De Kock, Cornelius WIllem

Ds. De Kock Cornelius

Gebore

21 Des. 1909

OORLEDE

12 Jul. 1981

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1933

ORDEN

1934

STANDPLASE

Sendinggemeente Senekal

1937 Sendinggemeente Lady Grey

1946 Veldprediker, Bloemfontein

1961 deur Tvl. Sinode as predikant verklaar

1961 Voortrekkerhoogte

1962 Danskraal

1965 Ladysmith (Veldprediker S.A. Weermag)

1969 Eerste Vesting

1970 Emeritus 1972 Na sendingkerk: Eendekuil

EMIRITEER

1974

Ds Cornelis Willem De Kock (21 Des. 1909 – 12 Jul. 1981) was vir die oorgrote gedeelte van sy bediening veldprediker (later kapelaan) in die SA Weermag. Hy is op Lady Grey gebore waar hy ook, terwyl hy by sy grootouers van moederskant bly, sy vroeë skoolopleiding ontvang. Nadat hy op Indwe gematrikuleer het, bekwaam hy hom aan die destydse Sendinginstituut op Wellington vir sy toelating tot die bediening in die Sendingkerk einde 1933. Gedurende ‘n vakature bedien hy die moedergemeente Lady Grey vir enige maande, totdat hy na Senekal vertrek waar hy 20 Okt. 1934 as hulpprediker in die sendinggemeente georden en bevestig word. Daarna keer hy na Lady Grey terug om sy moedergemeente onder die heidene te arbei. Hierop volg sy aanstelling, vanaf Augustus1936, as eerste vaste sendeling van ons Kerk in Lady Grey. Hier werk hy onder die Bruinmense sowel as onder die Xhosas in aparte kerkgeboue, totdat hy Oktober 1941 ‘n oorlogstydse aanstelling as veldprediker kry. Hy vertrek na Noord-Afrika en oefen daar sy bediening aan ons troepe te velde en meermale onder krygsrumoer uit. Om gesondheidsredes is hy Augustus1942 in die Unie terug, waar hy in verskeie militêre kampe in Transvaal en in die Vrystaat diens doen. In Mei 1944 gaan hy na Italië waar hy tot die Lugmag toegevoeg word. Etlike maande na die beëindiging van vyandelikhede in Europa, kom hy vroeg 1946 tuis en nadat hy ‘n tydjie op Voortrekkerhoogte behulpsaam was, kry hy Mei daardie jaar sy aanstelling as veldprediker in die Staande Mag. Hierop volg sy verplasing na Potchefstroom, waar hy tot 1949 werk toe hy weer na Voortrekkerhoogte gaan. Vanaf ongeveer 1952 staan hy in Tempe by Bloemfontein, totdat hy 1957 nog ‘n keer na Voortrekkerhoogte vertrek. In April 1961 verleen die Transvaalse Sinode op versoek van die Kerkraad van Voortrekkerhoogte – wat as een van die beweegredes aanvoer dat hy sy roeping met besondere bekwaamheid en vrug vervul – aan hom predikantstatus. Met die aanname van ‘n beroep na Danskraal (Ladysmith) keer hy Mei 1962 na die burgerlike bediening terug, maar minder as drie jaar later tree hy as kapelaan in Ladysmith weer tot die Weermag toe. In 1969 gaan hy na die militêre gemeente Eerste Vesting (Potchefstroom); waar hy einde Junie die volgende jaar om gesondheidsredes die bediening neerlê. Hy herstel sodanige dat hy Augustus1972 leraar van die sendinggemeente Eendekuil word en daar sit hy sy bediening voort, totdat hy 2 Nov. 1974 finaal uittree. Dit verhinder hom egter nie om nog in ‘n aantal gemeentes vir korter of heel langer tye aflos- en hulpdiens te verrig nie. Die laaste van hierdie werkkringe was Orania in die gemeente Hopetown, waar hy 18 maande bly. Nadat hy en sy eggenote vroeër reeds op Stellenbosch gaan woon het, span hulle Julie 1979 daar uit. Hy dien daar in die moedergemeente as ouderling en daar breek die einde van die stryd ook vir hom heel onverwags aan. (Jaarboek 1982/254).