De Kock, Gideon Petrus

 

Gebore

30 Jul. 1960

OORLEDE

15 Jul. 1999

UNIVERSITEIT

BA, BD

gelegitimeer

ORDEN

STANDPLASE

Glenharvie

EMIRITEER

Deon de Kock se lewe het mooi en belowend begin, maar het onverklaarbaar tragies geëindig. Die worstelstryd wat in sy gemoed moes aangaan, kon niemand werklik besef nie.

Hy is op 30 Augustus1960 te Ixopo gebore en het grootgeword in Edleen by Kempton Park. Op skool was hy hoofseun en lid van die Junior Stadsraad. Alhoewel hy uiters begaafd en intellektueel baie sterk was, was hy altyd hoogs gespanne. As seun en ook op universiteit was hy uiters vaardig in verskeie sportsoorte, onder andere krieket, tennis, hokkie, pluimbal en veral atletiek.

Tydens sy diensplig het hy hom as kranige soldaat onderskei en selfs in die spesiale magte gedien. Nadat hy in ‘n skietongeluk in die voet gewond is, het hy besluit om predikant te word.

Hy het sy BA- en BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Aangesien hy ‘n gebore leier was, is hy op universiteit byna dadelik gekies as klasleier en as bestuurslid van Deo Gloria. Hy was ‘n goeie orator met ‘n analitiese brein. Hoewel formeel en gereserveerd, was Deon ‘n kind van die Here in die ware sin van die woord.

Hy het met die gospelsangeres Wanda van Heerden getrou en twee dogters, Melissa en Melinda, is vir hulle gebore. Hulle was huisouers van ‘n koshuis van die Trans-Oranje-Skool waar hulle diep in die kinders se harte ingekruip het en onskatbare werk gedoen het. Hy het ook in hierdie tyd pastorale werk in Boksburg gedoen.

Aan die einde van 1988 is hy gelegitimeer en op 24 Junie 1989 in sy eerste gemeente, Glenharvie aan die Wes-Rand, georden en bevestig. Hierdie gemeente was egter in daardie stadium reeds onder finansiële druk. Teen 1996 kon hulle nie meer ‘n predikant bekostig nie en Glenharvie het by Westonaria ingeskakel. Daar was egter nie ruimte vir nog ‘n leraar nie, en gevolglik is Deon losgemaak van die gemeente kragtens Art 13 van die Kerkorde.

Hy het vir talle predikantsposte aansoek gedoen en hoewel hy verskeie kere die kortlys gehaal het, is hy nie beroep nie. Hy was dus reeds twee jaar werkloos toe hy ‘n betrekking by CUM-boeke gekry het waar hy voortreflike diens gelewer het. Die maatskappy moes egter besnoei en volgens die reël van laaste in, eerste uit het hy weer sy werk verloor.

Hierna het Deon in ‘n erge depressie verval – ‘n depressie wat reeds begin het met die ongeluk van sy vriend, ds Buurman Botha van die Paarl in 1994. Sy pa se dood in Augustus1998 (byna presies ‘n jaar voor sy dood); het hom ook baie diep geraak. Die gesin het in finansiële nood verkeer, maar Deon was te trots om hulp te aanvaar. Hy het ingeskryf vir die graad MBA. Hulle het na Pierre van Ryneveldpark in Centurion getrek waar hy af en toe klein werkies gedoen het vir ‘n ekstra inkomste. Hy het ook in Maart daardie jaar ‘n nekoperasie ondergaan. Die depressie het onder hierdie omstandighede vererger en dit het druk op sy huwelik geplaas. Hy en Wanda is vroeg in 1999 geskei.

Op 15 Augustus 1999 het hy homself op ‘n verlate plek in sy motor vergas. ‘n Brief is by hom gevind waarin hy vergifnis vra en verskeie reëlings tref vir sy goed en vir sy begrafnis.

Hierdie man moes ‘n geweldige innerlike stryd gestry het. Dit het hom lewensmoeg gemaak. Hy wou egter nooit erken dat hy depressief is nie, maar het steeds oor sy toestand bly rasionaliseer. Sy vriend ,ds Louis Fourie, wat ook sy begrafnisdiens gelei het, het meermale saam met hom gebid, maar tog nooit gedink dat hy werklik sover sou gaan om sy eie lewe te neem nie.

Niemand het werklik besef dat Deon reeds die afgelope agt jaar in ‘n erger wordende psigologiese depressie verkeer het nie. Dit is so jammer dat die kerk nie hierdie tragiese situasie betyds kon monitor en amptelik hulp kon verleen nie. Van sinodale kant sal aandag gegee moet word aan die daarstelling van ‘n pastor vir die leraars van die kerk. Mag Deon se dood nuwe besinning hieroor bring en baie mense daartoe lei om versigtig en in liefde te oordeel.

Aan sy moeder, Wanda en die kinders,word krag toegebid in die tydperk van rou en aanvaarding.

• Die egpaar se dogter Melinda (gebore 13 Mei 1989) was net 11 jaar oud toe haar pa sy lewe geneem het. Ná haar ma se tweede huwelik het sy Melinda Bam geword. Sy is in 2011 as Mej. Suid-Afrika gekroon. In die Mej. Heelal 2012-kompetisie het sy onder die toptien geëindig.

– Dirk Viljoen, aan die hand van ‘n berig deur Neels Jackson en gesprekke met leraars soos di Gerrie Holtzhauzen, Louis Fourie en dr Jurie Schoeman. (Jaarboek ).