
Gebore
02 Okt. 1925
OORLEDE
31 Okt. 1997
UNIVERSITEIT
BA, MA, DPhil)
gelegitimeer
–
ORDEN
–
STANDPLASE
–
EMIRITEER
–
Met die dood van prof Mias de Klerk op 31 Oktober 1997, het ons ‘n besondere kerkman gegroet, iemand wat diep verweef in die groot tapisserie van teologiese opleiding in die Ned Geref Kerk gebly het. Mias de Klerk se reeds uitstaande kwaliteite is veredel met ‘n hart vir die evangelie. Hy was iemand met ‘n sterk Koninkryksvisie en respek vir die God van die Verbond. Prof De Klerk se intense liefde vir sy kerk, vaste oortuigings en lojaliteit aan die Gereformeerde belydenis, het van hom nie alleen ‘n unieke predikant op die preekstoel gemaak nie, maar ook iemand wat as professor, agter die kateder, ‘n vroom, blywende en eiesoortige stempel afgedruk het.
Hy is op 2 Oktober 1925, as een van ‘n tweeling, op Brandfort gebore. Hy het sy kinderjare op die plaas Rondawel in die distrik Brandfort deurgebring. Na sy matrikulasie in 1945 is hy na Potchefstroom waar hy die BA- (Admissie) graad in 1945 aan die PU vir CHO behaal het. Sy teologiese vorming het verdiep toe hy daarna aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch gaan studeer het en sy finalejaar aan die Teologiese Fakulteit (Afd B) van die Universiteit van Pretoria, voltooi het. Hy is aan die einde van 1949 gelegitimeer.
Sy eerste gemeente was Kensington in Port Elizabeth waar hy op 11 Februarie 1950 bevestig is. Hier het hy saam met die jong energieke medeleraar, ds Evert Kleynhans, gewerk. Hulle twee het later as eerste professore van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die OVS gedien. (Hulle het ook enkele maande na mekaar gesterf.) Daarvandaan het hy na die gemeentes Lindley (30 Augustus1952); Bultfontein-Oos (17 Oktober 1953); Tygerberg (1 Desember 1956); Parys (2 Mei 1959) en Rustenburg-Suid (4 Augustus1962) gegaan.
Op 15 Februarie 1967 is die verantwoordelike taak van Sekretaris vir Ampsbediening en Evangelisasie in die Vrystaatse Sinode op sy skouers gelê. Hy het ‘n heeltemal nuwe inhoud aan hierdie pos gegee. Hy het ook verder studeer en in 1967 verwerf hy die DPhil-graad in Sosiologie op Potchefstroom en in 1972 die DTh-graad op Stellenbosch. Op die breë kerklike terrein het hy diep spore op gemeentelike, rings- en sinodale vlak getrap.
Vir sommige het dit as ‘n verrassing gekom toe Mias de Klerk op 20 Februarie 1973 as professor in Praktiese Teologie by die Teologiese Fakulteit (Afd B) in Pretoria, diens aanvaar het. Hy het egter gou getoon dat hy ‘n akademikusvan formaat is. Hy het erkenning daarvoor ontvang toe hy op 17 Augustus1980 as professor en eerste dekaan van die nuutgestigte Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat aangewys is. Hier het hy inderdaad die fakkel van die Woord hoog gehou in sy geliefde Vrystaatse kerk. Tot met sy aftrede as dekaan, op 18 April 1988, het hierdie dienskneg van die Here met onbegrensde entoesiasme die saad van die Woord gesaai. Oor die lengte en breedte van ons mooi land is daar herders van die kudde wat besig is om deur prediking en pastoraat die besielde onderrig-taak van Mias de Klerk in toepassing te bring. Dit bly vir hulle ‘n voorreg om aan die voete van so ‘n man te kon gesit het en onder sy hand die geheimenisse van die gemeentebediening te kon leer ken, verstaan en liefkry.
Mias de Klerk was ‘n man uit een stuk, oortuig van sy roeping, wars aan tierlantyntjies, vroom in die beste sin van die woord en Gereformeerd in sy oortuigings.
Hy het ‘n lang pad in diens van sy Here en die NG Kerk wat hy liefgehad het, geloop. Hy het mooi hoogtepunte bereik. Ander hoogleraars en predikante het die klem laat val op allerhande vernuwings en nuwe aspekte van die teologie, maar hy het met sy hele hart onvermoeid en by herhaling getuig vir die Verbond van God, die Koninkryk van God en die evangelie-taak van die kerk. Hy was ‘n man wat groot respek gehad vir die Kerkorde en die Kerkreg en het binne hierdie vaste bane gebly.
Wat sy persoonlike lewe betref: hy trou op 26 November 1949 met Minnie Cloete van Vredefort en daar is drie seuns en drie dogters uit die huwelik gebore. Die preek by sy begrafnis is waargeneem deur sy skoonseun, dr Pieter van Jaarsveld van Heilbron-Suid. Op Hervormingsdag 1997 het hierdie geliefde eggenoot, vader, grootvader, leraar en professor die grens van tyd en ewigheid oorgestap en sy aardse tentwoning verruil vir die blywende hemelse woning by die troon van God. Hy word met heimwee gegroet deur die kerk as ‘ n besondere dienskneg van die Koning.- dr Gerdrie van der Merwe, aangevul deur Dirk Viljoen. (Jaarboek ).