De Villiers, Abraham Jacobus

 

Gebore

16 Nov. 1924

OORLEDE

28 Apr. 2002

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1950

ORDEN

1951

STANDPLASE

1951 Virginia

1958 Queenstown-Oos

1962 Riversdal-Wes

EMIRITEER

Ds Abraham JacobusDe Villiers (BA, MA Volkek, Dipl. Teol.) 16 Nov. 1924 – 28 Apr. 2002

Eps de Villiers is op 16 November 1924 te Barrydale gebore. Sy vader was ook Abraham Jacobusde Villiers, ‘n boer, en sy moeder was Cornelia Elizabeth von Molendorf. Hy het die plaasskool Tradouw (1930 tot 1938); die Sekondêre skool te Barrydale (1939 tot 1940) en die Hoër Jongenskool Paarl (1941 tot 1942) bygewoon. As skoolseun het hy leiding geneem in die CSV.

Van 1942 tot 1947 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en die BA-graad in 1945 behaal. Daarna het hy ingeskryf vir ‘n MA-graad en dit in 1947 met lof verwerf. Die tema van sy MA-verhandeling was: “Die Westerse kultuur en die Bakgatla (Mochudi, Botswana)”.

Eps het sy studies aan die Kweekskool voortgesit en in 1950 die Diploma in Teologie ontvang waarna hy gelegitimeer is. Tydens sy studiejare was hy sekretaris van die Kweekskoolkoor onder leiding van prof GC Cilliers en het hy toere gereël na onder andere die ingebruikneming van die Voortrekkermonument in Pretoria.

Op 29 September 1951 het hy in die huwelik getree met Ria (MAJ) Higgo. U hulle huwelik is vier kinders gebore: Abraham Jacobus, James, Hendrika Albertina en PetrusJohannes. In 1997 was daar reeds tien kleinkinders.

Ds De Villiers is in die nuutgestigte gemeente Virginia in die Vrystaat georden. Hy was die eerste leraar van hierdie gemeente en het gehelp om die pastorie en kerk daar te bou. Aangesien die gemeente weens die goudvelde vinnig uitgebrei het, moes hy vier kerkgebou en drie pastorieë beplan. Vir drie jaar lank het meer as twee honderd nuwe lidmate hulle per maand op Virginia gevestig. Hy het in hierdie tyd ook die oorstroming van die Mêrriespruitmyn in 1956 beleef. Daarna verloor die gemeente 600 lidmate kort na die afstigting van die Harmonie-gemeente.

Nadat hy sewe jaar in hierdie gemeente gedien het, is hy in Januarie 1958 in Queenstown-Oos bevestig. Vier jaar later het hy ‘n beroep na Riversdal-Wes aanvaar en vyf jaar later na Robertson. Na ses jaar in daardie gemeente is hy na Parow-Noord beroep waar hy in Augustus1973 bevestig is. In 1975 het die gemeente Parow-Panorama afgestig en het hy die eerste leraar van die gemeente geword. Weer moes hy die bou van die pastorie en kerksentrum (kerk, saal en kategeselokale) onderneem.

Ds De Villiers het in die Vrystaatse SKDB, die Wes-Kaapse Regskommissie, SKDB, SKLAS, die Sinodale Kommissie vir Rasseverhoudings en die Kommissie vir Hospitaalbearbeiding gedien. Hy het ‘n waardevolle bydrae in hierdie kommissies gelewer.

Toe hy in 1986 weens verswakte gesondheid moes aftree, het hulle in die Strand gaan woon. Hy moes later ‘n hartomleidingsoperasie ondergaan en ‘n pasaangeër vir sy hart kry. Hy is op 24 April 2002 in die woonstel oorlede waar hy en sy vrou by hulle dogter Erika gewoon het.

In ‘n huldeblyk oor hom staan daar onder andere: “Hy sou nie ‘n huldeblyk begeer het nie, want die belydenis van sy lewe kan gevind word in 1 Kor. 15:10: `Maar deur die genade van God, is ek wat ek is’. Vier dinge was kenmerkend van hom: die stille krag wat hy geput het uit die gemeenskap met God; ‘n diepe lewenswysheid gebore uit die omgang met die Godswoord; ‘n sprankelende liefde wat sy bron in die Heilige Gees gevind het en ‘n egte lewensblyheid vanweë sy hoop op die Here Jesus.

“Sy lewe was ‘n weerspieëling van die Gods aanraking wat hom baie jare gelede tot die bediening geroep het, ‘n bediening waarin hy die Here en sy kerk met oorgawe gedien het met ‘n ruimte van gees waarin nie alleen die plaaslike gemeente nie, maar die universele kerk van die Here en die Kon inkryk van God hom onvermoeid geboei het.

“Ons sal ds Eps onthou vir sy fyn humorsin wat altyd en selfs ten tye van sy siekte soos ‘n vrolike liggie deurgeskyn het. Ons sal hom onthou vir sy blymoedigheid op sy siekbed. Sy gesin sal hom onthou as iemand wat opreg in hulle belanggestel het, vir hulle omgegee het en hulle tot die einde toe liefgehad het. Hy het hulle lewens verryk met die glans van sy spesiale menswees. Ons almal wat hom geken het, moet erken: in hom het die beeld van Christusgestalte gekry. Waar hy ander mense se lewens gekruis het, het iets goeds gebeur. Sy lewe was ‘n goeie boodskap. Nou het die ou dinge verby gegaan; die nuwe het gekom.” (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 25 Jul. 2000 ingevul het, ‘n gesprek met sy eggenote en ‘n huldeblyk wat sy beskikbaar gestel het.) (Jaarboek ).