was dr Jan de Villiers (later sy kollega op Stellenbosch) en ds Tobie de Clerq (later leraar op Stellenbosch) sy medeleraars. Dr De Villiers het help beslag gee aan ‘n nuwe jeugbeleid vir die kerk. In 1960 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Burgerspark in Pretoria aanvaar, waar hy woonstelblokke, hotelle en ‘n sentrum vir jongmense moes bedien.

In 1966 is dr David de Villiers, dr Johan Heyns en ds NJ Smith as senior lektore na die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch beroep. Hy was ‘n kollega van prof Kolie Kotze en na sy aftrede in 1970 word dr De Villiers professor en kom staan dr Bethel Muller die nuwe hoogleraar met onderskeiding by. Prof David preek byna elke Sondag elders, ten spyte van handevol na-graadse studente en ‘n stewige program by die Kweekskool.

In 1974 het hy ‘n ernstige hartaanval Pretoria gekry, maar wonderbaarlik herstel om met sy taak voort te gaan. Tien jaar later het hy afgetree as dekaan en professor. Maar prof De Villiers kon nie stilsit nie. Hy het sy brein- en troetelkind, die Buro vir Voortgesette Teologiese Opleiding, help stig en tot 1987 as eerste direkteur van Buvton gedien. Die Dekorasie vir Voortreflike Diens (silwer) is i it die jare tagtig deur die destydse staatspresident aan hom toegeken.

In die Strand waar hy en tant Anna afgetree het, was hy steeds diensbaar in die koninkryk. Hy was ouderling van die NG Gemeente Suider-Strand en betrokke by projekte in die nabygeleë plakkerskamp. Sy vrou is op 15 Augustus2001 oorlede en langs die Strooidakkerk in die Paarl begrawe. Die egpaar het drie seuns gehad: prof Etienne de Villiers van Pretoria, wat wyle prof Johan Heyns as professor aan die Fakulteit Teologie in Pretoria opgevolg het; Pierre, ‘n sakeman van die Strand en dr Dawid de Villiers, ‘n leraar van Pretoria.

Met die dood van prof David Willem de Villiers het die NG Kerk ‘n veelsydige, dinamiese en talentvolle kerkleier verloor, iemand met ‘n onuitblusbare liefde vir die Here. Hy het voluit geleef as predikant professor, prediker, skrywer en pastor en diep en duidelike spore in die harte en lewens van mense getrap. Hy het hom onderskei as kultuurman en historikus. 1n sy lewensuitkyk was dinge reg of verkeerd en hy het nie kompromieë geduld nie. Daarvoor het hy soms verguising verduur, maar is hy gerespekteer. Prof David was 43 jaar lank in die aktiewe bediening as leraar en dosent, en daarna vyftien jaar lank emeritusleraar. Hy was iemand wat tot die einde toe sy bynaam “Heilige David” gestand gedoen het deur onbuigsaam aan die kant van die Here JesusChristuste staan. Hy is op 15 Mei 2002 in sy woonstel in Benadehof oorlede. Hy is by sy vrou langs die Strooidakkerk begrawe.

In die harte van gemeentelede, kollegas en studente word prof David de Villiers onthou as ware vriend, raadgewer en begrypende pastor, iemand met hartlike meelewing wat altyd die lig deur donkerheid laat breek het.

Prof Dawid het op ‘n dag aan my geskryf: “As ‘n mens sukses in die lewe wil hê, moet jy God en sy genade ken; jou medemens meer ag as jouself; jou geleenthede ten volle gebruik; jou getuienis staaf in woord en daad. En jouself gee as ‘n offer in sy diens.”

(Dr Gerdrie van der Merwe, NG leraar van Kuruman.) (Jaarboek ).