De Villiers, Andre

Gebore

1941/07/24

OORLEDE

13 Jul 2013

UNIVERSITEIT

BA, MTh, US

gelegitimeer

1972

ORDEN

1973

STANDPLASE

Masjonaland (Triangle, stdpl Chiredzi)

1976 NGK Kraaifontein-Noord

EMIRITEER

2003

DS ANDRE DE VILLIERS (Diploma Landbou, BA, BTh, MTh) 24 Junie 1941 — 13 Julie 2013

Andre de Villiers is op 24 Julie 1941 in Bloemfontein gebore. Sy pa was Izak Stephanus de Villiers wat in die omgewing van Wolseley boer en sy ma Anna de Villiers.

Andre begin sy skoolopleiding in 1948 aan die Laerskool Wolseley en is van 1950 tot 1952 leerling aan die Laerskool Ceres. In 1959 matrikuleer hy aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr. In sy skooljare blink hy in atletiek en rugby uit.

Na skool is hy in 1960 en 1962 ‘n student aan die Landboukollege op Grootfontein naby Middelburg in die Groot-Karoo en behaal ‘n diploma in Landbou. In 1962 is hy ‘n student aan die SAP Kollege in Pretoria en boer van 1963 tot 1965 vir die sending in Masjonaland in die destydse Rhodesië. Hier ontvang hy die roeping om predikant te word en die Here berei ‘n pad voor tot op Stellenbosch.

Andre begin in 1966 met sy BA-graad op Stellenbosch, in die eeufeesjaar van die opvoedkundige inrigting in die Eikestad.

Andre trou op 16 Desember 1967 met Hildegardt van Rensburg van Riversdal. Uit die huwelik is vier kinders gebore: MarIize, Annarine, Stephanus en Shalati.

In 1968 word hy ‘n student aan die Fakulteit Teologie, behaal die BTh- en MTh-grade en word einde 1972 as proponent gelegitimeer. Sy meestersgraad in die Teologie handel oor: “Christendom en tradisionele religie by die Sjona”.

Op 11 Augustus 1971 word hy te Chiredzi met standplaas Triangle in Zimbabwe bevestig, waar hy werk tot hy ‘n beroep na die NG gemeente Kraaifontein-Noord aanvaar.

Hier word hy op 12 November 1976 ontvang en bevestig in ʼn gemeente en gemeenskap waar hy ʼn leeftyd woon en werk. Hy aanvaar op 9 Februarie 2003 sy emeritaat na ‘n leeftyd van diensbaarheid in Kraaifontein.

Na sy aftrede vestig die gesin hulle op Jongensfontein waar hulle ‘n dekade in die streek woon, tot met sy afsterwe op 13 Julie 2013. ‘n Verassingsdiens word op Vrydag, 19 Julie, op Jongensfontein gehou en ook op 24 Julie 2013 ‘n diens in die kerkgebou van Kraaifontein-Noord waar hy van 1976 tot 2003 die Woord as herder en leraar bedien het. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM.  (Jaarboek ).