De Meyer, Christoffel Bernardus

Gebore

30 Okt. 1920

OORLEDE

6 Jan. 2005

UNIVERSITEIT

Sending Inst

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

STANDPLASE

1949 Newcastle/ Dundee/Glencoe/Dannhauser

1952 Aberdeen

1958 Warden

1964 Heilbron

EMIRITEER

Ds Stoffel De Meyer (BA, Lis Teologie) 30 Okt. 1920 – 6 Jan. 2005

Christoffel Bernardus de Meyer is op 30 Oktober 1920 in die distrik Carolina gebore. Sy vader was Stephanus Albertus de Meyer, ‘n kleinneef van sy moeder, haar naam was Cornelia Johanna Petronella Venter. Hulle voorsate is van die vroegste inwoners van Carolina, wat onder meer op Goede Hoop in die distrik Caro1ina boer. Stoffel ontvang sy eerste skoolopleiding op Carolina en matrikuleer in 1939 aan die Hoerskool Carolina, ‘n skrander en belowende leerling. Stoffel voel geroepe om predikant te word, maar dit was moeilike oorlogsjare en depressie met die gevolg dat sy ouers nie kon bekostig om hom finansieel te ondersteun nie.

In die tyd bied ds HDA du Toit, later professor in Teologie in Pretoria die herder en leraar op Carolina, aan om die jong seun geldelik te help. Die jong Stoffel besluit om eers self te gaan werk by die SA Spoorweë om ‘n eie neseier op te bou, hy vervoer meer as twee jaar lank goedere na en van Swaziland. In hierdie buurland ontvang hy ‘n roeping om voltyds sendingwerk te doen. Hy kry malaria en sy moeder waak twee weke lank by sy siekbed en hy herstel wonderbaarlik. In 1943 skryf hy in vir die BA (Admissie) met Zulu as een van sy hoofvakke. Intussen het ds HDA du Toit na Pretoria verhuis en verskaf aan hom gratis huisvesting. Iemand bied aan om sy volledige kursus te betaal met die een vereiste dat hy leraar in ‘n blanke gemeente moet word, maar hy swig nie voor die aanbod nie en is beslis om sendeling te word.

In 1946 word hy student aan die Sending Instituut op Wellington, waar hy einde 1948 as sendeling gelegitimeer word. Een van sy klasmaats ds Hannes Venter skryf oor hom: “Stoffel was finalejaar toe ek eerste jaar was op Wellington. Hy was ‘n rolmodel en sy fyn humorsin het my al die jare by gebly. Hy was ernstig oor die lewe, maar altyd met ‘n tintel daarin”. Na sy legitimasie ontvang hy drie beroepe: Carolina, Louwsburg en Newcastle (‘n kombinasie van vier gemeentes); As sendeling op Newcastle beleef hy vanaf begin 1949 tot in die winter van 1952 moeilike tye, maar ook veel vreugde om bedienaar van die Woord te wees en siele vir die Koninkryk te wen.

Hierna bedien ds Stoffel de Meyer die volgende gemeentes: Van begin 1952 tot einde 1957 is hy sendeling van die NG Sendingkerk op Aberdeen. In 1958 word hy sendeling van die NG Kerk in Afrika op Warden in die Noord-Oos Vrystaat, tot met sy vertrek in die begin van 1964 toe hy leraar van die NG Kerk in Afrika en Sendingkerk op Heilbron in die Vrystaat word. 1n die lente van 1971 word hy leraar van die NG Kerk in Afrika te Pokello en Katichong, met spesiale opdrag die kampong en hostel bediening en godsdiensonderrig in skole. Hy bied ook normaal klasse vir onderwysers in die swart skole aan waar hy uitstekende geestelike werk verrig. In die najaar van 1978 word hy leraar van die NG Kerk in Afrika te Glencoe/Dannhauser, waar hy werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Oktober 1985. Op Rings- en Sinodale gebied trap hy diep spore, hy is ook skriba van die Natalse Sinode van die NG Kerk in Afrika.

Hy trou op 28 April 1949 met Cecilia Jacoba (Sally) Burger op Kakamas, die begin van ‘n gelukkige verbintenis van 56 jaar. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: Cecile Joubert, ‘n onderwyseres van Davel. Bernard de Meyer, ‘n ambagsman op Alberton. Petro Coetzee, ‘n rustende maatskaplike werker van Alberton. Louise Stoop, hoof van ‘n Opleidingskollege op Harismith. Carel de Meyer, Industriele werker op Alberton. Na ds Stoffel se aftrede vestig die gesin hulle in 1985 op Alberton waar hy sy liefde vir tuinmaak en houtwerk uitleef in die lente van 2003 kom daar ‘n stroomversnelling op sy pad toe kanker by hom gediagnoseer is. Ds Stoffel de Meyer sterf op 6 Januarie 2005 en word op 11 Januarie 2005 vanuit die NG Kerk Alberton-Suid begrawe, ‘n troosdiens word deur ds Willem Strauss gelei.

Sy dogter Petro skryf oor sy siekte en laaste maande: “Hy verswak liggaamlik baie in die tyd maar sy verstand en gees was tot op die laaste helder en sterk. Hy gebruik die tyd om ons wat moet agterbly, te bemoedig en te begelei. Dit was een van sy sterk karakter eienskappe, ander se belange was altyd belangriker as sy eie. Ons het groot geword met die wete dat Pappa ‘n passie het vir die sending en dat die lewe vir hom Christus was. Sy hele lewe het op alle terreine vir ons as sy familie, maar ook vir vriende en vreemdelinge daarvan getuig”. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek ).