Gebore
11 Des. 1935
OORLEDE
04 Jun. 2006
UNIVERSITEIT
BA, BTH 1966, BTh 1965, LisTeol 1966, US
gelegitimeer
1966
ORDEN
1967
STANDPLASE
1967 Gobabis-Suid
1976 Villiersdorp
1982 Pionierspark
EMIRITEER
31 Mei 1997
Abel Jacobus De Klerk is op 11 Desember 1935 op ‘n plaas in die distrik Kakamas, digby die Grootrivier aan die rand van Boesmanland gebore. Sy ouers is Christiaan Jacobus en Lenie de Klerk, boere wat in die sweet van hulle aangesig hulle brood verdien. Hy begin sy skoolopleiding in 1942 aan die Laerskool Perde-eiland op Marchand en is vanaf 1950 leerling aan die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas waar hy in 1953 matrikuleer. In 1954 begin hy werk by die Departement Volkswelsyn en Pensioene in die Paarl waar hy werk tot in 1960. In die tyd roep die Here hom vir die gemeentebediening en studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die BA-graad in 1962 behaal.
In 1963 word Cobus student aan die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch, waar hy in 1965 ‘n BTh-graad en in 1966 die Lisensiaat in Teologie behaal. Hy ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Gobabis-Suid waar hy op 4 Februarie 1967 met handoplegging ontvang en bevestig word. In die groot gemeente wat strek tot ver in Botswana doen hy baanbrekerswerk. Op die dorp is hy in 1971 betrokke met die bou van ‘n nuwe kerkgebou en in 1974 van ‘n pastorie. In die tyd was hy ook voorsitter van die Ring van Gobabis en lid van die Kerkkantoorkommissie. Hy beywer hom vir die daarstelling van ‘n tehuis vir bejaardes, deur die ou Rooms Katolieke-hospitaal te omvorm tot Huis Deon Louw. Hy het van spoed gehou en die afstand tussen twee dorpe het met hom as bestuurder gou gekrimp. Daar word baie stories oor hierdie besondere leraar vertel, een daarvan was ‘n onderonsie met ‘n slang. Op ‘n dag ry hy oor ‘n geelslang wat ‘n paar kilometer later sy verskyning in die voertuig langs sy been maak. Ds Cobus het glo sonder om ‘n oog te knip die slang agter die kop beetgekry en op ‘n manier die voertuig tot stilstand gebring. Buite het hy hom uit sy broek gewikkel met die geelslang en al, waarna die slang die hasepad gekies het.
Hy word op 2 April 1976 bevestig as nuwe leraar van die NG Gemeente Villiersdorp, waar hy tot 1982 goeie werk lewer en saam met die mense leef. Ds PC van Rooyen, sy destydse kollega skryf: “Hy het nie homself gesoek nie, maar die redding van sondaars en die verheerliking van sy Meester. Cobus de Klerk was ‘n herder wat die kudde geken, liefgehad en getrou versorg het. Van huis tot huis het hy sistematies goed beplande pastorale werk gedoen, en die hospitale waar ons lidmate opgeneem is tot in die Skiereiland gereeld besoek. Nuwe kategeselokale word op Villiersdorp ingewy, terwyl die gemeente in twee leraarswyke verdeel word. Hy was intens betrokke by Huis Vredelus, plaaslike skole en die Sendinggemeente. In al sy gemeentes speel hy as predikant ook ‘n rol in die onderskeie ringe en tree hy met waardigheid op en dwing respek af.
Op 30 Julie 1982 word hy bevestig in die NG Gemeente Pionierspark in Windhoek, waar hy en sy getroue en lojale lewensmaat diep spore trap tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Mei 1997. Ds Cobus de Klerk het hom tydens sy 30 jaar in die bediening onderskei as besondere leraar en kerkleier van formaat. In sy dienstyd in Pionierspark word dit ‘n makrogemeente en trap hy diep spore, in besonder op sinodale gebied waar hy die kerk in breë verband dien en van 1987 tot 1995 moderator van die Sinode van die NG Kerk in SWA/ Namibië was. Na sy aftrede vestig die egpaar hulle in die Strand, waar hy betrokke is by die NG Gemeente Strand-Noord en verantwoordelik is vir die Bybelstudie en baie ander sake. Ds Cobus tree gereeld op as prediker in verskeie omliggende gemeentes.
Hy trou op 8 September 1956 met Wilmien du Toit. Uit die huwelik is drie seuns gebore: Christiaan, Dawid en Jaques. Al drie die seuns is tans knap en vooruitstrewende boere op Hardap in die distrik Mariental.
Ds Cobus sterf op 4 Junie 2006 en ‘n roudiens word in die Strand deur ds Ig Schutte gehou, terwyl ds PC van Rooyen van Villiersdorp ‘n treffende huldeblyk lewer. Ds PC van Rooyen skryf: “Vir my was hy ‘n vriend, vir sy klein vroutjie ‘n steunpilaar, vir sy seuns ‘n maat en vir sy kleinkinders ‘n liefdevolle oupa.” (Jaarboek ).